In die noordelike provinsies van Suid-Afrika word daar net met ’n handjievol Angorabokke geboer. Dit lei dan uiteraard tot die vraag of daar weliswaar vir die noordelike bure van die Karoo ’n toekoms in dié bedryf is. Veeplaas het die plaas Uitval in die Wolmaransstad-omgewing van Noordwes besoek, waar Petrus Marx suksesvol met dié veseldraende ras boer.

Die 27-jarige produsent is daarvan oortuig dat ’n Angora-boerdery met die regte bestuurspraktyke in plek, beslis suksesvol in die noorde van die land bestuur kan word. Volgens hom is die rede waarom daar nog nie dosyne Angorabok-produsente in dié omgewing is nie, ’n gebrek aan kennis van dié bedryf wat eintlik met die Karoo vereenselwig word.

Nadat Petrus in 2014 ’n BCom-graad voltooi en vir ’n jaar gewerk het, het hy by sy pa, Frans Marx, en sy swaer, Reco Pieterse, aangesluit om die gemengde familieboerdery met sy saaivertakking (mielies en sonneblomme), beeste en wild te help behartig.

“Met die wildspryse wat so getuimel het, het ek begin rondkyk vir iets anders waarmee ons in die teelkampe kon boer,” sê Petrus. “Ons het op daardie tydstip ook droogte ervaar en dit was dus noodsaaklik om ’n dier te vind wat met min kon klaarkom.”

’n Bok maak ’n plan

Gegewe dat daar suksesvol met bokke in baie droë dele van die land geboer kan word, asook die feit dat ’n bok se weigewoontes van dié van skape en beeste verskil, het Petrus met bokke begin eksperimenteer.

“Ons het gevind dat sekere probleemplante soos katbos en doringbome deur die bokke, wat die hele veld benut, gevreet word. Buiten hul voordelige weigewoontes het my keuse op Angorabokke geval omdat hulle twee maal per jaar geskeer kan word, wat die boerdery se kontantvloei ’n lekker hupstoot gee.”

Petrus beskou die Angora-boerdery as ’n proses wat nie oornag gebeur nie. “Ek en my twee swaers, Stephan Erasmus en Reco, bestuur elk ons eie kommersiële Angorakudde. Ons is ook besig met ’n toetslopie om te kyk hoe ’n mens nou eintlik met Angoras in die noorde van Suid-Afrika moet boer. Ons doen baie proewe om te kyk wat werk en wat nie.”

Volgens Petrus is hulle nou op die punt waar daar vir sekere eienskappe, soos die gehalte van sybokhaar, vrugbaarheid, moedereienskappe en goeie bouvorm geselekteer kan word. “Wat dit opwindend maak is die feit dat ons besig is om ’n bok te teel wat goed in die omgewing aanpas en presteer, en wat nie voorheen hier voorgekom het nie.”

Petrus en sy vrou, Angené, het vroeër vanjaar die Marwyk Stoet geregistreer. Hierdie stap kan met reg as ’n mylpaal beskou word, omdat dit die eerste amptelike Angorastoet in die noordelike provinsies is.

Weidingsbestuur

Die Angoras wei meestal op natuurlike weiding wat uit grasvlaktes en bos bestaan. Petrus merk op dat hoewel hulle periodieke droogtes ervaar, dit nog nie so straf soos in die Karoo is nie en daar gewoonlik genoeg kos, asook ’n voerbank van mieliereste vir die droër tye is.

In Maart word voer geplant om die diere gedurende die winter en lamtyd te kan voer. “Ons plant ’n Agricol-mengsel wat uit weiwieke, stoelrog, radyse en hawer bestaan,” vertel Petrus. “Ons bokke loop ook in die winter op die gestroopte mielielande.” Hy voeg by dat die grootste gevaar gedurende die droë wintermaande voorkom, wanneer wegholbrande al die weiding in ’n oogwink kan vernietig.

Hulle pas ook weidingrotasie rondom skeer- en lamtyd toe. Dit beteken dat die bokke, nadat hulle geskeer is, vir drie maande in die boskampe wei. Drie maande vóór skeertyd word hulle in die graskampe geplaas om hul hare so skoon as moontlik te hou.

Natuurlike reproduksie

Tweelinge maak ongeveer 10% van die aanteel op die plaas uit.

Die bokooie word in Maart natuurlik deur die ramme gedek. Die ramme word by versorgde groep ramveilings aangeskaf. Die rede hiervoor, volgens Petrus, is dat al die ramme saam geskeer word en ses maande lank onder dieselfde omstandighede saam wei. “Hulle gewig, groei, mikron en lengte kan dus teen mekaar opgeweeg word. Die vagte is ook natuurlik en ’n mens kan sien wat jy koop.”

Die ooie lam op die groenvoerlande, waarna hulle vir minstens twee dae in ’n lamhok gesit word. Dan gaan hulle uit in groter kampe tot die lammers sterk genoeg is om veld toe te gaan. “Hierdie stelsel werk goed by ons want elke lam en ooi kry aandag en ons kan probleme maklik identifiseer.”

’n Goeie balans van skeersels

Die skeersel bestaan uit ongeveer 30% kleinbokkiehaar, 30% jongbokhaar en 40% grootbokhaar. “Ons skeer elke ses maande, gewoonlik teen die einde van Januarie en weer einde Julie. Ons hou by die skeerdatum omdat die ooie se hare kort is wanneer hulle by die ramme kom, asook wanneer hulle lam.

Die boerdery voldoen ook aan die Verantwoordelike Sybokhaarstandaard (RMS) en Petrus voel positief oor die rol wat dit vorentoe gaan speel.

Min moeite met peste en plae

Petrus glo dat die Noordwes-provinsie ideaal vir Angoras is, omdat dit ’n goeie reënvalstreek is en die temperature baie soortgelyk aan dié van die Karoo is. Hy sê ook dat ’n produsent wat peste en plae in die noorde die hoof kan bied, beslis met ’n Angorabok sal kan boer. “In my ervaring het die bokke hier by ons minder inwendige parasiete as wat die skape het. Die rede daarvoor is moontlik omdat hul weigewoontes verskil.”

Om die bosluise in toom te hou, word die bokke deur ’n voet- of dompeldip gesit. In elk van die krale is daar ook ’n paar hoenders wat help om die aantal parasiete wat mag voorkom, te beheer.

Toesig en roofdierbeheer

Petrus glo die wenresep vir hul Angora-boerdery lê daarin dat hulle twee maal per dag by die bokke is, waar hulle gekraal en getel word.

Die bokke word elke aand gekraal, wat talle voordele vir die boerdery inhou.

“Dit stel ons in staat om baie gou agter te kom as ’n dier siek is of ’n probleem het. Die krale bied ook goeie skuiling om die bokke teen koue en reën te beskerm, en die wildsheining wat gespan is help om roofdier- en diefstalskade te beperk.”

As ’n verdere maatreël is daar ook alpakkas wat daagliks saam met die bokke veld toe gaan om hulle teen roofdiere te beskerm. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Petrus Marx by 073 370 9149 of
stuur ’n epos na petrusmarx92@gmail.com.