Estimated reading time: 4 minutes
“Minister Parks Tau het op 16 Mei belowe om eers met ons te konsulteer voor enige kompromie met betrekking tot die hoenderbedryf aangegaan word – en nou moet ons in die media lees daaroor!”
Dít was Izaak Breitenbach, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, se ontstelde reaksie op die nuus dat Suid-Afrika se hoender-, vark- en bloubessiebedryf glo vandeesweek deur die regering op die altaar geplaas is om Amerika se president Donald Trump te paai.
Die eerste besending Amerikaanse hoender- en varkvleis is reeds geoormerk om binne die volgende twee weke na Suid-Afrika verskeep te word. Die besendings word uit die Amerikaanse state Georgia, Mississippi, Suid-Carolina, Noord-Carolina en Alabama verwag. Dit sal vanuit die hawens van New Orleans in Louisiana, Savanna in Georgia, en Norfolk in Virginia verskeep word.
Die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, en die minister van landbou, John Steenhuisen, het in ‘n gesamentlike persverklaring gesê dat hulle steeds met die Amerikaanse regering in gesprek is in ‘n poging om ‘n ooreenkoms te bereik om die 30% tariewe op alle Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika te verlaag.
Hoenderbedryf suig (weer) aan die agterspeen
Volgens die verklaring kan Amerikaanse pluimveemaatskappye na Suid-Afrika uitvoer onder ‘n voorwaardelike selfverbod- en selfopheffingstelsel. “Dit sal verseker dat die VSA die tariefkwota van 72 000 ton, waarop daar reeds in 2016 ooreengekom is, kan benut,” lui die persverklaring.
Dit is egter misleidend én onaanvaarbaar, want hierdie besluite wat geneem is het ‘n daadwerklike impak op die hoenderbedryf, sê Breitenbach. “Die toegewing dat Amerika hulself in terme van voëlgriep kan reguleer, beteken dat Amerika nou kan bepaal wanneer hulle na Suid-Afrika gaan begin uitvoer. Dit was die verantwoordelikheid van die Departement van Landbou, maar is nou aan die VSA oorhandig.”
Dít kom neer op ’n materiële konflik van belange, sê Breitenbach. “Alhoewel die departement ons nou wil oortuig dat ons nie nodig het om bekommerd te wees nie!”
Die 72 000t kwota vir hoenderinvoere na Suid-Afrika vorm deel van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede (Agoa)-ooreenkoms tussen die twee lande. “Die ooreenkoms stel dit duidelik dat dié vergunning sal verval indien Suid-Afrika enige voordele in terme van vrye toegang to Amerika vir uitvoere sou verloor.”
Minister Tau het egter nou verklaar dat dié kwota in stand gehou word tot 2026, sê Breitenbach, en noem dat die 30% tariewe juis beteken dat Suid-Afrika voordele verloor het.
“Ons het juis teenstortingstariewe teen Amerika in plek, omdat hulle die tweede grootste storter van hoender naas Brasilië was,” sê Breitenbach en voeg by dat dié maatreël in plek gesit is nadat die bedryf aan die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) kon bewys dat die bedryf materiële skade gelei het as gevolg van hierdie storting. “Nou word daardie teenstortings materieel genegeer in terme van hoender en die storting van 72 000t hoender word toegelaat!”
Breitenbach sê tydens die Agoa-onderhandelinge was die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf reeds die offerande sodat ander sektore kon groei. Hy kon dus nie verstaan waarom die bedryf nou weer benadeel moet word in die onderhandelinge nie.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê hoewel hy die bedryf se kommer verstaan, moet daar in gedagte gehou word dat hierdie kwota reeds in plek was en dat dit nie beteken dat grootskaalse storting vanuit die buiteland toegelaat gaan word nie. “Suid-Afrika voer tans sowat 300 000t hoenderprodukte per jaar in, wat ongeveer 20% van die mark uitmaak.”
Biosekuriteit onder skoot
Amerikaanse varkvleis sal ook voorts in Suid-Afrikaanse winkelrakke te koop wees, onderhewig aan sekere biosekuriteitsvereistes, aldus die regering. In April het die Withuis te velde getrek teen Suid-Afrika se verset om Amerikaanse varkvleis in die land toe te laat.
Dr Marlene Louw, die HUB van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie, Sappo, sê hierdie maatreëls het egter glad nie verander nie. “Suid-Afrika is oop vir varkvleis-invoere vanaf die buiteland. Die regering het bloot herbevestig dat enige produk aan ons maatreëls moet voldoen voor dit ingevoer sal word.”
Die Amerikaners het vroeër vanjaar aangevoer dat daar geen wetenskaplike grondslag was vir Suid-Afrika se diskriminasie teen hul varkvleis nie.
Dr Peter Evans, voormalige HUB van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie, Sappo, het egter op sy beurt genoem dat Suid-Afrika een van ‘n handjievol lande is wat vry is van die hoogs aansteeklike reproduktiewe en respiratoriese sindroom (PRRS) by varke. Daarom moet dié land hierdie status beskerm.
PRRS kos die Amerikaanse varkbedryf $1,2 miljard per jaar, volgens ‘n studie wat verlede jaar deur die Iowa-staatsuniversiteit bekendgestel is. – Susan Marais, Plaas Media

