Die jongste Onteieningswetsontwerp: Wat beteken dit nou eintlik vir ons?

Estimated reading time: 8 minutes

  • Onteiening is ’n geruime tyd al ‘n warm gesprekspunt in landboukringe en skep by die meeste produsente vrae oor of hulle enigsins in grond moet belê.
  • ’n Paar onteieningswetsontwerpe is al ter tafel gelê en weens verskeie redes weer onttrek, nog voordat dit in werking gestel kon word.
  • Die huidige wet maak voorsiening dat eienaarskap na die minister oorgedra word op die datum soos uiteengesit in die betrokke kennisgewing, mits ten minste 80% van die vergoeding al betaal is vir die onteiening, tesame met die uitstaande bedrag wat van daar af rente sal trek.
  • Die onteieningsprosedure, soos voorgestel in die wetsontwerp, is volgens die Instituut se verslag ten gunste van die staat, eerder as die grondeienaar. Byvoorbeeld, waar die eienaar besware teen die beplande onteiening indien moet dit oorweeg word, maar dit hoef nie beantwoord te word nie.
  • Daar moet dus, sover moontlik, beoog word om beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Indien wetgewing ingestel word wat kan lei tot ’n situasie waar eiendomsregte geaffekteer kan word, gaan dit verseker beleggings afskrik.

Onteiening is ’n geruime tyd al ‘n warm gesprekspunt in landboukringe en skep by die meeste produsente vrae oor of hulle enigsins in grond moet belê indien die eienaarskap daarvan moontlik in die toekoms bevraagteken kan word.

’n Paar onteieningswetsontwerpe is al ter tafel gelê en weens verskeie redes weer onttrek, nog voordat dit in werking gestel kon word. Teen einde September 2022 is die nuutste weergawe van die Onteieningswetsontwerp (B 23 – 2020) deur die nasionale vergadering aanvaar, met die doel om die bestaande Onteieningswet, 1975 (Wet 63 van 1975) te vervang.

Dit is volgens die regering nodig om ’n raamwerk daar te stel wat in lyn is met die Grondwet, 1996 (Wet 108 van 1996) om die prosesse en prosedures van onteiening deur die staat te lei. Dit wil voorts voorsiening maak vir gevalle waar onteiening sonder vergoeding in die openbare belang aanvaarbaar is. Die wetsontwerp is goedgekeur, ten spyte van teenkanting deur verskeie politieke partye en nie-regeringsorganisasies.

Politiekery

‘n Mens kan jouself nie blind staar teen die feit dat die onteieningsgesprek gewoonlik voor verkiesings meer aandag kry nie. Dit wil tans voorkom asof die regerende party se steun aan die krimp is en dat onteieningspraatjies derhalwe gebruik word om stemme te werf. Behalwe vir die regerende party se voorstel oor hoe onteiening behoort plaas te vind, is daar talle partye wat voel dat dit wat in die wetsontwerp voorgestel word, onsekerheid skep en boonop baie onduidelik is. Ander is weer van mening dat dit nie radikaal genoeg is nie en dat alle grond genasionaliseer moet word.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het in reaksie op die voorgestelde wetsontwerp, ’n lywige dokument ingedien om hul besware te lug. Ter agtergrond is genoem dat, ingevolge die bestaande Onteieningswet, die staat eiendom vir openbare doeleindes soos die bou van ’n pad mag onteien. Daar word ook melding gemaak van die feit dat vergoeding vir eiendom wat onteien word teen markwaarde moet geskied tesame met ’n bedrag wat kompenseer vir finansiële verliese weens onteiening. Dit sluit byvoorbeeld in die koste van verhuising en ‘n verlies aan inkomste weens die onteiende eiendom.

