Uitspraak skep ernstige vrae oor administratiewe optrede, wetstoepassing en die Registrateur se hantering van telersgenootskappe.
Die Registrateur vir Diereverbetering het ’n gevoelige nederlaag in die Appèlhof gely nadat ’n meerderheid van die hof sy appèl teen ’n Hooggeregshofbevel verwerp het. Die hof het nie net die Registrateur se appèl met koste van die hand gewys nie, maar besonder sterk kritiek uitgespreek oor die wyse waarop die aansoek van die Chianina-beestelersgenootskap van Suid-Afrika oor die verloop van ’n aantal jare hanteer is.
Die saak het oor die registrasie van die Chianina-telersgenootskap ingevolge die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet 62 van 1998) gehandel. Die Hooggeregshof het in Februarie 2024 gelas dat die Registrateur die genootskap moet registreer. Die Registrateur het daarteen geappelleer, maar die uitspraak, gelewer op 9 September 2026 in saak 1031/2024 deur regters Nicholls, Unterhalter, Baartman en Norman JA, het die Registrateur se appèl van die hand gewys.
Die uitspraak is egter belangriker as bloot die vraag of een telersgenootskap geregistreer moet word. Dit raak die wyse waarop die Registrateur en sy kantoor sy diskresie uitoefen, hoe lank administratiewe besluite mag sloer, en die mate waarin ’n statutêre owerheid moet steun op feite wat werklik deur die beskikbare inligting ondersteun word.
’n Buitengewoon skerp uitspraak
Die meerderheid van die hof se bewoording in die uitspraak is buitengewoon sterk. In paragraaf 52 van die uitspraak beskryf die hof die saak as ’n manifestasie van “disgraceful administrative conduct” (losweg vertaal na ‘skandelike administratiewe optrede’), met ’n herhaalde versuim om op te tree en onverskilligheid teenoor tydsbeperkings en die gevolge daarvan vir die telersgenootskap.
Die uitspraak lui voorts dat daar wel tye is wanneer ’n regulerende liggaam só onbevoeg en onverskillig jeens die gevolge van sy optrede is, dat die howe verplig is om in te gryp. “This is such a case,” bevind die hof.
Die uitspraak sluit af dat voortdurende ontwyking, of selfs verdoeseling en vertragings nie die land dien nie; dit kom neer op ’n versuim om die pligte wat aan die owerheid opgedra is, uit te voer. Woorde soos “constant obfuscation” (voortslepende verdoeseling) en “abdication of duty” (afskuif van pligte) word gebruik. Dit is besonder sterk taal vir ’n Appèlhof.
Die Chianina-geskiedenis
Die agtergrond is belangrik. Chianina was reeds sedert 1998 op die INTERGIS-stelsel – die stelsel wat in gevolge die Diereverbeteringswet tans deur die Landbounavorsingsraad of LNR bedryf word – geregistreer. Die meerderheid van die hof wys daarop dat die ras se weglating uit die relevante regulasies later as ’n fout erken is. Die eerste aansoek om registrasie van die telersgenootskap is reeds in 2014 ingedien, met herhaalde verdere aansoeke in 2018 en 2019. Volgens die hof is geen besluit oor die aansoeke geneem nie.
Die Registrateur het onder meer aangevoer dat ’n impakstudie van die Chianina-ras nodig was voordat die telersgenootskap geregistreer kon word. Dit is waar die uitspraak ’n besonder belangrike onderskeid tref.
Twee dinge is nie dieselfde nie
Paragraaf 60 is waarskynlik een van die belangrikste gedeeltes van die hele uitspraak. Die hof sê die beroep op artikel 11 om aan te voer dat gespesialiseerde wetenskaplike kundigheid vir die registrasie van ’n telersgenootskap vereis word, is misplaas. Die rede is eenvoudig, maar van groot belang: Die vereistes vir die registrasie van ’n dier of ras en die vereistes vir die registrasie van ’n telersgenootskap is nie dieselfde nie.
Artikel 11 handel, wat die telersgenootskap betref, onder meer oor die bepalings wat in sy grondwet vervat moet wees. Dit sluit die bevordering, teling, aantekening of registrasie en genetiese verbetering van ’n bepaalde soort dier in, asook die bepaling en toepassing van rasstandaarde. Die hof se kritiek is dus dat die Registrateur die vereistes wat op die een proses betrekking het, op die ander toegepas het.
Dit is nie bloot ’n tegniese onderskeid nie. As ’n telersgenootskap reeds aan die statutêre vereistes vir registrasie voldoen, kan die Registrateur nie bloot ’n addisionele wetenskaplike of administratiewe vereiste skep omdat hy van mening is dat dit wenslik sou wees nie. Die Registrateur se bevoegdheid moet uit die wet spruit.
Korrektheid van feite
’n Verdere belangrike aspek van die uitspraak was die Registrateur se bewering oor die afwesigheid van die Chianina-telersgenootskap op INTERGIS. Hier het die getuienis wat in die Hooggeregshof gelewer het, ter sprake gekom.
