Thursday, September 12, 2024

Só lyk ’n slagoskompetisie-wenner

Estimated reading time: 4 minutes

  • ‘n Slagoskompetisie is ‘n vertoonvenster vir kommersiële produsente en dit verg vernuf om onder die wenners gereken te word.
  • Die grootste suksesfaktore is die gehalte van die kalf, die voer wat gebruik word en die vetheidsgraad wat die kalf aan die hak behaal.
  • Dit is nie moontlik om die vetverspreiding onder die vel te sien tydens op-die-hoef-beoordeling nie, maar die bouvorm gee vir jou ’n baie goeie aanduiding hoe die karkas gaan lyk as hy aan die hak hang.
  • Vetverspreiding oor die agterkwart is baie belangrik omdat die duurste snitte hier voorkom.
  • Die vetverspreiding oor die karkas is uiters belangrik wanneer dit by slagoskompetisies kom. Daar is ’n verskil tussen ’n vet bees en ’n bespierde bees.

‘n Slagoskompetisie is ‘n vertoonvenster vir kommersiële produsente en dit verg vernuf om onder die wenners gereken te word. Lubbe Jacobs van Lubern Voere en ‘n bestuurslid van die SA Vetveebeoordelaarsvereniging (SAFJA), glo dit is maklik om ’n kalf te voer, maar alles moet reg verloop om daardie kalf op kompetisiedag as die wenner te laat uitstaan.

Goeie gehalte diere

Lubbe sê die grootste suksesfaktore is die gehalte van die kalf, die voer wat gebruik word en die vetheidsgraad wat die kalf aan die hak behaal. “Die gehalte van die kalf speel verreweg die grootste rol. ’n Swak kalf sal nooit goed gevoer kan word nie. Die kalwers wat goed presteer aan die hak is die kalwers wat vroeg al die beste bouvorm het.”

Lees meer oor die wenners.

Dit is nie moontlik om die vetverspreiding onder die vel te sien tydens op-die-hoef-beoordeling nie, maar die bouvorm gee vir jou ’n baie goeie aanduiding hoe die karkas gaan lyk as hy aan die hak hang. Lubbe sê om die regte bouvorm en goeie vetverspreiding aan die hak te behaal, moet die volgende aspekte reg wees:

Breedte

Die kalf moet goeie breedte in die borsvloer hê. Dit is gewoonlik ’n aanduiding dat die kalf goeie breedte regoor sy lyf sal hê. Die kalf moet goed gevul wees agter die blad. Daar is egter ’n ander kant van die munt. As die borsstuk te swaar vertoon kan dit ’n aanduiding wees van ’n oorvet bees met swak spierontwikkeling.

Van die ander aspekte waarna die beoordelaar sal oplet is die skouer wat breed moet vertoon met ’n egalige skouer/buik aanhegting.

Sprong van rib

Goeie sprong van rib is ’n vereiste. Dit gee aan die kalf goeie kapasiteit en verseker goeie bespiering op die rug. Lengte van lyf speel ’n belangrike rol, want hoe langer die lyf is, hoe meer duur snitte is daar vir die slagter beskikbaar.

Die beoordelaars let op fasette soos ’n goed-ontwikkelde oogspier wat van die skof tot by die heupe strek. Dit sluit duur snitte soos die T-been, filet en primarib in. Met ’n goed-ontwikkelde oogspier sal die lende sterk vertoon en ’n goeie heup-/lende-aanhegting tot gevolg hê.

Agterkwart

Vetverspreiding oor die agterkwart is baie belangrik omdat die duurste snitte hier voorkom. Volgens Lubbe is daar by die kalf se agterkwart verskillende punte waarop gelet moet word:

  • Die kalf moet ’n goeie lengte van heup tot sitbeen hê.
  • Die afstand tussen die sitbene moet wyd wees, want dit verseker dat die kalf goeie breedte in sy agterkwart het.
  • Hy moet goed gevul wees in sy binnedye en die beoordelaars kyk na goeie buitedye.
  • Die binne- en buitedye moet laag afkom.

Vetheid en gewig

Die vetverspreiding oor die karkas is uiters belangrik wanneer dit by slagoskompetisies kom. Daar is ’n verskil tussen ’n vet bees en ’n bespierde bees.

Vleis is spiere wat die bouvorm beïnvloed. ’n Bespierde bees is breër oor die buitedye as oor die toplyn (middelstuk) terwyl ’n vet bees geneig is om breër oor die middelstuk en nouer en platter oor die buitedye te wees. Beoordelaars moet let op die patroon van die vet wat op die karkas aangepak is, naamlik vanaf die skouers af ondertoe en agtertoe.

Behalwe dat die gewig van die kalf tussen 250 en 340kg moet wees, moet die vetheidsgraad ’n A2 of A3 wees. Lubbe beklemtoon dat goeie vetverspreiding oor die hele karkas moet voorkom.

Daar moet ook ’n goeie balans oor die hele karkas wees. “Dit beteken dat die drie dele van die karkas, naamlik die boud, rug en voorkwart goed aan mekaar geheg moet wees en nie uit drie los dele bestaan nie.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting oor kursusse wat SAFJA vir junior beoordelaars aanbied, kontak Lubbe Jacobs by 082 610 7491.

Must read

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde van gepasteuriseerde melk. In moreoggend se RSG Landbou beantwoord Maretha...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence

Estimated reading time: 4 minutes Anina Hunter of Epol Feeds was re-elected as chairperson of the Animal Feed Manufacturers Association (AFMA), while Michael Schmitz from Meadow Feeds was re-elected as vice-chairperson at the 77th AFMA...

RSG Landbou: 11 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Tyd raak min om in te skryf vir die 2024 LRF Veeskool wat vanaf 9 tot 11 Oktober by Aldam aangebied word. Die program is gefinaliseer en in vandag se...
Ruth Pringle het die Rural Knitting Project in die Oos-Kaap gestig en die Sybokhaarbemagtigingstrust gaan dit verder uitbrei na ’n brei-opleidingsprogram wat opleiding aan plaaswerkers in ses Oos-Kaapse dorpe sal verskaf.

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en speel tans ’n deurslaggewende rol in die ekonomiese vooruitgang van Suid-Afrika, veral in die landbousektor. Die Sybokhaarbemagtigingstrust se hoofdoelwit is...

Katoen-verwysingsprys: Week van 2 tot 6 September

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...