Die huidige wet maak ook daarvoor voorsiening dat eienaarskap na die minister oorgedra word op die datum soos uiteengesit in die betrokke kennisgewing, mits ten minste 80% van die vergoeding al betaal is vir die onteiening, tesame met die uitstaande bedrag wat van daar af rente sal trek. Volgens die SAIRR beperk hierdie maatreëls die opsies vir onteiening en verseker dat voldoende vergoeding in plek is, wat die misbruik van mag vir doeleindes van onteiening voorkom.

Verder meld die SAIRR-dokument ook dat die bestaande Onteieningswet deur die regerende party as ongrondwetlik beskou word, omdat dit nie onteiening vir openbare belang toelaat nie. Die faktore wat in die Grondwet gelys word as relevant vir vergoeding betaalbaar vir onteiening, is ook uit die voorgestelde wetsontwerp uitgelaat. Hierdie faktore sluit in:

  • Die huidige gebruik van die eiendom.
  • Die geskiedenis van hoe dit bekom is.
  • Tot watter mate staatsubsidies gebruik is om die eiendom te bekom of verbeterings aan te bring.
  • Die doel waarvoor die onteiening moet plaasvind.

Lees meer oor hoe om verblyfreg op landbougrond te staak hier.

Gevaarligte wat flikker

Terwyl die wetsontwerp onder goeie voorwendsels voorgehou word, is daar aspekte van die huidige weergawe wat belanghebbendes bekommerd het. Eerstens, waar melding gemaak word van onteiening sonder vergoeding, word vyf gevalle gelys waar dit van toepassing sal wees. Die gevalle waar geen vergoeding betaalbaar is, is wel nie uitdruklik tot die vyf gevalle beperk nie en mag in die toekoms tot ander gevalle uitgebrei word.

Nog ’n potensiële probleem is die omskrywing van onteiening wat volgens kenners tans slegs direkte onteiening definieer, terwyl indirekte onteiening en die vergoeding wat in so ’n situasie van toepassing is nie duidelik is nie. Indirekte onteiening verwys na ’n geval waar die eiendom nie na die staat oorgedra word (soos in die geval van direkte onteiening) nie, maar waar voogdyskap oor die grond deur die staat ingestel word.

Die Demokratiese Alliansie (DA) noem dat indien die vergoeding van toepassing op indirekte onteiening nié in die wetsontwerp ingesluit word nie, dit die moontlikheid skep dat grondeienaars hul eiendom kan verloor sonder om vergoeding te ontvang.

Die SAIRR het ook hul kommer oor hierdie aspek uitgespreek en genoem dat dit die moontlikheid skep dat die staat, deur middel van voogdyskap, die betaling van vergoeding kan vermy. Volgens die Instituut bestaan die risiko dat alle grond onder die bestuur van die staat geplaas kan word deur voogdyskap, soortgelyk aan wat met die mineraalregte gedoen is. Dit sal vir die staat die geleentheid skep om beheer van alle grond te bekom sonder om vergoeding daarvoor te betaal.

Huidige eienaars sal hulself in ’n posisie bevind waar hulle reg om op hul eie grond te boer, onderhewig gaan wees aan ministeriële regulasies. Dit kan beteken dat ’n huurooreenkoms met die staat aangegaan moet word.

Daarmee saam mag daar verdere vereistes wees waaraan voldoen moet word, soos bemagtigingsvereistes. Dit sal beteken dat eienaars van grond in voltydse huurders van die staat kan verander. Die grond wat indirek onteien kan word, is nie noodwendig beperk tot landbougrond nie en kan stedelike grond insluit. Indien alle grond onder die staat se voogdyskap geplaas word, kan dit alle titelaktes nutteloos laat.

Die SAIRR-dokument verwys na gevalle in sosialistiese en kommunistiese lande, asook ‘n paar ander lande waar bates soos grond, myne, banke en olie genasionaliseer of onteien is sonder voldoende vergoeding. Hierdie lande is nou van die armste lande ter wêreld. Hierteenoor is lande waarvan die regerings se inmenging beperk is en privaat eiendomsreg beskerm word, van die rykste ter wêreld.

