Estimated reading time: 4 minutes
- Die volgende generasie veeboere sal oor die volgende 20 tot 30 jaar met verskeie ontwrigtings in die produksie- en bemarkingsomgewing te doen kry.
- Veeboere moet reeds beskikbare tegnologieë binne die konsep van presisieveeboerdery en tegnologiese innovasie toepas.
- Veeboere sal tegnologie moet aanwend met minimale gebruik van antibiotika en insekdoders, en wat aan etiese en volhoubaarheidstandaarde voldoen.
- Tegnologiese innovasie sal presisieveeboerdery na ‘slim veeboerdery’ neem.
- Die veeboer van môre sal op hoogte moet bly van al hierdie veranderings, vereistes en slim innovasies.
Die volgende generasie veeboere sal oor die volgende 20 tot 30 jaar met verskeie ontwrigtings in die produksie- en bemarkingsomgewing te doen kry. Die Suid-Afrikaanse bevolking groei met ongeveer een miljoen mense per jaar. Na raming sal ons bevolking teen 2050 op tussen 70 en 90 miljoen te staan kom. Die ooreenkomstige skatting vir die wêreldbevolking is 9,7 miljard, teenoor die huidige 7,3 miljard.
Daar word beraam dat die wêreldwye vraag na vleis en diereprodukte tussen 2014 en 2030 met minstens 40% sal toeneem (minstens 50% in Suid-Afrika). Dit bied ’n groot geleentheid vir veeboerdery, maar ook uitdagings. Die beskikbaarheid van landbougrond en water neem af en die vermeerdering van veegetalle is dus nie ’n opsie nie; eerder verhoogde produksie per hektaar. Dit kan slegs bereik word deur reeds beskikbare tegnologieë binne die konsep van presisieveeboerdery en tegnologiese innovasie toe te pas.
Klimaatsverandering
Dit is belangrik om kennis te neem van klimaatskommelings die afgelope 30 tot 40 jaar en wat verwag kan word. Twintig jaar gelede is voorspel dat Suid-Afrika in die huidige geslag se leeftyd warmer gaan word. Die nuutste metings wys ‘n gemiddelde jaarlikse temperatuurtoename van sowat 1°C, wat steeds toeneem.
Die voorspelling was dat die reënvalverspreiding en -hoeveelhede gaan verander. Aanvanklik is verwag dat die westelike gedeeltes van Suid-Afrika droër sal word en die ooste natter, met meer uiterste weerpatrone. Die nuutste waarnemings toon ’n marginale afname in die reënval in die herfsmaande oor die sentrale en noordoostelike dele van Suid-Afrika, maar die totale jaarlikse reënval het nie betekenisvol verander nie. Die gemiddelde getal reëndae per jaar oor die sentrale en noordoostelike gebiede het afgeneem. Die natter tydperke het natter geword en die droë tydperke droër.
Die koolstofdioksied (CO₂)-konsentrasie in die atmosfeer het sedert die laat 1800’s van sowat 275dpm na meer as 400dpm gestyg en styg steeds. Die styging in die CO₂-vlakke gee aanleiding tot ’n ongekende verdigting van houtagtige plante, veral in ons savanna- en kusgebiede.
Die verbruiker se eise
Verbruikers eis produkte wat veilig is vir menslike gesondheid, verantwoordelik geproduseer word en nie die omgewing en natuurlike hulpbronne benadeel nie. Die Europese Unie se Welfare Quality Project het ten doel om die status van dierewelsyn op plase te bepaal. Veeboere sal moet verseker dat hul produkte eties en volhoubaar geproduseer word.
Die herrie in die Angora-bedryf ’n jaar of drie gelede wat deur People for the Ethical Treatment of Animals (PETA) gedryf is, was net die begin van ’n aanval op onder andere wêreldwye skeerstandaarde. Chemiese of bioskeer is suksesvol in Australië ontwikkel, maar is duur en dus deur die bedryf afgekeur.
Veeboere sal tegnologie moet aanwend met minimale gebruik van antibiotika en insekdoders, en wat aan etiese en volhoubaarheidstandaarde voldoen. Die meeste van die tegnologieë is reeds beskikbaar en die uitdaging is om dit ekonomies volhoubaar te gebruik.
Fabriekgeproduseerde vleis
Sogenaamde in vitro-geproduseerde vleis sal op groot skaal in industriële laboratoriums vervaardig word. Hierdie tegnologie is in ’n gevorderde stadium van ontwikkeling, veral wat ‘maalvleis’ betref. Daar word beraam dat dit in 2024 al hoofstroom sal word en finansieel lewensvatbaar sal wees.
Volgens prof David McClement, ’n voedselwetenskaplike van die Universiteit van Massachusetts, het die plantgebaseerde voedselmark in die VSA in 2019 byna US$5 miljard beloop (’n groei in markwaarde van 29% sedert 2017). Die toekomstige produsent sal mededingend moet bly en veilige, smaaklike vleis aan die mark moet lewer. Dit sal goeie biosekuriteitstelsels en die nakoming van sekere etiese standaarde verg.
Tegnologiese innovasie
Tegnologiese innovasie sal presisieveeboerdery na ‘slim veeboerdery’ neem. Dit sluit onder meer vee-aantekening met draadlose tegnologie in. Hierdie tegnologie ontwikkel vinnig en sluit in GPS-halsbande, radiofrekwensie-identifikasiemerkers (RFID), elektroniese-identifikasiemerkers (EID), satellietmonitering, landbourobotte (Ag-Bots), slim kameras, en dies meer. Toekomstige RFID sal byvoorbeeld sensors bevat wat die asemhaling, hart, temperatuur en loopaktiwiteit van vee meet ten einde hul gesondheid te kan monitor.
Net so speel hommeltuie ‘n belangrike rol om vee te tel, individuele siek diere te behandel, roetine-inspeksies van waterpunte uit te voer, en dies meer. Hommeltuie sal mettertyd draadlose ontvangers op probleemdiere aanbring sodat hulle uit virtuele kampe gehou kan word. Virtuele veldbestuur sonder heinings is ‘n belangrike tegnologie wat reeds kommersieel beskikbaar is en diere binne ’n voorafbepaalde gebied (virtuele kamp) hou met behulp van draadlose elektroniese nekbande.
Die uitdaging sal wees om relevante en geloofwaardige inligting uit hierdie groot datastelle te onttrek – ‘n diens wat deels deur landboukonsultante gelewer sal word. Die verwagting is ook dat tersiêre instansies meestal van virtuele onderrig gebruik sal maak met praktiese sessies wat op videotegnologie berus.
Die veeboer van môre sal op hoogte moet bly van al hierdie veranderings, vereistes en slim innovasies as hy produktief, doeltreffend, suksesvol en volhoubaar wil boer. – Deur dr Louis du Pisani
Dr Louis du Pisani is ’n onafhanklike landboukonsultant wat konsultasie-dienste en opleiding aanbied in vee-, veld- en geldbestuur. Vir meer inligting, kontak hom by Ldupisani@gmail.com.