Prosopis-navorsing: Is daar ‘n biologiese oplossing?

Estimated reading time: 8 minutes

Wanneer gepraat word van die Suidwesdoring of Prosopisboom, gee talle produsente gewoonlik ’n diep sug, want dit is haas onmoontlik om hierdie indringer uit te roei. In die Noord-Kaap, waar dit in baie gebiede reeds oorgeneem het, word gereeld planne gemaak om dié bome uit te roei, maar min hiervan was al ooit ten volle suksesvol.

In die laat 1800’s is die boom uit suidelike state van die VSA aan die landboubedryf van Suid-Afrika bekendgestel as ’n wonderlike skaduboom wat maklik groei. Boonop is die peule uitstekende voeding vir vee, veral gedurende droogtes. Teen die middel van die vorige eeu het die boom eerder ’n indringer geword wat baie weiding en grondwater in beslag neem.

Biologiese beheer as oplossing

In die 1980’s het die Departement van Landbou, onder leiding van dr Kraai van Niekerk, toe die minister van landbou, planne begin beraam om die bome uit te roei. Hy vertel dat hy daardie tyd al gesê het ’n biologiese beheermetode moet gevind word om die probleem op te los.

“Om dit chemies te doen gaan 100 jaar vat, aangesien die pitte in die grond lê en jare dormant kan wees, totdat die regte reënjaar kom en jy ’n welige hergroei sal sien. Ons het begin om saadkewers te versprei wat die sade aanval. Dit het tot ’n mate gehelp om die verspreiding te verminder, maar dit was nie genoeg nie, want die Prosopis se saadproduksie is te goed. Die projek was nie so suksesvol nie, want die swaeltjies het boonop aan die kewers gesmul.”

Omdat die bome baie voordele ingehou het, is net drie tipes kewers wat die saad eet vrygelaat – die bruchids-, Chrysomelidae- en Bruchinae-kewers. Twee van hierdie spesies het gevestig geraak, maar met ’n beperkte impak. Dit is eers in 2014 besluit dat meer vernietigende kandidate wat enige deel van die Prosopis kan teiken, ondersoek moet word.

Mense het destyds nie besef dat talle ander potensiale biologiese beheerders soos insekte, swamme en virusse is die Prosopis in die VSA en Argentinië onder beheer gehou het nie. Ongelukkig kan hierdie biologiese beheerders nie eenvoudig na Suid-Afrika ingevoer word om Prosopis-bome onder beheer te kry nie; die risiko vir moontlike siektes en ander probleme is te groot.

Die probleem het intussen gegroei. Volgens navorser, dr Blair Cowie, het die Prosopis vandag reeds 6 tot 8 miljoen hektaar weiding oorgeneem, met gevolglike verminderde waterbeskikbaarheid asook weidingsgrond wat oorgeneem is. Die Prosopis beïnvloed biodiversiteit en belemmer ekosisteme.

Die voeding van die blaarbindmot se larwe veroorsaak skade aan die Prosopisboom. Hierdie motte word tans saam met die saadkewers gebruik om die Prosopisverspreiding biologies te beheer. (Foto: ARC-PHP)

Die waarde van Prosopis

Die Suid-Afrikaanse regering het sedert die middel 1990’s al meer as R1 miljard spandeer om hierdie indringer hok te slaan, maar sonder noemenswaardige sukses. Volgens Philip Ivey, ‘n navorser aan die Universiteit van Rhodes wat ook Prosopis-indringing en -beheer bestudeer, kan hierdie probleem nie deur ‘n enkele rolspeler of metode opgelos word nie. Daar is baie faktore wat veroorsaak dat produsente onwillig is om saam te werk, en met goeie rede.

Die saadkewer is al sedert die 1980’s gebruik om Prosopisbome te beheer. Dit was nie so ’n groot sukses soos wat daar aanvanklik gehoop is nie. Philip Ivey se navorsing het bevind dat hierdie motte tog ’n groot verskil gemaak het in die vertraging van die verspreiding van die bome, omdat hulle ’n gaatjie in die peule boor wat veroorsaak dat die saad nie ontkiem nie. (Foto: Philip Ivey 2018)

Hy verduidelik dat die Prosopis ’n goeie voerbron is, veral gedurende droogtes wat gereeld in ons land voorkom. Buiten hierdie voordeel wat Prosopis-bome bied, is dit steeds ’n indringer en veroorsaak water-uitdagings. Boonop het produsente nie geld om deurlopende ontbossing of beheer toe te pas nie. In die meeste gevalle is die per-hektaar waarde van ’n plaas in die Noord-Kaap is in elk geval minder as wat ontbossing sou kos. Dit is dus goedkoper om eerder ekstra grond te huur.

Die projek van die 1980’s was ’n goeie begin, want die probleem sou vandag baie groter gewees het indien die saadkewers nie destyds vrygelaat is nie, sê Ivey. Hulle het ’n groot impak op die Prosopis-probleem gehad, maar die boom se saadproduksie is so groot dat hulle ekstra hulp moes inkry.

Die blaarbindmot (Agnippe omphalopa) is in 2021 vir die eerste keer op plase losgelaat, onder meer in die Noord-Kaap. Hoewel die plaaseienaars nog anoniem wil bly, vertel Ivey dat hulle baie opgewonde is oor die sukses wat reeds met die motte bereik is. Dit is ’n klein mot wat in dele van Argentinië voorkom. Beide die volwassenes en larwes voed op die blare van die Prosopis, hoewel slegs die larwes se voeding en blaarbinding skade aan die boom veroorsaak. Die vraag is nou of biologiese beheer werklik die antwoord is.

