Thursday, March 6, 2025

Doringbome se nut op die plaas

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Bome soos die kameeldoring, haak-en-steek en papierbas met hul plat krone vorm ideale ‘sambrele’ waaronder skuiling teen die son gevind kan word.
  • Die uitskeidings van diere wat onder die bome skuil, dra weer by tot die voeding van hierdie bome.
  • Doringbome is peuldraende plante en die meeste van hulle bevat wortelknoppies met stikstofbindende bakterieë op die wortels wat grond met stikstof verryk. Van die doringboomsoorte is daarom ook pionierplante wat ’n mikrohabitat skep waarin ander plante kan vestig.
  • Die blare en groen peule van doringbome is ’n belangrike bron van ruproteïene en ruvesel vir vee en wild.
  • Doringboombas bevat lang vesels wat vir die maak van toue en matte gebruik kan word.

Op warm dae is skadu vir mens en dier belangrik, en hier speel doringbome ’n groot rol in die gebiede waar hulle voorkom. Bome soos die kameeldoring, haak-en-steek en papierbas met hul plat krone vorm ideale ‘sambrele’ waaronder skuiling teen die son gevind kan word.

Die uitskeidings van diere wat onder die bome skuil, dra weer by tot die voeding van hierdie bome. Baie soorte doringbome word wêreldwyd in parke en huistuine geplant vir skadu, versiering en ander gebruike.

Leer oor die oorsprong van doringbome.

Stikstofbinding en pioniers

Doringbome is peuldraende plante en die meeste van hulle bevat wortelknoppies (Foto 1)met stikstofbindende bakterieë op die wortels wat grond met stikstof verryk. Van die doringboomsoorte is daarom ook pionierplante wat ’n mikrohabitat skep waarin ander plante kan vestig.

Afgesien van die stikstofryke grond onder die bome kan kompos ook vorm uit voëlmis en blare wat afval. Saam met die stikstof vorm dit ’n ideale medium vir die ontkieming van ander plantsade wat in voëlmis voorkom soos kareesoorte, witstinkhout of ander plante wat vrugte dra wat deur voëls geëet word. Smaaklike grassoorte soos bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris) en gewone buffelsgras (Panicum maximum) kan ook in die skadu onder die bome voorkom.

Die soetdoring is ’n tipiese voorbeeld van ’n pionierplant en ‘n mens sien dikwels ’n dooie boom omring deur ’n boskasie van plantsoorte. Die soetdoring word soms as ’n indringerplant beskou, maar die vraag is of hulle nie deur grondverbetering ’n groter rol kan speel nie.

Leer meer oor doringbome se blare hier.

Bron van voedsel

Die blare en groen peule van doringbome is ’n belangrike bron van ruproteïene en ruvesel vir vee en wild (Foto 2). Soos in die vorige artikel (Veeplaas, Junie 2023) genoem, verkies bokke soetdoringblare bo gras. Die bok in Foto 3 is naby Willowmore afgeneem. Tydens die paar dae van my verblyf was die bokke elke dag vir lang tye besig om blare te vreet. Die stikstofinhoud van die blare van die anaboom is amper twee keer hoër as dié van ’n paar ander soorte wat ondersoek is.

Droë peule is ook van waarde en op die Internet is daar heelwat gegewens oor die voedingswaarde van peule van die kameeldoring, lekkerruikpeul en haak-en-steek.

Die blomme verskaf stuifmeel en nektar aan heuningbye (Foto 4) en ander inseksoorte, wat beteken dat byeboere die bome kan benut. Larwes van menige soorte skoenlappers en motte is afhanklik van doringbome vir die voltooiing van hul lewensiklusse.

Doringbome se gom

Gom word gevorm in die bas in wonde wat deur houtboorders of meganiese aksie veroorsaak is. Dit vloei uit en stol om taai, lang amberkleurige druppels of klonte te vorm.

Arabiese gom (gum Arabic) word reeds sedert antieke tye vir verskillende doeleindes aangewend soos emulsifisering (byvoorbeeld voorkom dat kleurstowwe in koeldranke uitsak), as stabiliseermiddel, kleefmiddel en vir die verdikking van souse, roomys en kougom, asook medisinale produkte, kosmetiese produkte en vele meer. Arabiese gom word hoofsaaklik geproduseer deur Senegalia senegal (driehaakdoring) wat in Soedan van veldbome en aangeplante bome versamel word.

Die eetbare gom van die soetdoring is op ’n stadium as plaasvervanger vir Arabiese gom gebruik, omdat dit in sekere opsigte ooreenstem met die gom van die driehaakdoring. Laasgenoemde is die enigste Suid-Afrikaanse soort met drie haakdorings per knoop en twee subspesies kom hier voor, naamlik S. senegal ssp. leiorhachis (slaploot) en S. senegal ssp. rostrata (bosvormige driehhaakdoring).

Lees meer oor doringbome se blomtyd.

Gebruike van bas en hout

Doringboombas bevat lang vesels wat vir die maak van toue en matte gebruik kan word. Stroke vars bas kan as bindmateriaal gebruik word en is vroeër jare tydens die bou van tradisionele huise, soos dié van die Nama, gebruik.

Die bas bevat hoë konsentrasies looisuur wat vir die looi van leer gebruik word. Olifante stroop die bas van doringbome af vir voedsel. Bas van verskillende soorte doringbome word vir ’n verskeidenheid kwale in tradisionele medisyne gebruik.

Swarthout afkomstig van die Australiese Acacia melanoxylon is ’n bekende meubelhout. Die kernhout van verskillende inheemse soorte kan ook vir die maak van meubels gebruik word, soos die apiesdoring (S. galpinii), knoppiesdoring (S. nigrescens) en swartapiesdoring (S. burkei).

Die ark waarin die klippe met die tien gebooie gehou is, was moontlik van Acacia-hout (doringhout) gemaak (Deuteronomium 10:3) aangesien dit van die min bome is wat in die Sinai-woestyn groei.

Doringhout is ook uitstekende brandhout vir koolstowe en braaivleisvure omdat dit goeie kole en min as produseer. – Emeritus Prof Hannes Robbertse, Universiteit van Pretoria

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 8 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die...