Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Share This Post

Estimated reading time: 6 minutes

  • Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk Lloyd Short, ’n sewende-generasie produsent wat met Angora-bokke en Merino’s boer.
  • Borden Angoras streef daarna bokke te teel met ’n gebalanseerde, medium-tipe bokhaar wat goeie gewig het en natuurlike olie bevat.
  • Die Angora-bedryf is onderworpe aan ’n voorgeskrewe lys van funksionele karaktereienskappe. Een van die eienskappe wat bo-aan die Borden Angora-lys staan, is die seleksie van goeie bouvorm en samestelling.
  • Behalwe dat hy een van die stigterslede van die Heritage Angora-groep is, is Lloyd die afgelope drie jaar ook die president van die Angora-ramtelersvereniging. Een van die grootste uitdagings op sy pad, is om produsente te oortuig dat dit noodsaaklik is om in goeie gehalte genetika te belê.
  • Lloyd se raad aan enigeen wat met Angoras wil begin teel, is om diere te koop by ’n teler met ’n goeie reputasie. “Kyk dus na ’n ram met ’n redelike goeie baanrekord, asook ’n klompie ouer ooie wat oor goeie genetika beskik en nog ’n bokkie of twee kan lewer.”

Van die wêreld se beste Angora-vesel is al tydens die droogste, moeilikste tye in die Karoo-streek in die Oos-Kaap geproduseer.

Alhoewel die wêreld tussen Graaff-Reinet en Jansenville tradisioneel Angora- en skaapwêreld is, kom verskeie wildspesies ook in hierdie semi-woestyn en bergagtige omgewing voor. Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area, by Borden Angoras se plaashek ingedraai. Hier woon en werk Lloyd Short, ’n sewende-generasie produsent wat met Angora-bokke en Merino’s boer.

“My ouer broer, David, boer hier naby ons op die familieplaas, Wheatlands. My hele familie het ’n groot voorliefde vir kleinvee, veral Angoras en Merino’s,” sê Lloyd. “Wat die Angora-vertakking betref, boer ons ekstensief op veld, en het ook ’n klompie lande waarop ons lusern plant en vir die winter hawer aanplant wanneer die Angora-ooie lam. Dis gewoonlik in Julie en Augustus, wat ’n baie droë tyd van die jaar is.”

’n Groot uitdaging vir hul kleinveeboerdery is die taai droogtes wat die beskikbaarstelling van byvoeding aan die vee noodsaaklik maak. “ ’n Sewe-jaar droogte het ons geleer dat dit noodsaaklik is om onder sulke omstandighede byvoeding op natuurlike veld te gee. Die rede hiervoor is tweeledig: dit dra by tot die volledige ontwikkeling van die klein bokkies en help dat die ooie na wense reproduseer.

Borden Angoras streef daarna bokke te teel met ’n gebalanseerde, medium-tipe bokhaar wat goeie gewig het en natuurlike olie bevat. “Ons verkies medium-tipe bokhaar, want daar beland soms doringtakkies en grasse in die haar wat makliker uitkam,” sê Lloyd. “Ons wil ook nie bokhaar produseer wat té sterk is nie, aangesien dit minder gesog is en ’n laer premie verdien.”

Lees meer oor die Brighton Farm se Angoraboerdery hier.

Funksionele eienskappe

Die Angora-bedryf is onderworpe aan ’n voorgeskrewe lys van funksionele karaktereienskappe. Een van die eienskappe wat bo-aan die Borden Angora-lys staan, is die seleksie van goeie bouvorm en samestelling wat op die volgende voorkeure neerkom:

  • Diere moenie te klein of te groot wees nie – dus medium-grootte.
  • Die bokhaar moet goeie lengte, styl en karakter toon.
  • Diere moet kan reproduseer en in die proses hul beste genetiese eienskappe aan die volgende geslag oordra.
  • Die ramme moet hulself op die veld bewys en nie op oormatige ekstra voer staatmaak nie.

Lloyd sê die stoetramme is gewoonlik op die ouderdom van 18 maande (tweetand) geslagsryp. Die Heritage-groep maak van kunsmatige inseminasie gebruik om die ooie dragtig te kry. Dit gebeur soms dat ‘n groep uitstaande jong ramme teruggehou word, sodat hulle saad weer vir ’n tweede jaar gebruik kan word.

Die waarde van genetika

Behalwe dat hy een van die stigterslede van die Heritage Angora-groep is, is Lloyd die afgelope drie jaar ook die president van die Angora-ramtelersvereniging.

Een van die grootste uitdagings op sy pad, is om produsente te oortuig dat dit noodsaaklik is om in goeie gehalte genetika te belê. “Dit is nie altyd maklik om jou hande op goeie genetika te kry as jou kontantvloei onder druk is nie, maar die feit is dat goeie gehalte diere ’n ongelooflike verskil in jou kommersiële kudde kan maak. Produsente wat in goeie genetika belê, en dus goeie ramme aankoop, is uiteindelik dié wat beter pryse by veilings behaal.”

Goeie samewerking

Die ramtelersvereniging werk baie nou saam met Sybokhaar SA se Bemagtigingstrust, waar Beauty Mokgwamme in beheer is. Lloyd sê daar is reeds ’n hele klomp kommersiële produsente wat, danksy die trust se insette, graag hul ramme tydens kommersiële Angora-veilings aankoop. Sy raad aan enigeen wat met Angoras wil begin teel, is om diere te koop by ’n teler met ’n goeie reputasie. “Kyk dus na ’n ram met ’n redelike goeie baanrekord, asook ’n klompie ouer ooie wat oor goeie genetika beskik en nog ’n bokkie of twee kan lewer.”

Lloyd dien onder meer ook op Sybokhaar SA se direksie, en sê sedert die herstrukturering van die sybokhaarbedryf in 2023, is daar nou aansienlik meer produsente wat op die direksie dien. “Daar is dus meer direkte kontak tussen rolspelers in die bedryf, wat een van die positiewe uitvloeisels van die herstruktureringsproses is.

“Ons is ook baie trots daarop dat die Suid-Afrikaanse Angorabedryf ’n wêreldleier is wat volhoubare sybokhaarstandaarde betref. Sowat 85% van ons produsente geniet op hierdie stadium Verantwoordelike Sybokhaarstandaard (RMS)-sertifisering.”

Lees meer oor die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf hier.

Laastens, sê Lloyd, glo hy dat goeie rentmeesterskap iets is wat elke Angora-produsent na aan die hart moet lê. “Persoonlik vind ek dat ’n mens verder kom as jy ‘n holistiese boerderybenadering volg, veral in moeilike tye wanneer jy te midde van skaarste en droogte steeds winsgewend moet boer.

“Om op ‘n volhoubare wyse te boer, beteken ook nie noodwendig aanvanklike groot aanpassings nie. Jy kan byvoorbeeld klein begin deur jou weidingskapasiteit te verhoog. Selfs wat ons werknemers betref, het ons voorsorg getref met ’n pensioenfonds wat vir die toekoms voorsiening maak.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Lloyd Short by 071 347 5854, of Sybokhaar SA by 041 581 1681 of info@mohair.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 28 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...