Karoobossies: Die hoeksteen van veevoeding in die Karoo

Estimated reading time: 8 minutes

  • Die plantegroei in die Karoo word gekenmerk deur ’n groot verskeidenheid van groeivormgroepe wat elkeen aan ’n spesifieke plantfamilie of spesie behoort.
  • In hierdie artikel val die kollig op Karoobossies wat aan die plantfamiilie Asteraceae behoort, met die uitsondering van die witaarbossie wat deel van die Selaginaceae-familie uitmaak.
  • Karoobossies vorm deel van natuurlike beweiding. Daarom is hierdie plantspesies van onskatbare waarde vir enige veeboerdery.
  • Karoobossies kan breedweg volgens smaaklikheid in drie groepe verdeel word, naamlik smaaklik, minder smaaklik en onsmaaklik.
  • Ankerkaroo is een van die bekendste en volopste Karoobossie-soorte en is oor die hele Karoo versprei. Die bossie kan die strafste droogtes oorleef en vertoon dan bruin-groen en kurkdroog.

Die plantegroei in die Karoo word gekenmerk deur ’n groot verskeidenheid van groeivormgroepe wat elkeen aan ’n spesifieke plantfamilie of spesie behoort. Die teenwoordigheid van spesifieke plante in die verskillende Karoo-streke word primêr deur die klimaat bepaal en beheer, en die hoeveelheid reënval wat volgens die seisoene wissel, speel die grootste rol daarin. Die grondsoort, gekoppel aan grondvog en gronddiepte, bepaal die dominante plantspesies wat in ’n spesifieke gebied onder spesifieke klimaatstoestande kan ontwikkel.

Hierdie plante word op grond van hul groeivorm in verskillende groepe verdeel, naamlik bome, struike, bossies, grasse en opslag. In hierdie artikel val die kollig op bossies wat aan die plantfamiilie Asteraceae behoort, met die uitsondering van die witaarbossie wat deel van die Selaginaceae-familie uitmaak.

Lees meer oor onkruid as voerplante hier.

Die rol van bossies

Bossies vorm deel van natuurlike beweiding. Daarom is hierdie plantspesies van onskatbare waarde vir enige veeboerdery. Eerstens is dit noodsaaklik dat produsente kennis dra van die samestelling van plantspesies in hul weiveld en tweedens moet hulle daarvan bewus wees dat die vee waarmee hulle boer, beweidingsmetodes en ander faktore soos insekplae, ’n groot invloed op die samestelling, gehalte, hoeveelheid en produktiwiteit van die plantspesies in hul weiveld kan hê. Derdens moet produsente ook die beperkings wat deur die klimaat en grond daargestel word, in ag neem.

Die algemene Karoobossies kan breedweg volgens smaaklikheid in drie groepe verdeel word, naamlik smaaklik, minder smaaklik en onsmaaklik. Hier volg enkele voorbeelde.

Smaaklike bossies

Bloublommetjie (Felicia muricata)

Hierdie klein bossie het veelvuldige houterige, skurwe tot gladde stammetjies. Die blaartjies is klein en groen tot donkergroen, met baie fyn haartjies op die blaaroppervlak. Die blomme bestaan uit dig-saamgepakte geel buisblommetjies wat deur ’n krans van bloupers straalblomme omring word. Die hoofblomtyd is in die lente, maar ’n soortgelyke blomfase kan ook in die herfs voorkom. Die ryp saad lyk soos poeierkwassies en word deur die wind versprei.

Die bossie kom wydverspreid voor, veral in die Karoo se brakvelde, semi-brak voorskoot- en sanderige velde, maar ook in aangrensende grasveldstreke. Die baie smaaklike bossie is besonder waardevol en kan maklik as gevolg van selektiewe beweiding uitgevreet word, veral in gemengde bossieveld.

Bergankerkaroo (Helichrysum dregeanum)

Hierdie onopsigtelike vaal- tot heldergroen laaggroeiende bossie het menigvuldige wit-grys stammetjies waarvan sommige betreklik dik kan word. Die takkies vorm gewoonlik kenmerkende bogies wat soms afbuig tot op die grond, wortelskiet en anker. Die blaartjies is kort, vaalgroen en soms heldergroen, met ’n effense geurige reuk. Die blomme is perskleurig, baie klein en byna onsigbaar saamgepak in ’n klein hofie met liggeel skubblaartjies wat dit op die oog af geelkleurig laat lyk. Die bossie blom gewoonlik in die lente en herfs, maar het meestal enkele blomme dwarsdeur die jaar.

Die baie smaaklike, maar betreklik skaars bossie, is wydverspreid in die Karoo, hoewel dit meer beperk is tot die bergagtige gebiede en vlaktes van die oostelike Karoo. Dit kan op sanderige, leem en effens brak grond groei en is baie droogtebestand, maar groei nie in droë seisoene of droogtes nie. Omdat die plant gewoonlik straf onderhewig is aan selektiewe beweiding, kan dit gevolglik verdwyn. 

Minder smaaklike bossies

Ankerkaroo (Pentzia incana)

Ankerkaroo is ’n grysgroen dwergstruikie met veelvuldige stammetjies. Die takkies buig kenmerkend oor tot op die grond waar dit anker deur wortels te vorm. Die saamgestelde blaartjies is klein en silindries, met kort lobbe. Die blare is soms klewerig, veral in hul aktiewe groeistadia, en het ’n sterk, geurige en bitter reuk. Die saamgestelde blommetjie is dig gepak en vorm ronde, geel blommetjies. Die vernaamste blomtyd is in die laat herfs of lentemaande, hoewel blomme ook enige tyd van die jaar kan ontwikkel.

