Monday, December 15, 2025

Brusellose kan jou vleiskudde kelder

Estimated reading time: 4 minutes

  • Brusellose is ’n ernstige veesiekte waarvan die impak onderskat word.
  • Kwarantynmaatreëls word ingestel om ander produsente te beskerm.
  • By die verskalf van ’n besmette koei kruip die siekte in die limfknope van die baarmoeder en uier van die jong kalf weg.
  • Knap die plaas se biosekuriteit op deur gereeld grensdrade na te gaan en beeste vanaf besmette buurplase weg te hou.
  • Die eenmalige inenting van verse tussen die ouderdomme van vier en agt maande met Stam 19-entstof, is belangrik vir basiese kudde-immuniteit.

Brusellose is ’n ernstige veesiekte waarvan die impak onderskat word. Ongelukkig is die omvang van die siekte in Suid-Afrika nie werklik bekend nie, aangesien nie alle produsente hul kuddes hiervoor toets nie.

“Melkbeeste word getoets omdat dit ’n vereiste vir melklewering is. Daar is egter geen verpligting om vleiskuddes te toets nie, behalwe as ’n voorvereiste vir ’n stoetkudde,” sê dr Sewellyn Davey, voormalige staatsveearts van Malmesbury.

Hoewel uitstekende stelsels in plek is om die siekte uit te roei, soos die brusellose-skema van die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984), ent baie produsente steeds nie hul verskalwers nie. Gevalle word ook nie altyd aangemeld nie en onvoldoende mannekrag maak dit moeilik om die voorkoms, verspreiding en voorkoming daarvan te monitor.

Kwarantynprosedure

Kwarantynmaatreëls word ingestel om ander produsente te beskerm. ‘n Teler moet al sy/haar vroulike diere en bulle onder kwarantyn plaas en hulle moet elke ses tot agt weke getoets word. Die kudde bly onder bewegingsbeheer totdat dit drie aaneenlopende kere negatief toets, met ’n vierde negatiewe toets ses maande later. Indien die produsent die hoë-risiko verskalwers wil behou, word ’n vyfde negatiewe toets 12 maande later vereis.

“Diere kan na ’n abattoir geneem word met ’n Rooikruispermit vir slagdoeleindes, maar kan nie vir teeldoeleindes gebruik, geskuif of verkoop word nie. Die departement maak staat op produsente se integriteit om kwarantynmaatreëls toe te pas. Ongelukkig is daar onverantwoordelike produsente wat individuele beeste wat negatief getoets het, maar steeds in die inkubasietydperk is, aan medeprodusente verkoop. So word die siekte verder versprei.”

Siekteverspreiding

Daar is verskillende maniere waarop die siekte versprei. As dit eers in ’n kudde is, sê sy, kan dit tussen individuele diere versprei, veral via besmette nageboortes en geaborteerde fetusse. “Die siekte kan versprei deur die inname van weiding waar ’n besmette nageboorte geval het, waar ’n jakkals of hond die nageboorte rondsleep, en wanneer water oor ’n besmette area spoel. Vlieë is ’n meganiese draer van die bakterieë – hulle gaan sit op ’n besmette nageboorte en daarna op ’n bees se oë of slymvliese.”

By die verskalf van ’n besmette koei kruip die siekte in die limfknope van die baarmoeder en uier van die jong kalf weg; dus bou sy nie teenliggaampies op nie. Eers as die vers sowat vyf maande dragtig is en die baarmoeder en uier ’n suiker, eritritol, begin uitskei, sal die verskuilde brusellosebakterie begin vermeerder, die vers teenliggaampies maak en die bakterieë versprei.

“Om ’n vers voor vier tot vyf maande van dragtigheid te toets, is ’n mors van tyd en geld. Sy kan serologies negatief toets tot ná kalwing. Daarom behoort die vers eers sowat twee weke ná kalwing, en weer vier tot ses maande later, getoets te word om haar ware brusellosestatus te bepaal. Dit is veiliger om van alle verskalwers van besmette koeie ontslae te raak. Indien hulle gehou word, kan hulle oor twee jaar weer ’n uitbreking veroorsaak en moet die siekte van voor af uitgeroei word.”

Brusellose is boonop ’n soönose wat van diere na mense kan versprei. Daarom word besmette beeste laaste geslag om abattoirwerkers voldoende te beskerm. Beskermende drag en veilige prosedures is belangrik. Die abattoir en kraal waarin die beeste gestaan het, word na die tyd deeglik ontsmet. Die vleis van die beeste wat reg gehang is sodat die pH van die karkas voldoende kan verlaag, is egter veilig vir menslike gebruik.

Voorkoming

Die eenmalige inenting van verse tussen die ouderdomme van vier en agt maande met Stam 19-entstof, is belangrik vir basiese kudde-immuniteit. In hoë-risiko areas kan nie-dragtige verse en -koeie ’n herhalingsenting met RB51 ontvang om die kudde-immuniteit verder op te bou. Raadpleeg jou veearts hieroor.

“Knap die plaas se biosekuriteit op deur gereeld grensdrade na te gaan en beeste vanaf besmette buurplase weg te hou. Wees ook versigtig vir water wat vanaf besmette plase na jou plaas vloei. Sorg dat jou plaaswerkers nie by die buurplase gaan kuier in hul werksklere nie, omdat die bakterieë so na jou plaas kan versprei. Maak ook seker jou diere is behoorlik geïdentifiseer sodat jy dadelik kan sien as daar vreemde diere is.”

Diere moet gereeld getoets word. ’n Kudde met ’n konstante negatiewe brusellose-status is waardevol – dit is tot groot voordeel van die koper en jou eie winsgewendheid. Die kwarantynmaatreël vir ’n besmette kudde skrik baie produsente af. Met goeie samewerking kan ‘n kudde egter binne twee jaar skoon verklaar word en sal stoettelers normaal kan besigheid doen. Voorsorg is altyd beter (én goedkoper) as nasorg. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Sewellyn Davey by 083 642 0603.

Popular stories