Prof HO de Waal, ’n bekende voormalige navorser wat vir jare by die Universiteit van die Vrystaat gewerk het, sê hy was betrokke by die eerste pogings om die Prosopis biologies te beheer. “Die boom is ’n robuuste groeier wat eintlik geen natuurlike vyande het nie. Dit is aanvanklik geplant omdat dit ’n goeie voerboom is, maar die probleem met die Prosopis-peule as voer is dat die pitte baie hard is. In die meeste gevalle gaan dit reg deur die dier se spysvertering en die diere plant letterlik die bome op die plaas deur hul mis. Die saadkewers kan die saad in die mis vind en hul eiers hierop lê.”

Hy glo die beste manier om die Prosopis te beheer, is om die bome meganies of fisies uit te haal en voortdurend die hergroei te verwyder. Die boom kan wel waarde vir produsente inhou, omdat hulle die blare en jong takkies as voer kan gebruik. Indien die peule deur ’n hamermeul gesit word kan dit ook uitstekende voer bied, veral vir diere wat in ’n voerkraal staan. Die geheim lê daarin om die pitte só te beskadig dat dit nie weer sal ontkiem nie.

Die produsente in Namibië gebruik die Prosopis gereeld as ’n voerbron, maar dit moet baie goed beheer en bestuur word om te keer dat die boom nie verder versprei en ’n indringer-robleem word nie. Die hout kan ook as braaihout verkoop word en daarmee kan die eienaar ekstra fondse genereer om sy ontbossingsprojek te finansier.

Produsente moet saamwerk

Die bekende konsultant en weidingkundige, dr Louis du Pisani, het nie baie vertroue in die biologiese metodes om Prosopis te beheer nie. Die aanvanklike idee was dat die saadkewers op die bome moet parasiteer en help om verspreiding te voorkom, maar as net 10% van die saad versprei word, is dit al genoeg om ’n probleem te skep. “Die wetenskap en die geskiedenis het bewys dat ’n parasiet nie sy gasheer volkome uitroei nie, want as die gasheer doodgaan sal die parasiet ook vrek. Die natuur behou daardie balans. Die Prosopis-probleem sal dus altyd bestaan indien ons probeer om dit biologies te beheer.”

Talle plante is deur die loop van Suid-Afrika se geskiedenis van ander lande hierheen gebring en hou ‘n gevaar vir ons inheemse plante in, omdat daar nie plaaslik natuurlike vyande vir daardie plante is nie. Chemiese middels en meganika moet dus gebruik word om van die probleem ontslae te raak. “Boere moet skouer aan die wiel sit om die bome fisies met gif te spuit, uit te haal en daarna gereeld deur die plaas te stap en opslag-boompies uit te trek,” sê dr Du Pisani. Op die manier kan gesorg word dat die Prosopis onder beheer bly.

Ivey meen egter die Prosopis se natuurlike vyande rig meer skade aan die bome en bied ‘n geleentheid om die bome se digtheid en verspreiding te bekamp, totdat ons kan saamleef met die hoeveelheid bome wat oorbly. “As produsente in die Noord-Kaap saamwerk en deeglik beplan, kan ons weiding en grondwater herwin. Almal moet hande vat en elke moontlike metode gebruik om die probleem op te los. Die rooikrans (Acacia cyclops) is suksesvol in dele van die Suidwes-Kaap beheer deur middel van samewerking en verskeie beheermetodes.”

Dr van Niekerk vertel dat hy in die jare toe hy in die Kenhardt-omgewing geboer het, daardie dele waar die Prosopis-bome dig gegroei het, afgekamp het en die probleem vanaf buite hanteer het. Hy en sy span werkers het eerste buite-om die afgekampte-areas skoongemaak en dan stelselmatig na binne gewerk tot hy tevrede was dat die bome uitgeroei is.

Charl Saunderson, voormalige Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê altyd dit is nie ’n 100-meter wedloop om van die Prosopis ontslae te raak nie – dit is ’n 100-jaar wedloop. Daar is nie ’n maklike of vinnige manier om dit te doen nie.

Vir meer inligting, skakel dr Kraai van Niekerk by 083 261 6468, Philip Ivey by 082 443 0728, of prof HO de Waal by 083 645 8958. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must read

LandbouRadio: 9 Oktober 2026

Hierdie week se LandbouRadio word met trots aan jou gebring deur BKB, die betroubare tuiste van landbou.In Vrydag, 9 Oktober se LandbouRadio, kan jy...

Die Noordweste en sy mense

Estimated reading time: 5 minutesDie Boesmanland en Namakwaland in die Noordwes-Kaap is klipharde wêreld wat sy mense slyp. Die mense wat hier gebore en...

Excellence and achievement take centre stage at LRF gala

Estimated reading time: 8 minutesExcellence in breeding, genetic progress, and outstanding service to the livestock industry. These were the attributes that took centre stage...

Stockman School 2026: Breeding better beef, from DNA to dinner plate

The second session on day two of the 2026 LRF Stockman School kicked off with a presentation on breeding better beef. Charné Claassen, division...

Foetal programming to BREEDPLAN: A jampacked second day at Stockman School

The second day of the Livestock Registering Federation’s (LRF) Stockman School at Aldam in the Free State kicked off with a session sponsored by...