Estimated reading time: 7 minutes
Voëlgrieptrauma is nie iets waaroor dikwels geskryf word nie. Dis immers traumaties om honderdduisende hoenders waarvoor jy gesorg het, binne etlike maande nek om te draai. Netso traumaties is dit om te weet jou werkgewer gaan jou dalk moet afdank omdat dooie hoenders nie verkoop kan word nie. Dis ook traumaties om die besigheidseienaar te wees wat moet besluit hoe om al jou braaikuikens dood te maak en in die proses nie jou werkerskorps se gesondheid in gedrang te bring nie.
Read more here about avian influenza.
Dít is die tipe harde realiteit wat die hoenderprodusent en mediese dokter, dr Naudé Rossouw, as die direkteur van Rossgro, vierkantig in die oë moes kyk toe voëlgriep op 6 Junie 2023 op hul Delmasplaas uitgebreek het.
“Ons was die derde geval in die distrik. Die eerste was ’n bestaansboer. Toe ’n kleiner eierboer. Toe ons,” vertel hy en voeg by dat Rossgro se veearts, dr Scott Elliot, en die plaaslike staatsveearts dadelik gekontak is toe onraad vermoed is. “Bloedtoetse is gedoen en die oomblik toe die uitslag as positief teruggekom het, het die staatsveearts oorgeneem en is die owerhede gekontak om die saak verder te hanteer.” Dit het tot ’n week se stilswye gelei, maar uiteindelik het hulle terugvoer gekry en danksy ’n wetgewende klousule, kon hul veearts weer die toneel oorneem. So moes die moordende proses om van voëls ontslae te raak van stapel gestuur word. “Om duisende hoenders nek om te draai was regtig een van die slegste goed wat ek nog ooit moes doen. En dit was regtig traumaties vir ons personeel,” sê dr Rossouw.
“Ons het in die tyd letterlik géén hulp van die staat ontvang nie. Ons moes die voëls nek omdraai, uitdra en gaan begrawe volgens die voorgeskrewe protokol. En omdat voëlgriep ’n soönose is, moes ons ons beste mediese kennis inspan om te verseker dat ons mense nie siek word nie.”
Verkeerde gedrag beloon?
Só het dr Rossouw geleer dat dit traumaties en duur is om die regte ding te doen. “Ons het basies die staat se werk vír hulle gedoen, want dit was eintlik hulle wat die voëls van kant moes maak. Hulle moes eintlik ook padblokkades opgerig het en die situasie gemonitor het, maar dit het ook nie gebeur nie.” Dit was ook ontnugterend om te besef dat dié oefening Rossgro miljoene rande gekos het, terwyl die boer by wie voëlgriep eerste uitgebreek het, eenvoudig niks gedoen het nie.
Om dinge te vererger kom dit toe aan die lig dat die Delmas-uitbreking ’n nuwe tipe voëlgriepvariant, H7N6, was. “Die variant het hier op Afrika-bodem ontstaan en is minder dodelik, maar meer vlugtig as die H5N1-variant wat ons verwag het,” sê dr Rossouw. “Dit werk gewoonlik so metvirusse. Dié wat vinnig versprei maak siek, maar maak nie so dikwels dood nie.”
Hoewel ’n mens dit op die oog af as goeie nuus sou bejeën, is die realiteit dat die Rossgro-familie moes kou aan die feit dat hulle besig was om duisende voëls te vernietig wat moontlik op hul eie sou herstel van die siekte. “Dit was baie moeilik om te besef dat daar binne ons landsgrense op twee speelvelde gespeel word. Hier vernietig ons ons boerdery deur die helfte van ons hoenders in drie maande dood te maak, terwyl die ander partye niks doen nie. En die siekte versprei soos ’n wegholbrand,” sê dr Rossouw.
Ná die tyd is vasgestel dat die helfte van die hoenders oorleef het op plase waar niks gedoen was om dié uitbreking te keer nie. Dit is ’n bitter pil vir wetsgetroue produsente om te sluk, sê dr Rossouw. “Die enigste les wat hier geleer is, is dat produsente gaan besluit om nie die uitbreking van voëlgriep aan te meld nie, want daar is geen voordeel daaraan om die wet te gehoorsaam nie. Die staat is veronderstel om produsente te vergoed, maar ná afloop van die uitbreking doen die staat nou alles in sy mag om nié die nodige vergoeding uit te keer nie.”
Staat moet vergoed
Op 21 Junie verlede jaar het die Wes-Kaapse hooggeregshof die voormalige Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling beveel om George Moerasrivier Boerdery te vergoed vir die skade wat dié boerdery gelei het toe voëlgriep onder hul hoenders uitgebreek het.
Moerasrivier was ’n vooruitstrewende pluimvee-onderneming in die Georgedistrik voordat voëlgriep op twee van die boerdery se plase uitgebreek het. Die eerste uitbreek, op die plaas Onderplaas, is op 27 Mei 2021 deur dr Vivien Malan, die plaaslike staatsveearts, bevestig en onder kwarantyn geplaas. Op instruksie van die staatsveearts is al 195 648 hoenders en 3 199 536 eiers op die perseel vernietig. Alle hoendermis en veevoer is ook vernietig, in lyn met die staat se voëlgriepprotokol.
