Estimated reading time: 3 minutes
Die Suid-Afrikaanse Vetveebeoordelaarsvereniging (SAFJA) spits hom vir twee dekades al daarop toe om, in samewerking met verskeie betrokkenes, die plaaslike beesbedryf te bevorder. Malcolm Moodie, voorsitter van SAFJA, sê hulle bly daarop gefokus om beesprodusente te ondersteun ten einde beter gehalte diere met korrekte bouvorm te produseer.
Die vereniging is 20 jaar gelede deur van die land se voorste senior beoordelaars gestig om jonger-generasie beoordelaars op te lei om beeste en skape op die hoef en by karkaskompetisies te beoordeel. Moodie sê die senior beoordelaars ontvang geen vergoeding nie, en lewer hierdie diens vir die liefde van die saak.
Kry die nuutste rooivleispryse.
Die vereniging is nasionaal aktief en het tans 15 senior beoordelaars en tussen tien en 12 beoordelaars wat opleiding ontvang. “Beoordelaars moet baie bekwaam wees en die totale beoordelingsproses in karkaskompetisies kan hanteer.” Moodie sê die vereniging se sukses was duidelik sigbaar in die topgehalte karkasse wat tydens die 2022 SAFJA nasionale karkas- en skoukampioenskap aangebied is.
Wenners troon uit
Die nasionale wenners wat by dié kompetisies uitgetroon het, is tydens die vereniging se gala-aand naby Kroonstad in die Vrystaat vereer. Die nasionale wenners het hul uiters goed van hul taak gekwyt met die nasionale enkelkampioenkarkas wat aan Freddie Scheepers Bonsmaras naby Tosca in Noordwes gegaan het. Scheepers het aan die Jakkalskop-skou deelgeneem en ‘n nasionale punt van 92 behaal.
Frans Seevinck van Buckridge Bonsmaras, wat aan die Leniesdeel-kompetisie deelgeneem het, was kort op sy hakke met 91,5 punte. Nick Williamson van Williamson Farm in Underberg en Dave Armitage van FCL Farming in Bergville, het onderskeidelik die tweede reserwekampioenkarkas (albei Beefmaster) opgelewer.
Die nasionale groepkampioenkarkas het ook aan Williamson behoort, terwyl die reserwe en tweede reserwe groepkampioenkarkas aan Seevinck se Buckridge Bonsmaras behoort het. Die Jakkalskop-vetveeskou het die eerbewys ontvang vir die beste skou-aanbieding, terwyl die Vryburg-abattoir as beste abattoir aangewys is.
Vind meer uit oor die onlangse Bonsmara SA-veiling.
‘n Behoorlike beoordelingsproses
Die beoordelingsproses vind in samewerking met abattoirs plaas. Beoordeling word aanvanklik self deur die abattoirs gedoen, waarna die res van die proses aan die vereniging oorgelaat word.
Daar word op die hoef beoordeel, maar die karkasbeoordeling is die belangrikste, omdat die vleis aan verbruikersvereistes moet voldoen. Die abattoirs en kompetisie-organiseerders speel ‘n waardevolle rol en daarom word ‘n skoupunt vir die beste kompetisie-aanbieding toegeken, terwyl die beste abattoir ook aangewys word.
Lees meer oor die onlangse Simbra-inligtingsdae.
Bouvorm en vetverspreiding
Gewig speel ‘n groot rol en word in berekening gebring deurdat ‘n teikengewig van byvoorbeeld 190kg en 340kg gestel word. Volpunte kan toegeken word aan ‘n dier wat daaraan voldoen. Vetverspreiding en bouvorm tel onderskeidelik 40 en 45%. Met bouvorm is die doel om ‘n beter vleis/been-verhouding te kry. Die ander 15% sluit aspekte soos balans van die karkas of meer egalige vetverspreiding in; dit is handig waar twee karkasse dieselfde punt ontvang het.
“Dis belangrik om die bouvorm van ‘n dier te verbeter, omdat dit beter uitslagpersentasies en vleis/been-verhoudings lewer.” Moodie sê ‘n karkas word beoordeel uit ‘n punt van vyf op grond van bouvorm en die gemiddeld van die punte wat toegeken is vir ‘n voorkwart, middelstuk en agterkwart. Dieselfde puntestelsel geld vir vetverspreiding en punte word afgetrek as daar ‘kaal kolle’ is. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting besoek SAFJA se Facebook-blad of kontak Malcolm Moodie by 083 228 6257 of moodiem68@gmail.com.