Estimated reading time: 7 minutes
- Tydens die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (RPO Noordwes) se onlangse jaarkongres in Lichtenburg, is verskeie positiewe vooruitsigte en geleenthede uitgelig.
- Die voorsitter, Nico Kilian, is tydens die kongres herverkies.
- Kilian het produsente aangemoedig om huidige gunstige vleispryse en uitvoergeleenthede te benut, ondanks die BEK-uitdagings.
- Volgens landbou-ekonoom, prof Johan Willemse, vind die invoer van speenkalwers binne die raamwerk van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) plaas.
- Kobus Bester, die direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), het gepraat oor die noodsaaklikheid van ’n vleisgraderingstelsel.
Die afgelope jaar was uitdagend vir Suid-Afrikaanse produsente, maar tydens die Rooivleisprodusente-organisasie in Noordwes (RPO Noordwes) se onlangse jaarkongres in Lichtenburg, is verskeie positiewe vooruitsigte en geleenthede uitgelig.
Die voorsitter, Nico Kilian, is tydens die kongres herverkies. Hy het verwys na uitdagings soos droogte in die vorige seisoen tot vroeg in 2025, lae vleispryse, hoë rentekoerse, ’n stagnerende ekonomie, en stygende voerkoste. Dit het nie net verbruik laat afneem nie, maar produsente ook genoop om kostes te besnoei. Tog toon die mark tekens van herstel, met stygende slag- en speenkalfpryse, en goeie onlangse reënval.
Uitdagings op grondvlak

Kilian het die belang van grondvlakskakeling beklemtoon. Danie de Villiers is herverkies as visevoorsitter en was sedert Januarie vanjaar aktief by landbouverenigings, veilings, en regeringsinstellings betrokke in ’n poging om die RPO Noordwes se teenwoordigheid op grondvlak te versterk. Kilian het die belangrikheid van aktiewe deelname deur RPO-afgevaardigdes in landbouverenigings beklemtoon en gesê dit is belangrik om ’n sterk grondvlakvoetspoor te vestig.
Hy het produsente aangemoedig om siektebeheer ernstig op te neem. Siektes soos bek-en-klouseer (BEK), besmetlike misgeboorte (BM), trigomoniase en vibriose bly ’n bedreiging vir kuddegesondheid in die provinsie. Daarom moet produsente gereelde kudde- en bultoetse doen. Hoewel Noordwes sedert Maart 2024 as BEK-vry verklaar is, het Kilian gemaan teen ‘n verslapping van maartreëls nadat nuwe uitbrekings in Gauteng en Limpopo voorgekom het. Streng biosekuriteit, toegangsbeheer en goeie kommunikasie tussen bure bly noodsaaklik.
Hy het ook beklemtoon dat veediefstal steeds ’n groot kopseer is. In 2023/24 is sowat 13 000 beeste, 22 000 skape, en 13 000 bokke ter waarde van R139 miljoen in Suid-Afrika gesteel. Dit is boonop net die helfte van die werklike voorvalle wat by die polisie aangemeld is; die werklike syfers kan dus beduidend hoër wees. Die RPO se nuwe mobiele toepassing help met verslagdoening, maar formele aanmelding by die polisie bly noodsaaklik.
Benutting van geleenthede
Kilian het produsente aangemoedig om huidige gunstige vleispryse en uitvoergeleenthede te benut, ondanks die BEK-uitdagings. Hulle moet ook voordeel trek uit verbeterde ekonomiese toestande, dalende rentekoerse, en voerkoste, asook die uitbreiding van die BRICS-lande se ooreenkoms wat verdere geleenthede vir uitvoere en ondersteuning vir plaaslike speenkalfpryse bied.
Daarmee saam het invoere van speenkalwers vanuit Namibië en Botswana van Januarie tot April vanjaar afgeneem. Volgens landbou-ekonoom, prof Johan Willemse, vind die invoer van speenkalwers binne die raamwerk van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) plaas. Hierdie ooreenkoms behels vrye handel en beweging van goedere en produkte tussen vyf lande: Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Lesotho en Swaziland. Daar is geen beperking of tarief wat geld vir handel tussen hierdie lande nie.
Vir Suid-Afrika geld ’n 40% ad valorem-heffing vir invoere van produkte van ander lande, maar dit geld nie vir Suid-Afrika se vier SADU-vennote nie. Hy het benadruk dat hoewel persepsies bestaan dat Namibiese kalwers die plaaslike mark oorstroom, handel wederkerig is en dat hierdie vryehandelsooreenkoms sedert 1903 al in plek is.
Prof Willemse het benadruk dat invoere vanaf Namibië en Botswana altyd deel van die mark en van droogtesiklusse was. Volgens hom is sowat 400 000 speenkalwers in 2023 vanaf Namibië ingevoer, en meer as 357 000 verlede jaar. Dit was hoofsaaklik weens droogte-uitslagtings in Namibië wat met Suid-Afrika se droogteslagtings saamgeval en druk op die plaaslike mark geplaas het. Volgens Kilian het hierdie getal tussen Januarie en April vanjaar tot gemiddeld 8 000 per maand gedaal, teenoor 25 000 tot 30 000 per maand verlede jaar. Prof Willemse sê dit verteenwoordig ’n daling van tot 20% teenoor laasjaar se vlakke, en kan toegeskryf word aan goeie reën in albei lande wat slagtings laat afneem het.
