Estimated reading time: 6 minutes
Die oorgrote meerderheid veeboerderye in Suid-Afrika is relatief klein, met ’n jaarlikse bruto produksiewaarde van minder as R3 miljoen, en wat as eenmansake bedryf word. Hierdie boerderye sukkel dikwels om kop bo water te hou as gevolg van die ekonomie van skaal wat teen hulle inwerk.
Boerderykoste kan in twee groepe verdeel word: veranderlike koste en vaste koste. Veranderlike koste verander saam met die grootte (skaal) van die boerdery. ’n Tipiese voorbeeld in ’n veeboerdery is voerkoste. Soos wat die getal vee op die plaas meer of minder word, wissel die voerkoste dienooreenkomstig.
Vaste koste, daarenteen, verander min of glad nie saam met die skaal van die boerdery nie. Bankkoste bly byvoorbeeld onveranderd en die arbeidsrekening bly ook relatief vas oor ’n wye skaal van veegetalle.
Dus, hoe groter die boerdery, hoe makliker verhaal ’n mens (teoreties) die vaste-koste komponent van die boerdery met die inkomste wat uit die groter produksie gegenereer word. Hierdie eienskap van die ekonomie word na verwys as ‘ekonomie van skaal’ of ‘skaalvoordeel’.
Die waarde van die ekonomie van skaal is welbekend en soms kontroversieel, maar die bereiking daarvan is ’n ideaal wat die meeste veeboere ontwyk. Daar is selfs megaboere vir wie skaalvoordele buite bereik bly, alhoewel hulle genoegsame grond en ander natuurlike hulpbronne het. Dikwels lê die probleem by hul bestuurskapasiteit ten opsigte van behoorlike toesig, beheer en kontrole, wat dan aanleiding gee tot middelmatige doeltreffendheid, produktiwiteit, koste en wins per hektaar.
Lees meer oor Uitdagings vir die volgende generasie veeboere.
Hoe om skaalvoordele te benut
Die meeste veeboere is geneig om hul eie eenmansake uit te brei tot skaalvoordele verkry word. Ander modelle om die voordele van ekonomie van skaal te verkry, sluit strategiese vennootskappe en familieboerderye in.
Uitbreiding van eenmansake
Verskeie megaboere het aanvanklik hierdie roete gevolg. Daar is egter ’n klompie slaggate wanneer die veeboerdery uitgebrei word, ongeag die model.
Dit is altyd beter om eers die produktiwiteit en winsgewendheid van die bestaande bedryfstakke op die plaas te maksimaliseer, voordat die veeboerdery uitgebrei word. Dit maak nie sin om ’n ondoeltreffende boerdery uit te brei nie. Deur die bestaande veeboerdery eers maksimaal doeltreffend, produktief en winsgewend te kry voordat daar uitgebrei word, word die maksimum voordeel met skaal bewerkstellig.
Dit is moeilik om skaal te bewerkstellig indien die nuwe uitbreiding ver van die bestaande veeboerdery geleë is. In plaas daarvan dat bestaande toerusting en arbeid vir die nuwe boerdery gebruik kan word, moet dit dan gedupliseer word weens afstand. Dit plaas ook onnodige druk op die bestuurder se tyd, wat tot ondoeltreffendheid kan lei.
Soms kry ’n produsent swaar en verklein dan sy boerdery deur ’n stuk grond te verkoop of verhuur, maar kry dan daarna swaarder as voorheen. Dit is dikwels weens die skaal wat teen hom draai.
’n Ander baie algemene slaggat is om vinniger en groter uit te brei as wat die kontantvloei toelaat.
Vennootskappe
Vennootskappe, waar twee of meer onverwante produsente hul boerderye of gedeeltes daarvan saamsmelt, is veral gewild in Kanada. Suid-Afrika het ’n paar suksesvolle voorbeelde, soos Tweekop-boerdery tussen Heidelberg en Swellendam.
Die gebruik van tegnologie om die produktiwiteit van ’n veeboerdery te optimaliseer en sodoende wins te maksimeer, is ’n wêreldwye verskynsel. Suid-Afrikaanse veeboere het weinig ander keuses as om ook presisieboerdery in kombinasie met groter boerdery-eenhede te volg indien hulle winsgewend wil bly en die voordele van skaal wil realiseer. Strategiese vennootskappe skep juis ’n gunstige omgewing om hierdie doelwit te bereik.