Ankerkaroo is een van die bekendste en volopste Karoobossie-soorte en is oor die hele Karoo versprei. Die bossie kan die strafste droogtes oorleef en vertoon dan bruin-groen en kurkdroog. Die voorkoms van die ankerkaroo is simptomaties van grondoppervlakte-erosie of vlak, droë grond. Smaaklikheid wissel van onsmaaklik tot betreklik smaaklik. Kortgevreet is dit die smaaklikste. Ná reën is dit feitlik onsmaaklik, terwyl dit ook nie in ’n droë toestand gevreet word nie.

Kapokbos (Eriocephalus ericoides)

Kapokbos is ’n veelvertakte, houterige struik, gewoonlik met ’n gesplete stam en ietwat gedraaide, afgeplatte en gekraakte stamme. Die kort, diggepakte, donkergroen blaartjies wat soos kruisies lyk as hulle van die punte af bekyk word, kom regstreeks op die takkies voor en is soms baie klewerig met ’n skerp, bitter reuk. Die bos blom gewoonlik in die laatwinter. Die blommetjies is onopsigtelik en ligrooi. Die ryp sade word omhul deur wit, donsige kapokpluise wat soms verkeerdelik as die blomme beskryf word.

Kapokbos kom wydverspreid voor en veral op voorskootvelde met vars en effens gruiserige gronde aan die voet van Karoobergreekse en hoë koppe, en soms ook op ietwat sanderige bulte- en vlakteveld. Die bos het ’n opmerklike seisoensmaaklikheid en word geredelik deur vee gevreet in die laatwinter en vroeë lente, terwyl dit in die somer en herfs feitlik glad nie gevreet word nie.

Onsmaaklike bossies

Bitterbos (Chrysocoma ciliata)

Hierdie regopgroeiende, helder-geelgroen bossie het een of baie dun houterige stammetjies wat gewoonlik veelvertak is. Die blaartjies is kort en dun en het ’n bitter smaak en bevat meestal groot hoeveelhede klewerige hars, veral wanneer die plant aktief groei. Die blomme is klein, goudgeel en sit saamgepak om saamgestelde blomme te vorm. Witkleurige kelke bly op die stammetjies agter en vertoon soos membraanagtige, wit blomme. Die eintlike blomtyd is in die lente en herfs, maar die bossie kan ook enige ander tyd blom.

Hierdie bossoort kom wydverspreid en op feitlik alle grond, behalwe baie brak gronde, voor. Dit groei baie dig in die suidelike en suid-westelike winterreënval Karoo-distrikte, en is ook volop in die noord-ooste van die Karoo en Suid-Vrystaat. Dit kom oor die algemeen in berghange, rantjies, voorskootveld en veral vlaktevelde voor.

Die bitterbos kan beskou word as een van die vernaamste en aktiefste indringers wat uitgetrapte grasveld in die oostelike rigting teen ’n hoë tempo binnedring en selfs vervang. Die bos neem veral toe waar grasse deur selektiewe uitvreting vernietig word. Hierdie bossie word regstreeks met veldagteruitgang geassosieer. Dit is ’n onsmaaklike bossoort, maar in die afwesigheid van, of ’n tekort aan, ander eetbare plante, word dit in ’n baie beperkte mate gevreet. In swak veld word die blomme soms ook in die herfsmaande gevreet.

Witaarbossie (Walafrida saxatilis)

Die witaarbossie is ’n regopgroeiende, klein, groen tot geelgroen bossie wat naastenby ’n kelkvorm het met enkele tot ’n aantal sagte, regop takkies wat baie min vertak is. Die blare is kort en kom regstreeks op die stammetjie voor. Die blare is soms gomagtig vanweë die hoë harsinhoud, en het ook ’n bitter smaak. Die bossie blom meestal in die lente en herfs in die vorm van klein, spierwit en diggepakte blomme wat op die laaste 5 tot 10cm van die takkies voorkom.

Die bossie kom wydverspreid voor en ontwikkel optimaal in die grensgebiede tussen die Karoo- en grasvelde. Dit word ook algemeen in die Karoo se bergagtige gebiede aangetref. Dit is meer volop op diep, sanderige gronde en veral op sanderige voorskootvelde. Die bossie word dikwels geassosieer met bitterbos op sanderige gronde.

Die witaarbos dui op ’n tussenstadium tussen die verdwyning van grasveld en die inkoms van die voorlopers van Karoobosindringing. Dit is feitlik heeltemal onsmaaklik, maar kan in uitsonderlike gevalle, soos gedurende strawwe droogtes, in ’n beperkte hoeveelheid deur skape benut word.

Dr Van den Berg het ’n selfoontoepassing geskryf vir die identifikasie van weidingsplante van die Nama Karoo. Hierdie toepassing is gratis aflaaibaar op PlayStore en AppStore (soek na Nama Karoo Plants). Met hierdie toepassing kan produsente plante identifiseer en ook veldkondisiebepalings op die plaas doen.

Vir meer inligting, kontak dr Loraine van den Berg by LoraineVDB@dalrrd.gov.za.