Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf: Volhoubaarheid is meer as net ‘n woord

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die mode- en tekstielbedrywe raak al hoe meer bewus van ‘n draaipunt wat betref omgewingsbewustheid en etiese produksie. Verbruikers van regoor die wêreld verwag dat die produkte wat hulle koop op ’n betroubare en volhoubare wyse geproduseer word.
  • Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf belê in etiese en volhoubare produksiepraktyke regdeur die waardeketting.
  • Sybokhaar is bekend vir sy vermoë om uitstekend met ander natuurlike vesels, soos wol of sy, te meng. Hierdie veelsydige vesel help ook om kenmerkende en volhoubare tekstielmengsels te skep wat voldoen aan ’n wye reeks van omgewingsvriendelike produkte.
  • Europa is ’n belangrike mark vir die sybokhaarbedryf, aangesien sowat die helfte van die sybokhaar wat in Suid-Afrika verwerk word, na Italië uitgevoer word. Daarom dien die Europese Unie (EU) se wetgewing oor omgewingsbeskerming en dierewelsyn as ’n betekenisvolle drywer om volhoubaarheid binne die tekstielbedryf te bevorder.
  • Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf het ’n reeks inisiatiewe daargestel om deursigtigheid, etiese produksiepraktyke en omgewingsbewaring elk ’n ereplek in die waardeketting te gee.

Die mode- en tekstielbedrywe raak al hoe meer bewus van ‘n draaipunt wat betref omgewingsbewustheid en etiese produksie. Verbruikers van regoor die wêreld verwag dat die produkte wat hulle koop op ’n betroubare en volhoubare wyse geproduseer word. Hierdie verandering in verbruikersbewustheid het organisasies regoor die wêreld gedwing om hulle prosesse te hersien en die impak daarvan op die omgewing te hersien.

Die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf belê in etiese en volhoubare produksiepraktyke regdeur die waardeketting. Sybokhaar SA is verbind tot ‘n meer volhoubare toekoms vir sybokhaarproduksie, vanaf die plaas tot by die eindproduk. Daarom is dit uiters belangrik dat die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf streng voldoen aan volhoubaarheidspraktyke.

Sybokhaar is bekend vir sy vermoë om uitstekend met ander natuurlike vesels, soos wol of sy, te meng. Hierdie veelsydige vesel help ook om kenmerkende en volhoubare tekstielmengsels te skep wat voldoen aan ’n wye reeks van omgewingsvriendelike produkte. Verder dra sybokhaarproduksie ook by tot werkskepping in gemeenskappe, soos in die Karoo, waar werksgeleenthede nie altyd volop is nie.

Lees meer oor die Jackson Angorastoet hier.

Internasionale wetgewing

Europa is ’n belangrike mark vir die sybokhaarbedryf, aangesien sowat die helfte van die sybokhaar wat in Suid-Afrika verwerk word, na Italië uitgevoer word. Daarom dien die Europese Unie (EU) se wetgewing oor omgewingsbeskerming en dierewelsyn as ’n betekenisvolle drywer om volhoubaarheid binne die tekstielbedryf te bevorder.

Die EU het die standaard vir volhoubare produksie met behulp van streng regulasies verhoog. Dit sluit riglyne vir chemiese gebruik-, afvalbestuur- en dierewelsynstandaarde in. Die EU lê ook klem op die bevordering van sirkulêre ekonomiese beginsels, waaronder die hergebruik, herwinning en doeltreffendheid van hulpbronne, en die vermindering van die impak wat die sybokhaarbedryf op die omgewing het.

Een van die grootste hedendaagse dilemmas is klimaatsverandering. Dit is ook een van die aspekte waarmee die sybokhaarbedryf rekenskap moet hou. Dit sluit die koolstofvoetspoor in, spesifiek die mate waartoe modehuise daartoe bydra en wat gedoen word om die impak daarvan op die omgewing te verlig. Daarom word gefokus op groter deursigtigheid en die verantwoordbaarheid van al die onderskeie handelsmerke om hul produksieprosesse en waardekettingpraktyke in heroorweging te bring.

’n Skuif na volhoubare praktyke

Te midde van die talle uitdagings in die tekstielbedryf, is daar ‘n toenemende fokus op sosiale en omgewingsverantwoordelikhede dwarsdeur die waardeketting. Besighede spits hulle al hoe meer toe op sirkulêre ekonomiese beginsels, met die klem op produkte se hergebruik, herwinbaarheid en doeltreffende gebruik van hulpbronne.