Bykans twee weke later is voëlgriep op 8 Junie 2021 op nóg een van die boerdery se plase – Moerasrivier – bevestig. Dit het gelei tot die vernietiging van nóg 181 704 henne, 10 000 vrylopende hoenders en 2 186 796 eiers. Die hoendermis en veevoer is ook weer vernietig. Die produsent het uiteindelik die totale omvang van die skade op meer as R31,89 miljoen beraam. Die skatting was teen die heersende markverwante koers bereken.
Op grond van hierdie inligting het die boerdery ’n beroep op die direkteur van dieregesondheid gedoen om Moerasrivier te vergoed vir die skade wat hulle weens die siekte-uitbreking gelei het. Die direkteur het egter die waarde van die voëls op nul rand bereken en geen uitbetaling is gemaak nie. Dit het die saak toe in die hof laat draai en uiteindelik het die hof toe in die produsente se guns beslis en gevind dat die staat wel die produsent moet vergoed.
Wetgewing gee tog die pas aan
Dr Rossouw meen egter die saak is eenvoudig: Daar word in relevante wetgewing voorsiening gemaak dat die regering produsente moet vergoed indien hul diere op dié manier van kant gemaak moet word. Aangesien daar talle voorbeelde is waar produsente vergoed is vir byvoorbeeld varke wat doodgemaak is weens Afrika-varkpes, moet dieselfde vergunning mos vir pluimveeprodusente gemaak word.
Talle hoenderprodusente en geïntegreerde hoendermaatskappye is tans besig om hulle op grond van die Moerasrivieruitspraak na die howe te wend. In 2023 is meer as 9,6 miljoen voëls doodgemaak; dit kan in ’n direkte verlies van R9,5 miljard vir die bedryf omgeskakel word – ’n aardige bedrag vir ’n regering om op te dok.
Die realiteit is dat daar nie vir produsente veel ander verweer is nie, aangesien die risiko van voëlgriep só hoog is dat daar eintlik nie meer ’n versekeraar in Suid-Afrika is wat hierdie risiko wil dra nie, sê Andries Wiese, hoof van landbouversekering by Hollard.
“Daar is wel internasionale versekeringshuise wat bereid is om hierdie risiko te dra, maar dis nie werklik binne die bereik van individuele pluimveeprodusente nie en selfs vir die meerderheid van groot, geïntegreerde hoendermaatskappye is die premie eenvoudig te hoog.” Wiese voeg by dat die meeste versekeraars in Suid- Afrika die gedwonge van-kant-maak van diere deur die staat uitsluit en nie dekking daarvoor bied nie.
Inentings bly ‘n tameletjie.
Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), sê daar is basies twee maniere om voëlgriep onder bedwang te kry, naamlik deur uitskot of inenting. “Tot nou toe was dit nie in Suid-Afrika, die Europese Unie of Amerika baie doeltreffend om net op uitskot te steun om die probleem op te los nie,” sê Breitenbach.
Amerikaanse eierprodusente het druk op die owerhede begin plaas om hul voëls in te ent weens die geweldige implikasies van die siekte. “In Suid-Afrika is 90% van Gautengse volwasse hoenders óf doodgemaak óf het in 2023 gevrek weens die land se ondoeltreffende biosekuriteitsmaatreëls en uitskotpraktyke.”
Inenting kan egter ’n deurslaggewende rol speel in die bekamping van die siekte, sê Breitenbach. “Frankryk het 20 miljoen eende suksesvol ingeënt wat mos wys dat dit wel gedoen kan word. In Suid-Afrika het ons die uitdaging dat ons produsente nie vergoed word vir die skade wat hulle gely het nie. En al is daar wel die geleentheid om plaaslik in te ent, kon geen plaas dit tot op hede regkry om aan die streng departementele vereistes te voldoen voordat hulle toestemming vir inenting kan kry nie.”
Selfs al sou ’n boerdery toestemming hiervoor ontvang, is daar ook nie ’n waarborg dat entstof beskikbaar sal wees nie. Suid-Afrika het tans drie geregistreerde entstowwe vir die H5-variant van voëlgriep, maar dit gaan nog ’n ruk neem om ’n entstof teen die H7-variant te ontwikkel, sê Breitenbach.
Die plaaslike penarie
Terwyl die probleem (letterlik) in die lug bly hang, kan Suid-Afrika enige tyd weer ’n groot uitbreking ervaar en oornag die helfte van sy pluimveebevolking verloor. Dit is ’n kwessie wat nie net finansieel katastrofies vir die hoenderbedryf sal wees nie, maar ook voedselsekerheid bedreig. Dit sal tot wanvoeding lei en tot nadeel van ons natuurlike hulpbronne wees, aangesien daar op groot skaal van hoenderkarkasse ontslae geraak moet word.
Dr Rossouw sê sy grootste kommer is steeds die staat se traak-my-nie-agtige houding jeens biosekuriteit. “Voëlgriep is en bly ’n soönose. Die moontlikheid bestaan dat dit na mense kan oordra as ons nie ons land se biosekuriteitsreaksie verbeter nie. Wat gaan ons doen as die volgende Covid-19-tipe uitbreking hom hier in Suid-Afrika afspeel?” – Susan Marais, Veeplaas

