Estimated reading time: 3 minutes
In die September-uitgawe van Veeplaas takel ons die belangrikste kwessies wat veeprodusente raak, insluitend nuwe uitdagings en moontlikhede in die varkbedryf, strategieë vir weidingsbestuur tydens die berugte doodmaakmaande, en die erns van bloubosluisbestuur. Lees ook hoe ’n omvattende water-oudit jou infrastruktuur kan beskerm, en ontmoet Veronica Rorich, Veeplaas se Klimaatslim Ambassadeur vir 2026 wat wys hoe passie vir die natuur en boerdery hand aan hand kan loop.
Die Suid-Afrikaanse varkbedryf: Uitdagings en moontlikhede
Die Suid-Afrikaanse varkbedryf bevind hom tans in ’n baie uitdagende tydperk wat deur stygende produksiekoste en komplekse markfaktore gekenmerk word. Hoewel die sektor voortdurend groei toon, plaas stygende voer-, energie- en brandstofpryse produsente se winsmarges toenemend onder druk. Hierdie ekonomiese realiteite, tesame met lae binnelandse per kapita-verbruik, strawwe kompetisie van goedkoper ingevoerde varkvleis en hoogs aansteeklike siekte-uitbrekings, skep ’n uitdagende omgewing. Lees meer hieroor in hierdie uitgawe van Veeplaas.
Veronica Rorich: Klimaatslim boerdery bied kos vir die siel én die veld
Boer jy om so veel geld as moontlik te maak, of boer jy uit ’n liefde vir die natuur? Vanjaar se Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-kompetisiewenner, Veronica Rorich, val in die laasgenoemde kategorie. Na ’n loopbaan as ’n sielkundige in Kaapstad, het sy besluit om na haar familiegrond terug te keer, omdat sy voel sy het ’n plig teenoor die natuur. Boonop koester sy kosbare herinneringe aan haar oupa se plaas. Veronica is ’n waardige Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-wenner wie se praktyke en suksesse selfs die beoordelaars verstom het. Lees oor Veronica se boerderybenadering in hierdie uitgawe.
Water-oudits: Klein kontroles kan groot verliese voorkom
Dit is belangrik dat landbouprodusente die toestand van hul waterinfrastruktuur evalueer voordat stygende temperature ekstra druk op damme, pyplyne en besproeiingstelsels plaas. ’n Omvattende water-oudit stel hulle in staat om swakpunte in wateropgaardamme en verspreidingsnetwerke te identifiseer en verhoed duur foute wanneer die vraag na water hoog is. Fanie Vorster, ’n spesialis in besproeiing, dreinering en landbou-infrastruktuursingenieurswese, verduidelik in hierdie uitgawe van Veeplaas hoe die algemeenste probleme op plase, soos lekkasies, deur roetine-instandhouding en vroegtydige herstelwerk voorkom kan word.
Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande
Die doodmaakmaande in Suid-Afrikaanse veeboerdery verwys na die uitdagendste oorgangstydperk in ’n jaarlikse leksiklusprogram. Hierdie tydperk strek gewoonlik vanaf middel-winter tot middel-lente. Dr Josef van Wyngaard, waarnemende nasionale tegniese bestuurder by Voermol, sê die doodmaakmaande in die somerreënvalstreke duur gewoonlik vanaf Julie tot September of selfs van Augustus tot Oktober. Gedurende hierdie tydperk is die gehalte en beskikbaarheid van natuurlike weiding op hul swakste, en die voedingswaarde van gras op sy laagste. In hierdie uitgawe van Veeplaas verduidelik hy waarom dit noodsaaklik is dat produsente ’n volledige en goed-beplande lekprogram volg.
Klouprobleme en mankheid by varke
Klouprobleme en mankheid by varke in intensiewe produksiestelsels is ’n wesenlike uitdaging wat eerder voorkom as behandel moet word. In ernstige gevalle kan klouprobleme verantwoordelik wees vir meer as 25% van die sôe wat uitgeskot word, aangesien dit hul beweeglikheid benadeel. Dit is belangrik om in ag te neem dat mankheid slegs ’n kliniese teken is en nie ’n diagnose nie. Die onderliggende oorsaak moet daarom deeglik ondersoek word; dit kan faktore soos virusse, bakteriese infeksies, voedingswanbalanse, ongunstige omgewingstoestande en klouprobleme behels. Lees in hierdie uitgawe meer hieroor.
Kry vandag nog jou eksemplaar van die September 2026-uitgawe van Veeplaas by jou naaste kleinhandelaar of maak seker dat jy daarop inteken. Veeplaas is as ’n interaktiewe blaaiboek by https://digimags.agriorbit.com/books/Veeplaas-September-2026_digimag/ beskikbaar en kan ook by https://www.magzter.com/ZA/Plaas-Media/Veeplaas/Business/ aangekoop word. Kontak Rochelle George by 074 153 8380 om in te teken op die PDF-weergawe of hardekopie.