Namibiese en plaaslike produsente is nou in ’n kuddeboufase. Volgens prof Willemse gaan hierdie ingevoerde speenkalwers deur die Suid-Afrikaanse voerkraalstelsel wat jaarliks sowat 2,8 miljoen slagbeeste lewer. Hoewel speenkalwers ’n klein persentasie daarvan uitmaak, speel dit steeds ’n rol. Voorheen het speenkalwers uit Namibië en Botswana 10 tot 12% van die land se totale volume slagtings gevorm; tans is dit net 3,3%. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse produsente.
Hy het verder uitgewys dat Namibië tans vier uitvoer-abattoirs oprig om vleis na Europa uit te voer, wat plaaslike druk sal verlig. Dit is belangrik om in ag te neem dat Suid-Afrika egter ook buite die SADU en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-handelsooreenkomste, sekere vleisprodukte vanuit Amerika invoer.
Rooivleisuitvoere die sleutel tot groei
Prof Willemse beskou rooivleisuitvoere as noodsaaklik, aangesien Suid-Afrika meer vleis produseer as wat plaaslike verbruikers in ’n verarmende mark kan bekostig. Premiepryse is dus nie intern haalbaar nie. Kilian het daarby aangesluit en gesê Suid-Afrika het in 2024 sowat 38 000 ton beesvleis uitgevoer. Dit is ongeveer 7% van totale produksie teenoor 4% in vorige jare. Hierdie groei toon vordering in terme van Visie 2030, wat daarop gemik is om teen 2030 sowat 20% van plaaslike produksie uit te voer. Skaapvleisuitvoere verlede jaar het 11 000 ton beloop, met bestemmings soos die Verenigde Arabiese Emirate, Jordanië, China, Koeweit en Mosambiek. Dit is ’n aanduiding van verdere groeipotensiaal.
Kilian het ook na vooruitsigte deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) verwys wat daarop dui dat plaaslike beesvleisverbruik teen 2034 met 17% sal groei, terwyl skaapvleisverbruik stabiel sal bly en varkvleisverbruik met 20% kan styg. Prof Willemse het beklemtoon dat uitvoere ’n belangrike buffer was, want sonder dit sou produsentepryse die afgelope drie jaar veel laer gewees het. Hy het die belang van ekonomiese en produksiesiklusse onderstreep, en gesê daar is redelike konsensus dat die Suid-Afrikaanse ekonomie tussen 1,5 en 2% kan groei, met rentekoerse wat waarskynlik gaan daal, en brandstofpryse wat laag gaan bly.
Die sewe-jaar beesvleispryssiklus, het hy gesê, is tans in ’n opwaartse fase. Na droogte-uitslagtings en swak pryse het A-graad beesvleis die afgelope vier maande R70/kg bereik, met speenkalwers wat teen R40 tot R42/kg verhandel. Prof Willemse het produsente aangemoedig om hierdie siklusse te verstaan en hul boerderystrategieë daarvolgens aan te pas.
Dieregesondheid: Noodsaaklike stelsels

Dr Danie Odendaal, die direkteur van Veearts Netwerk, het in sy aanbieding gesê die nasionale siekterapporteringstelsel wat hy 14 jaar gelede gevestig het, help veeartse met siektebeheer en probleemidentifisering. Hy het egter gewaarsku dat ’n nasionale operasionele sentrum dringend nodig is vir BEK-beheer, insluitend daaglikse opdaterings via die RPO se GIS-stelsel wat deur Rooivleisbedryfdienste (RMIS) van stapel gestuur is. Papierpermitte vir veevervoer is ook onvoldoende en ’n elektroniese stelsel is nodig vir akkurate data-insameling.
Hy het kommer uitgespreek oor die tekort aan entstof teen BEK, met Botswana se fabriek wat in daardie stadium gesluit was en beperkte voorrade wat beskikbaar was. Volgens parlementêre terugvoer sou plaaslike vervaardiging teen Junie vanjaar gereed wees. Entstof was reeds in beperkte hoeveelhede vervaardig, maar grootskaalse produksie was dringend nodig. Dr Odendaal het aanbeveel dat die RPO ’n tegniese span stuur om produksiegereedheid te bevestig. ’n Nasionale gebeurlikheidsplan vir uitbrekings van BEK is glo reeds opgestel, maar nog nie aan die bedryf bekendgestel nie. Opleiding en voorbereiding is krities.
Gradering vir volhoubaarheid
Kobus Bester, ‘n direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en rasdirekteur van Simbra SA, het gepraat oor die noodsaaklikheid van ’n vleisgraderingstelsel om Suid-Afrika se huidige vleisklassifikasiestelsel te vervang. In lyn met die kongrestema “Volhoubare rooivleisproduksie’’, het hy beklemtoon dat beesvleis ’n belangrike bydrae tot die ekonomie lewer en produsente help om hul bedrywighede te diversifiseer. Boonop dra beesboerdery, veral die hoefaksie van vee, by tot grondverbetering, ekologiese herstel en verhoogde opbrengspotensiaal.
Beesvleisproduksie het verlede jaar met 7,3% gestyg na 777 000 ton, ondanks minder slagtings; dit is ’n aanduiding van ‘n toename in karkasmassa. ’n Nuwe graderingstelsel kan verbruikersvertroue versterk deur ’n konsekwente eetervaring en premie-uitvoere moontlik te maak. Volgens Bester bly grondbenutting soos in ‘n tradisionele osproduksiestelsel, belangrik. Hy beklemtoon dat sukses van ’n funksionele naspeurbaarheidstelsel en produsente se toewyding aan volhoubare praktyke afhanklik is. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Nico Kilian by rponw@rpo.co.za of nmkilian@lantic.net.