Namate die klem al hoe meer op volhoubaarheid val, is daar ’n merkbare toename in die aanvraag na vesel soos sybokhaar. Handelsmerke is aktief besig om oor te skakel na voorkeurmateriale wat voortreflike omgewings- en sosiale voordele bied, pleks van die konvensionele alternatiewe.

Deur volhoubare vesel te kies, ondersteun handelsmerke praktyke wat omgewingsbewaring, etiese hulpbronne en sosiale verantwoordelikheid in die waardeketting bevorder. Hierdie oorgang beklemtoon ’n gemeenskaplike toewyding aan die bevordering van ’n meer volhoubare en regverdige toekoms vir produsente en verbruikers.

Bevorder volhoubaarheid

In sy reaksie op verbruikersvoorkeure en die veranderende omgewing, het die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf ’n reeks inisiatiewe daargestel om deursigtigheid, etiese produksiepraktyke en omgewingsbewaring elk ’n ereplek in die waardeketting te gee.

‘n Sentrale aspek hiervan is die aanvaarding en nakoming van sertifisering, soos die Verantwoordelike Sybokhaarstandaard (RMS) wat dien as ’n maatstaf om te verseker dat streng aan kriteria soos die volgende voldoen word:

  • Dierewelsyn soos voeding, veehantering en skeertegnieke.
  • Volhoubare grondbestuurspraktyke soos grond- en omgewingsbewaring.
  • Sosiale verantwoordelikheid soos regverdige arbeidspraktyke en gemeenskapsinisiatiewe.

Die bedryf se samewerking met Textile Exchange en die nastrewing van volhoubare praktyke, beskerm nie net die welsyn van diere en die omgewing nie, maar bevorder ook vertroue en verantwoordbaarheid binne die globale waardeketting.

Leer meer oor die metodiek van kleinveebeoordeling hier.

Sybokhaar SA se insette

Sybokhaar SA ondersteun produsente met die beskikbaarstelling van ’n verskeidenheid hulpbronne om werksaamhede op die plaas te help verbeter. Dit behels onder andere opleidingsdae en werkswinkels om produsente en plaaswerkers touwys te maak ten opsigte van die hantering van Angora-bokke en gesondheidsbestuurspraktyke. Verder lewer die bekende bedryfsveearts, dr Mackie Hobson, ’n groot bydrae met sy insette tydens hierdie opleidingsessies.

Sybokhaar SA werk verder saam met Integrity Ag, ’n assesseringsmaatskappy wat spesialiseer in omgewingsake en wat ’n omvattende lewensiklusassessering (LCA) van sybokhaarproduksie doen. Dit sluit byvoorbeeld die ondersoek van elke fase van die produksieproses in, sodat spesifieke areas waar omgewingsimpakte beduidend is, geïdentifiseer kan word en doelgerigte strategieë met die oog op verbetering, daarvolgens beplan kan word.

In ’n verdere stap om deursigtigheid in die waardeketting ’n hupstoot te gee, werk Sybokhaar SA saam met Oritain om die naspeurbaarheid en egtheid van sybokhaarvesel te verbeter. Oritain gebruik die jongste forensiese wetenskap en tegnologie om ‘n deeglike analise te doen om die oorsprong van sybokhaarvesel bo alle twyfel te verifieer. Hierdie vlak van naspeurbaarheid stel rolspelers in staat om ingeligte besluite in ooreenstemming met volhoubaarheidsdoelwitte en waardes te neem. Daarbenewens dien Oritain se kundigheid as ’n belangrike instrument teen bedrog en vervalsing, wat die integriteit van die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf beskerm en verbruikersvertroue versterk.

Sybokhaar SA ondersteun die positiewe impak van hernubare praktyke asook die toenemende vraag deur handelsmerke en besighede regoor die wêreld, na vesel en roumateriaal vanaf plase wat progressiewe en holistiese bestuurspraktyke toepas. – Sybokhaar SA

Vir meer inligting, kontak Sybokhaar SA by 041 581 1681 of besoek www.mohair.co.za. Sybokhaar SA se omvattende bestepraktykriglyne vir Angora-gesondheidsbestuur kan by www.angoras.co.za gevind word.

Onbetaalde skorsing as ‘n alternatief tot ontslag

Estimated reading time: 4 minutes Die Wet op Arbeidsverhoudinge,1995 (Wet 66 van 1995) (die...

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....