Tydens die verrigtinge is Dr Japie van der Westhuizen, toe hoofbestuurder van SA Stamboek, gevra om aan te dui of Chianina op die INTERGIS-stelsel geregistreer was. Sy beëdigde verklaring het bevestig dat die ras reeds sedert 1998 op die stelsel geregistreer was en dat die toepaslike voorvoegsels op die stelsel bestaan het.
Die meerderheid van die Appèlhof het hierdie getuienis aanvaar en uitdruklik bevind dat die Registrateur se stelling oor die afwesigheid van Chianina op INTERGIS feitelik verkeerd was. Dit is ’n belangrike punt. Dit gaan nie bloot daaroor dat twee mense dieselfde feite verskillend geïnterpreteer het nie. Die hof het bevind dat ’n wesenlike feit waarop die Registrateur gesteun het, eenvoudig nie korrek was nie.
Twaalf jaar se administratiewe vertraging
Die hof het ook die argument verwerp dat die telersgenootskap eers sy interne appèlproses moes voltooi. Die rede was die buitengewone tydsverloop.
Waar ’n interne remedie oor talle jare nie tot ’n beslissing lei nie, kan dit volgens die hof nie noodwendig meer as ’n effektiewe remedie beskou word nie. Die hof wys daarop dat die Chianina-aangeleentheid oor ’n baie lang tydperk voortgesleep het en dat die administratiewe proses self grootliks vir die vertraging verantwoordelik was.
Dit is van belang vir elke telersgenootskap en organisasie wat met die Registrateur te doen kry. Administratiewe diskresie beteken nie onbeperkte diskresie nie. Dit beteken ook nie dat ’n besluit onbepaald uitgestel kan word nie.
’n Breër vraag vir die stoetbedryf
Gegewe die bogenoemde, is die Chianina-saak daarom nie bloot ’n geïsoleerde regsdispuut nie. Daar heers vir ‘n geruime tyd al kommer binne sekere van die Suid-Afrikaanse stoetbedryfsgeledere oor die wyse waarop sommige sake deur die Registrateur se kantoor hanteer word. Dit sluit klagtes oor lang vertragings, die konsekwentheid van besluite, die toepassing van rasstandaarde, die hantering van uitvoer- en registrasieverwante aangeleenthede en die toekenning van registrerende-owerheidstatus aan verskillende instansies in.
Daar is ook gevalle waar telers en telersgenootskappe die indruk gekry het dat soortgelyke sake nie altyd op dieselfde wyse hanteer word nie. Dit is belangrik om hier ’n onderskeid te tref: Die Appèlhof het nie hierdie ander sake beoordeel nie, en die Chianina-uitspraak kan nie as bewys aangevoer word dat enige spesifieke ander besluit onwettig of onbehoorlik was nie.
Die uitspraak maak dit egter wel redelik om ’n breër vraag te vra: Hoe behoort die diskresie van die Registrateur uitgeoefen te word sodat telersgenootskappe seker kan wees dat besluite konsekwent, deursigtig, tydig en op die Wet en verifieerbare feite gebaseer is? Dit is ’n vraag wat veel wyer as die Chianina-genootskap strek.
’n Reguleerder moet konsekwent wees
Die stoetbedryf funksioneer op grond van langtermyn besluite. ’n Telersgenootskap se rasstandaarde, genetiese programme, invoer van genetiese materiaal, uitvoer van diere en saad, aantekeningstelsels en registrasieprosesse kan nie jaar na jaar in ’n toestand van onsekerheid verkeer nie. Die Wet op Diereverbetering is juis bedoel om ’n raamwerk te skep waarbinne diereverbetering, identifikasie, aantekening en genetiese inligting op ’n wetenskaplik-gebaseerde en ordelike wyse bestuur kan word.
Daarom is dit belangrik dat die regulatoriese stelsel vertroue by die bedryfsrolspelers skep. Wanneer ’n hof vervolgens bevind dat ’n regulatoriese liggaam se optrede tot ‘skandelike administratiewe optrede’, ‘voortslepende verdoeseling’, vertraging en ’n afskuif van pligte gelei het, behoort die bedryf kennis te neem. Dit is nie taal wat algemeen in ’n hofuitspraak voorkom en ligtelik opgeneem moet word nie.
Die boodskap agter die uitspraak
Die uiteindelike boodskap van die uitspraak is na my mening ‘n eenvoudige een: ’n Reguleerder wat met statutêre bevoegdhede beklee is, soos die Registrateur en sy kantoor, moet binne die perke van daardie bevoegdhede optree. Besluite moet op die korrekte feite gebaseer wees. Administratiewe prosesse moet binne ’n redelike tyd afgehandel word. En waar so ’n regulator se optrede daartoe lei dat ’n interne remedie nie meer effektief is nie, kan die howe uiteindelik verplig wees om in te gryp.
Die Registrateur het die appèl met koste verloor. Die Hooggeregshof se bevel dat die Chianina-telersgenootskap geregistreer moet word, bly gevolglik staan. Vir die Chianina-telersgenootskap is dit ’n belangrike oorwinning. Vir die breër stoetbedryf is dit moontlik iets meer: ’n waarskuwing dat regulatoriese mag met verantwoordelikheid, akkuraatheid en aanspreeklikheid gepaardgaan. – Dr Japie van der Westhuizen




