Estimated reading time: 6 minutes

Jackson Farm is volgens Richard Hobson ’n unieke naam vir ’n Karoo-plaas en beslis nie ’n plaasnaam wat jy agter elke bossie of graspol in ander dele van die land sal uitskop nie.

Jongboer woeker met Angoras in Noordwes.

Die storie loop so, dat sy oupagrootjie lank gelede met Angorabokke op die einste plaas by Pearston begin teel het en in 1896 die Jackson Angorastoet (no. 118) gestig het. Richard se oom, David Hobson, en sy pa, wyle Bruce Hobson, het van 1968 tot 1990 saam geboer en voortgebou op die stoet se fundamentele seleksievoorkeure, naamlik stapellengte, veseldigtheid en -gewig.

Vir Richard was dit ’n eens-in-’n-leeftyd geleentheid om die stoet as ’n vierde-generasie produsent by sy oom oor te neem en terug te bring plaas toe. Tydens Veeplaas se besoek op die plaas, wat aan die voet van die Coetzeesberge geleë is, vertel Richard dat David die Angoras met effens minder fyn bokhaar geteel het en dat hy nou self daarby hou en nog nie ’n enkele dag spyt was oor sy besluit nie.

Alhoewel die boerdery in dié stadium nog in ’n droogte vasgevang is, heg Richard baie sentimentele waarde aan sy Angoras en doen hy alles in sy vermoë om steeds diere met goeie haarlengte, -kwaliteit en -digtheid te teel.

Die Jackson Angorastoet produseer medium- tot grootraamdiere wat optimaal aangepas en gehard is. Omdat Angorabokke nie ’n dubbeldoelras is nie, is dit belangrik dat die stoet en kommersiële kudde se bokhaarproduksie nie ingeboet word nie en in lyn met die regte karkasgrootte is.

Hy glo dit is belangrik om die samestelling van ’n Angorabok in ag te neem. “As ’n dier se ratkas in orde is, kan hy optimaal in sy omgewing funksioneer, met of sonder die nodige byvoeding, om die regte hoeveelheid en gehalte bokhaar waarvoor hy geteel is, te produseer. As ’n Angorabok dus omgewingsaangepas is, is daar gewoonlik ’n goeie balans tussen die bouvorm en grootte van lyf, en die hoeveelheid vesel wat hy produseer.”

Versorgde ramme verseker sukses

Richard het 15 jaar lank kommersieel met Angoras geboer voordat die stoet gevolg het. Hy merk op dat dit die stoet is wat hom eintlik bewus gemaak het van hoe belangrik dit is om goed na die ramme te kyk.

Jackson Farm se 2019 Angora-vaar.

“Ek dink die meeste produsente wil met ’n geharde en veldaangepaste dier boer, maar daardie mikpunt kan moeilik wees om te behaal as die veld se voedingswaarde afneem weens omstandighede buite jou beheer. Daarom is dit vir my belangrik om te sorg dat ’n ram deurentyd in top kondisie bly om sy genetiese invloed ten volle uit te oefen wanneer ek hom tydens paring by 25 tot 50 ooie sit.”

Die kommersiële ramme vir die kudde kom uit die stoet en al die ramme word ongeveer drie maande vóór paring voorberei. Elkeen van hierdie ramme word vir vrugbaarheid getoets en een van die maatstawwe van die Hobsons se naverkopediens, is om terugvoer vanaf hul kliënte te kry oor die ramme se vordering.

Richard Hobson by een van sy jong stoetramme op Jackson Farm.

Die stoetramme word daagliks uitgejaag om in die veld te gaan wei en word dan deur die veewagters opgepas om veediefstal te bekamp. Smiddae word die ramme weer na die kampe naby aan die huis teruggeneem, waar hulle byvoeding kry en snags in ’n skuur slaap.

Voeding en aanvullings

Die voedingswaarde van die veld verander gereeld en dr Chris Landman, van Landman Voedingdienste in Somerset-Oos, is ’n dierevoedingkundige wat in Angoras spesialiseer en die nodige aanvullende lekke vir Jackson Farm saamstel.

Die lekke bevat energie, proteïen, aminosure en ’n vitamien-kompleks vir daardie kere wanneer die veld se voedingswaarde afneem, maar daar wel nog vesel beskikbaar is. “Die aanvullings help onder andere om bokhaar-, hoef- en horinggroei te bevorder,” sê Richard. “Ons probeer deurentyd om ’n balans tussen die onderskeie seisoene en voedingswaardes te vind. As daar nog vesel op die veld is, vul ons net die nodige basiese voeding aan. Sodoende word die veld nie oorbewei nie.

“In 2021 het ons die bokke voluit gedurende Augustus en September gevoer, omdat daar tóé baie min vesel op die veld oor was. Ons werk die nodige aanvullings op ’n daaglikse basis per gram per ooi of ram uit, en sodoende leer die kleinbokkies al vanaf ’n jong ouderdom om te vreet. Daar is dan ook min probleme wanneer ons hulle op ses-weke oud op kruipvoer sit.”

Dr Landman het die water op die plaas getoets om die suurheidsgraad te meet, asook die hoeveelheid kalk in die water wat sekere spoorelemente kan blokkeer. Die weiding op die lusernlande word ook geëvalueer om tekorte aan te teken en die nodige aanvullings daarvolgens te beplan.

Bestuurslesse vir die plaas

In 2018 het Richard vir ’n produksiebeoordelingskursus by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) geregistreer. Dit het hom baie gehelp om uit sy vorige foute te leer en te bepaal waarheen sy besigheid op pad is.

“Byvoorbeeld, in tye van droogte wil ’n mens jou finansies op so ’n wyse bestuur dat jy geld spaar en kostes sny waar ook al moontlik,” sê hy. “Die kursus het my geleer dat ek dalk nie net ’n produksiekosteprobleem het nie – ’n mens kan mos net soveel op produksie en vaste kostes sny – maar ook ’n produksie-inkomsteprobleem.

“Vanuit daardie oogpunt raak ons nou ontslae van droë ooie, terwyl die res van die diere optimale voeding kry. Ons bepaal ook vooraf wanneer die beste tyd sal wees om die ram by die ooie te sit om produksie te onderhou.”

Richard vind dat goeie bestuurspraktyke, soos om die regte gesindheid teenoor die natuur en sy diere te hê, hom help om vooruit te boer. “Ek let fyn op na wat kenners of ander produsente sê of doen – ’n mens is nooit te oud om iets nuut te leer nie.”

Vir meer inligting, kontak Richard Hobson by 084  5122172 of jacksonstud118@gmail.com, of dr Chris Landman by 079 373 2435.

orf, skeerpraktyke, lemon