Dit stop nie by grond nie

Soos reeds genoem, strek die siening oor eiendomsreg in die voorgestelde wetsontwerp wyer as net landbougrond en kan uiteindelik beteken dat huise, besigheidspersele en myne ook op hierdie wyse onteien kan word. Hiermee saam kan bates soos pensioene en aandele by die wetsontwerp ingesluit word as eiendom.

Persone buite die landbousektor wat tot dusver onder die indruk verkeer het dat hulle nie deur die wetsontwerp geraak word nie, begin ook toenemend kennis neem van die implikasies wat dit vir hulle eiendom mag inhou.

Die onteieningsprosedure, soos voorgestel in die wetsontwerp, is volgens die Instituut se verslag ten gunste van die staat, eerder as die grondeienaar. Byvoorbeeld, waar die eienaar besware teen die beplande onteiening indien moet dit oorweeg word, maar dit hoef nie beantwoord te word nie.

Nadat die aanvanklike stappe voltooi is, kan die eiendom binne ’n kort tydperk na die staat oorgedra word. Die vergoeding (indien wel) betaalbaar kan ook vertraag word. Eienaars mag die onteiening in die hof beveg, maar sal aanspreeklik gehou word vir sy/haar regskoste én die van die staat, sou die hof nie oortuig kan word dat die vergoeding onvoldoende is nie. Waar verbande in plek is, sal die verbande van die onteiende bate wegval op die dag van oordrag, terwyl die onteiende eienaar steeds aanspreeklik gehou sal word vir die uitstaande skuld ten spyte van die feit dat die bate aan die staat afgestaan is.

Impak van die wetsontwerp

Suid-Afrika bevind homself in ’n situasie waar die werkloosheidsyfer baie hoog is – van die hoogste ter wêreld. Die ekonomie sukkel steeds om voldoende van die impak van Covid te herstel en inflasie is steeds bo die Reserwebank se teikenband.

Ons sien ook dat infrastruktuur nie onderhou word of voldoende kapasiteit het nie. Staatsbeheerde instellings se prestasie is oor die algemeen substandaard.

Daar moet dus, sover moontlik, beoog word om beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Indien wetgewing ingestel word wat kan lei tot ’n situasie waar eiendomsregte geaffekteer kan word, gaan dit verseker beleggings afskrik (en doen in sommige gevalle reeds).

Bykomend hiertoe mag die volle ekonomiese impak van al die onteieningspraatjies sedert 2008 steeds ’n raaisel wees. Een daarvan is die waarskynlikheid dat landbouprodusente minder in vaste verbeterings en grond terugploeg. Dit laat ook die vraag ontstaan: Hoeveel minder werksgeleenthede bestaan vandag en hoeveel kleiner is die landbou se bydrae tot die BBP as gevolg hiervan?

Lees meer oor grondeise se impak op landbougrondtransaksies hier.

Ten slotte

Ten tyde van die skryf van die artikel was die wetsontwerp nog nie finaal deur die president afgeteken nie. Na afloop van die goedkeuring deur die nasionale raad is die wetsontwerp na die raad van provinsies verwys. Hierna is die publiek tot en met 6 Maart 2023 kans gegee om kommentaar te lewer op die wetsontwerp.

Die SAIRR hou vol dat beskerming van privaat eiendomsreg krities is vir ons land se vooruitgang, aangesien dit help met direkte beleggings, ekonomiese groei en die skep van nuwe werksgeleenthede. Privaat eiendomsreg vervul ’n sleutelrol in indiwidue se vooruitgang – dit skep die basis vir ekonomiese onafhanklikheid van die staat en daarmee saam, politieke vryheid.

Almal wat na ekonomiese onafhanklikheid streef, behoort dus die huidige weergawe van die wetsontwerp teen te staan. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr WA Lombard by lombardwa@ufs.ac.za.