Die tegnologie wat vir presisieboerdery benodig word, is weens die rand se swak ruilvoet meestal te duur en buite die bereik van kleiner boerderye. ’n Strategiese vennootskap kan hierdie uitdaging oorbrug en voordele bied.
Een van die vennote het dalk ’n groot voermenger en ’n goed-toegeruste voeraanleg, wat tot voordeel van al die vennote ingespan kan word. Een van die ander vennote het dalk besproeiingswater en goeie lande vir voerproduksie, maar kan dit nie finansieel op sy eie ontwikkel nie. Elke produsent kan unieke hulpbronne en vaardighede na so ’n saamboerdery bring, tot voordeel van almal.
Vennootskappe skakel ook duplisering van toerusting en arbeid tot ’n groot mate uit, en laat vennote toe om hul bates, talente, ervaring en tyd saam te gooi.
’n Vennootskap is egter baie soos ’n huwelik en word moeilik weer geskei. Die vennote moet op mekaar kan vertrou, goed oor die weg kom, bereid wees om soms toe te gee, en op ’n volwasse wyse kommunikeer. Daar is baie slaggate en hekkies om te oorkom, maar vir die regte kombinasie van vennote is hierdie model uiters voordelig.
Doen egter eers jou huiswerk en praat met produsente wat dit reeds suksesvol doen, asook diegene vir wie ’n vennootskap nie gewerk het nie. Kry die regte vennote bymekaar en stel ’n paneel van adviseurs aan om met die proses te help, insluitend ’n landboukundige, ’n rekenmeester wat belastingwetgewing ken, en ’n prokureur met ervaring in landbou en samewerkingsooreenkomste.
Een van die belangrikste voorwaardes van ’n vennootskap is ’n behoorlike samewerkingsooreenkoms tussen die partye. Van die aspekte wat in die ooreenkoms vervat moet word, is wie verantwoordelik is vir wat, wie wat moet voorsien, en wie wat uit die vennootskap moet kry.
Daar moet ook gestipuleer word wat in die geval van ’n vennoot se aftrede, ongeskiktheid of dood moet gebeur. Sal die vennootskap voortgaan? Hoe sal die voormalige vennoot se belang gewaardeer word? Hoe sal die voormalige vennoot (of die erfgename) uitbetaal word en hoe sal die uitbetaling gefinansier word?
Kyk saam na Plaas TV se insetsel oor die voorkoming van kouestres by vee hier.
Familieboerderye
Kinders wat deel van ’n familieboerdery vorm, moet die bestaande ‘winskoek’ vergroot, anders plaas hul toetrede druk op die boerdery se finansies. Daar moet dus vooraf bepaal word óf en hóé die nuwe toetreder/s ekstra waarde in die boerdery kan ontsluit.
Sommige produsente maak geen voorsiening vir aftrede nie. Hulle beskou die volgende generasie wat kom boer as hul aftreefonds. Dit plaas dikwels onnodige druk op daardie kinders, tot nadeel van die saamboerdery. Sommige opvolgers moet die boerdery huur teen bedrae wat meer is as wat die vorige geslag daaruit kon boer.
Kinders wat kom boer, bou dikwels (onbewustelik) aan hul pa en die res van die gesin (wat nie boer nie) se boedels. Byvoorbeeld, die familie se trust koop ’n plaas en die kind wat boer ‘betaal die lening af’ deur sy deelname aan die boerdery. Maar al sy sibbe is begunstigdes uit die trust en deel in die groei van die familie se boedel. Kinders wat kom boer moet dus toegelaat word om hul eie boedels binne die familieboerdery op te bou.
Daar is ook gevalle waar doeltreffende en winsgewende familieboerderye, wat skaalvoordele geniet, opgebreek word in twee of meer boerderye en daarna finansiële probleme ondervind. Dit gebeur gewoonlik wanneer familieboerderye verdeel word om elke gesin toe te laat om met hul eie boerdery voort te gaan. Die grootste nadeel is dat elke boerdery nou sy eie toerusting en arbeid benodig, waar dit in die verlede gedeel is. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant
Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.