Tuesday, January 13, 2026

Koershou met Hennie

Met trots geborg deur Toyota SA.

Goedkoop invoere is ’n risiko vir ons plaaslike bedryf

Estimated reading time: 3 minutes

Die ding wat my die meeste van skaapboerdery aantrek, is dat ’n mens nie sommer aan die skape geheg raak nie. Soos my ouma altyd verduidelik het, skape is soos tieners – daar kom ’n dag wat jy hulle wil doodmaak.

Dit is waarom skaapslag vir my maar dieselfde is as om ’n hoender te slag. Die bonus is dat jy nie vere uitpluk nie, maar afval kry. En dis soos nonsens praat – voor jy jou oë uitvee, het dit tot ’n partytjie gelei.

Ons het so ’n partytjie met strafdoppe by ons plaaslike tydrenklub se prysuitdeling gehou. Ons plaasbestuurder, Mbali, ’n regte egte petrolkop-Zoeloeprinses, is die klub se enigste vrouejaer. Sy en haar duikklopperneef jaag met ’n agterwiel-aangedrewe Conquest, en te oordeel aan die trofeë op haar lessenaar ry sy aansienlik vinniger as wat versigtige ekke met my Clubman-klas Hilux ry.  

Lees meer oor wees lief vir jou motor.

Die tonge raak los

Om die braaivleisvuur (want skaapafval val nie in elkeen se smaak nie) is baie gepraat oor hoe Toyota ‘n terugkeer maak na F1-wedrenne, nadat die maatskappy aangekondig het dat hy met die Haas F1-span gaan saamspan om nuwe F1-jaers te ontwikkel.

“As ek tien jaar jonger was, het ek probeer om een van die jong jaers te word,” sê Mbali.

“Ag, F1 is net baie vinnig om en om ’n baan ry. Tydrenne wys eintlik wie regtig kan bestuur,” spot Gert, ons plaaslike werktuigkundige.

“Hulle sal in elk geval binnekort hulle jong jaers hier moet kom soek,” sê Thabita, ‘n plaaslike klinieksuster en een van die jaers se vrou. “Die meeste Oosterse lande se geboortesyfers is vir dekades al te laag. Dis net in lande suid van die Sahara waar die bevolkings nog groei. Afrika se jeug is die wêreld se toekoms.”

“Dan is dit goed dat Toyota handelaars in 49 van Afrika se 54 lande het. Daar is fabrieke in Egipte, Kenia en Suid-Afrika,” sê Gert. “Ons Toyota-jaers se toekoms is verseker blink.”

“Net as ons iets aan die swaar gesubsideerde voertuie uit China kan doen,” sê ek.

“Nee, my ou, wie hou nou nie van die prys van ’n gesubsideerde motor nie?” skerts Gert.

“Al die mense wat by ons motorfabrieke werk, en almal wat goed bou wat China onder kosprys verkoop,” kap ek terug. “Hierdie gesubsideerde invoere gaan werksplekke laat sluit, want geen besigheid kan teen lae pryse meeding nie.”

Goedkoop gaan jou kos

“Hennie is reg,”sê Thabo, ‘n verkoopsman by die plaaslike Toyota-handelaar. “Net verlede maand het Andrew Kirby, Toyota Suid-Afrika se uitvoerende hoof, gewaarsku dat deïndustrialisasie Suid-Afrika in die gesig staar as gevolg van die goedkoop invoere. Hy het gesê dinge gaan net slegter word as die regering nie dringend ingryp nie.”

“Maar wat kan ons doen?” vra Gert. “Jy kan tog nie van my verwag om meer vir ’n Suid-Afrikaanse motor te betaal as ek meer vir minder uit China kan kry nie. Regeringsubsidies uit Japan was dan hoe Toyota wêreldwyd gegroei het.”

“Jy dink soos die gemiddelde koper, Gert. Jy sal nou ‘n paar rand spaar sonder om aan die toekoms te dink,” sê Thabo. “Maar ek sou bekommerd gewees het as ek ’n Chinese voertuig gehad het, veral as jy dink aan wat kan gebeur as China se regerende party die subsidiekraan toedraai. Sal jou motorfabriek dan minstens nog onderdele maak? Of gaan dit sluit, soos 400 van die 500 fabrieke vir elektriese motors in China moes doen toe hulle subsidies twee jaar gelede gestaak is?”

Gert salueer Thabo met sy glas. “Man, ek kan sommer sien hoekom jy so baie Toyotas verkoop!”