Estimated reading time: 5 minutes
- ‘n Skaapvoerkraal is ’n intensiewe stelsel waarin speenlammers vir vleisproduksie grootgemaak word.
- Voerkoste maak sowat 75% van ’n voerkraal se produksie-uitgawes uit.
- Protokolle vir biosekuriteit en behoorlike inentingsprogramme is noodsaaklik.
- Maksimumwins lê waar marginale inkomste gelykstaande is aan marginale koste.
- Behoorlike bemarking op die regte tyd en teen die regte prys speel ’n beduidende rol in ‘n voerkraal se winsgewendheid.
Die borge van hierdie jaar se UP Agric-voerkraaluitdaging was: Kyron Agri, Molatek, Vet 2 Farm, Octavoscene, RMIS, Cavalier, DataMars en Plaas Media (Veeplaas en Stockfarm).
StrawRam was een van die spanne wat aan die pas-afgelope jaarlikse UP Agric-voerkraaluitdaging van die Universiteit van Pretoria se Departement Veekunde deelgeneem het. Hierdie is StrawRam se artikel oor die ekonomiese aspekte van ‘n skaapvoerkraal.
’n Skaapvoerkraal is ’n intensiewe stelsel waarin speenlammers vir vleisproduksie grootgemaak word. Die vetmaak van ’n lam geskied in twee stadiums: die aanpassingsfase en die uitgroei- en afrondingsfase. Speenlammers weeg gewoonlik 25 tot 30kg wanneer hulle in die voerkraal kom en word vir 60 tot 90 dae intensief gevoer. Skape verlaat die voerkraal gewoonlik op 45 tot 50kg, maar dit kan wissel op grond van die voerkraal se doelwitte.
Die bestuur van ’n voerkraal vereis deurlopende aandag aan detail. Insette soos tyd en arbeid moet optimaal ingespan word met die klem op gesonde, winsgewende, groeiende diere. Protokolle vir biosekuriteit en behoorlike inentingsprogramme is noodsaaklik. So min as moontlik tyd en geld moet aan siek, nie-winsgewende diere bestee word. Dit is byna nie finansieel lewensvatbaar om selfs ’n hospitaalkamp te hê nie.
Voerkrale moet voerslim wees
Voerkraaloperateurs moet ‘voerwys’ wees en die invloed van wisselende gehalte voer en voerpryse op veeprestasie verstaan, want dit bepaal tot ‘n groot mate die winsgrens. Verskeie voedingswaardeparameters beïnvloed voergehalte en veeprestasie. Net so moet hanteringsaksies vinnig en doeltreffend plaasvind om spanning by diere laag te hou. Minder stres beperk produksieverliese en verhoog winsgrense.
Gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) behels die gemiddelde hoeveelheid wat lammers oor ’n spesifieke tydperk groei. Skape se gemiddelde GDT is 300 tot 350g/dag. Voeromsetverhouding (VOV) is die verhouding tussen voerinname en toename, en GDT is belangrik vir VOV. ’n Hoër GDT is nie noodwendig gekorreleer met meer voer nie. Dit is belangrik om die hoeveelheid voer en die koste daaraan verbonde, te oorweeg.
Koste van voer
Maksimumwins lê nie in die grootste gewigstoename nie, maar eerder waar marginale inkomste gelykstaande is aan marginale koste – dus waar die inkomstewaarde van die toename gelyk is aan wat dit kos om die ekstra kilogramme voer te verskaf. ’n Toename van 5% in GDT kan tot ’n toename van sowat 13% in netto inkomste lei. Dit kan wissel na gelang van gewig en winsgrens per kop.
Voerkoste maak sowat 75% van ’n voerkraal se produksie-uitgawes uit. Dit wissel egter na gelang van seisoene en die omgewing. Hoewel veeprodusente as prysnemers beskou word, is dit moontlik om voerpryse op Safex te verskans. Dink net hoe winsgewend kan ’n voerkraal wees as die produsent sy vee teen die helfte van die huidige voerkoste kan voer. Gestel ‘n voerkraal maak ’n wins van R232 per skaap, maar dan daal die voerprys met 5%. Die nuwe wins per kop sal R261 wees – ’n styging van 12,78%.
Die koop- en verkoopprys van die lam is ‘n sleutelaspek van winsgewendheid en kan selfs belangriker wees as die doeltreffendheid van die skape self. Waar die wins normaalweg sowat R230/kop is op ’n karkas van 23kg, en die verkoopprys styg met 5% vanaf R84 tot R88/kg, styg die winsgewendheid met sowat 40%. Behoorlike bemarking op die regte tyd en teen die regte prys speel dus ’n beduidende rol in ‘n voerkraal se winsgewendheid.
Rol van uitslagpersentasie
Uitslagpersentasie is karkasgewig gedeel deur lewende gewig, vermenigvuldig met 100 om ’n persentasie te kry. ’n Klein verandering in uitslagpersentasie kan ’n groot invloed op winsgewendheid hê. As dit van 46 tot 47% styg, wat algemeen by skape is, kan dit winsgewendheid met tot 18% beïnvloed, afhangend van die heersende markprys.
Vir ’n ekonomies lewensvatbare voerkraal moet alle bydraende faktore oorweeg word, van infrastruktuur, bestuur, skaaprasse en genetika, tot belangrike aspekte soos voerkoste en verkoopprys. Dit is maklik om klein veranderinge van 1 of 5% in ’n winsgrens mis te kyk. In ’n bedryf soos skaapvoerkrale, waar winsgrense baie klein en sensitief is, moet die fynste besonderhede egter aandag kry. Tabel 1 illustreer hierdie punt en bevat die syfers en berekeninge wat vir doeleindes hiervan gebruik is.
Tabel 1: ’n Opsomming van uitsetveranderinge en gevolglike veranderinge in wins.
| Aanvanklik | Ná verandering | Aanvanklike wins | Wins ná verandering | % verandering in wins | |
| 5% Styging in GDT | 0,3kg/dag | 0,315kg | R232,19 | R261,88 | 12,79% |
| 5% Daling in voerkoste | R5/kg | R4,75/kg | R232,19 | R261,88 | 12,78% |
| 5% Daling in koopprys | R40/kg | R38/kg | R232,19 | R286,13 | 23,26% |
| 5% Styging in karkas-verkoopprys | R84/kg | R88,20/kg | R232,19 | R329 | 41,69% |
| 1% Styging in uitslagpersentasie | 46% | 47% | R232,19 | R274 | 18,10% |
Vir meer inligting, kontak die voerkraaluitdaging se studieleier, dr Lindeque du Toit, by epos linde.dutoit@up.ac.za.
– Lana Strydom, Izak van der Merwe, NC Engelbrecht, Jewyk Pretorius, Caylin van der Nest, Robyn Clark, en Thabang Setsane







