Estimated reading time: 5 minutes
Bloubosluise is een van die grootste parasietuitdagings wat Suid-Afrikaanse beesprodusente moet bestuur. Buiten die skade wat hierdie bosluise aanrig, is hulle ook draers van ernstige siektes wat tot groot ekonomiese verliese kan lei.
In die produsent se geval impliseer dit dat bosluisbeheer nie net gaan oor die bestuur van die parasiet nie, maar ook oor die voorkoming van siektes wat kuddeprestasie aansienlik kan affekteer. Met die groeiende weerstand teen bosluisbeheermiddels is dit nou, meer as ooit, belangrik om ‘n geïntegreerde benadering te volg.
Hoë-risiko tydperke
“Die risiko en voorkoms van bosluisoorgedraagde siektes soos rooiwater en galsiekte is gekoppel aan bosluisgetalle,” sê dr Tom Strydom, ’n onafhanklike veterinêre konsultant met ’n spesiale belangstelling in bosluise. “Die omgewing speel ’n belangrike rol in die vermeerdering van bloubosluise. Optimale reproduksie vind teen ’n temperatuur van sowat 27°C en relatiewe humiditeit van 80% plaas.”
In Suid-Afrika se somerreënvalstreke neem bosluispopulasies gewoonlik in September en Oktober skerp toe, en bereik vanaf middel Januarie tot middel Maart piekvlakke. Warm, vogtige toestande bevorder nie net die oorlewing van bosluise nie, maar ook die verspreiding van die siekteveroorsakende organismes waarvan hulle draers is.
Plaaslike bloubosluisspesies
Suid-Afrikaanse beesprodusente het hoofsaaklik met twee bloubosluisspesies te kampe: die gewone Afrika-bloubosluis (Rhipicephalus decoloratus) en die Asiatiese bloubosluis (Rhipicephalus microplus). Laasgenoemde staan ook bekend as die pantropiese bloubosluis. Die gewone bloubosluis kan beide Afrika-rooiwater (Babesia bigemina) en Asiatiese rooiwater (Babesia bovis) oordra, terwyl die Asiatiese bloubosluis uitsluitlik Asiatiese rooiwater oordra. Albei spesies kan ’n rol in die verspreiding van galsiekte (Anaplasma marginale) speel.
Bloubosluise is eengasheerbosluise, wat beteken dat die larf-, nimf- en volwasse stadia byna hul hele lewensiklus op dieselfde dier voltooi. Larwes heg aan die beeste terwyl hulle wei, voed vir sowat ’n week voordat hulle na die nimfstadium vervel, en ontwikkel daarna in volwasse bosluise. Die wyfiebosluis val dan van die dier af en lê tussen 2 500 en 3 500 eiers op die weiveld voordat sy vrek. Dit is hierdie vermoë om ‘n magdom eiers te produseer, wat verduidelik waarom bosluispopulasies binne ‘n kort tydperk kan ontplof indien behoorlike beheermaatreëls nie toegepas word nie.
Rooiwater en galsiekte
Rooiwater bly een van die mees gevreesde bosluisoorgedraagde siektes in die plaaslike veebedryf. Diere wat met Afrika-rooiwater besmet is, ontwikkel ’n hoë koors, anemie, swakheid en verloor hulle eetlus. Namate die siekte vorder, kan geelsug ontwikkel. “ ‘n Tipiese teken van Afrika-rooiwater by aangetaste beeste is donkerrooi tot swart urine,” verduidelik dr Strydom.
Indien siek diere vroegtydig geïdentifiseer word, is suksesvolle behandeling met produkte wat imidokarb of diminaseen bevat moontlik. Vinnige ingryping is egter noodsaaklik om vrektes onder beeste te voorkom.
Asiatiese rooiwater hou ’n selfs groter risiko in. “Asiatiese rooiwater is dodelik vir beeste. Voorkoming deur middel van inenting of intensiewe bosluisbeheer is die enigste manier om groot verliese te beperk.” In baie gevalle vrek besmette diere as gevolg van akute orgaanversaking, nog voordat kliniese tekens sigbaar is. Ander toon neurologiese tekens soortgelyk aan hartwater, waaronder ’n gebrek aan koördinasie, ‘n dier wat in sirkels loop en omval.
Galsiektetekens is dikwels soortgelyk aan dié van rooiwater, wat dit vir produsente moeilik maak om tussen die twee siektes te onderskei. Aangetaste diere ontwikkel koors, swakheid, anemie, verlies aan eetlus en geelsug. Rumenfunksie kan ook belemmer word, wat tot verdere komplikasies lei.
Een van die grootste uitdagings met galsiekte is dat diere wat herstel het lewenslange draers van die organisme bly. Die siekte kan weer kop uitsteek wanneer diere aan spanning blootgestel word. Behandeling steun grootliks op produkte wat imidokarb of oksitetrasikliene bevat. Soos in die geval van rooiwater, verbeter die kanse op herstel indien behandeling vroegtydig plaasvind.
Vroegtydige ingryping
Dr Strydom sê ouderdom speel ’n belangrike rol in diere se vatbaarheid vir bosluisoorgedraagde siektes. Beeste ouer as nege maande loop die grootste risiko om die siekte te ontwikkel. Kalwers beskik egter gedurende hul eerste lewensmaande oor ’n natuurlike weerstand. Hierdie tydperk bied die ideale geleentheid om immuniteit deur middel van inenting te vestig voordat die diere vatbaar word.
Lewende entstowwe teen rooiwater en galsiekte word deur Onderstepoort Biologiese Produkte vervaardig en is geregistreer vir gebruik in kalwers tussen die ouderdomme van drie en agt maande. Die entstowwe word gewoonlik toegedien wanneer kalwers ongeveer ses maande oud is.
Hy waarsku wel dat produsente vooruit moet beplan, aangesien immuniteit nie onmiddellik na inenting ontwikkel nie. Volledige beskerming teen rooiwater neem tussen vier en ses weke om te ontwikkel, terwyl immuniteit teen galsiekte tot agt weke kan neem.
Geïntegreerde beheer
Weerstand teen verskeie geregistreerde dipmiddels en inspuitbare produkte is reeds ’n werklikheid op talle plase. “Die dae dat daar uitsluitlik op dipprodukte staatgemaak word vir bosluisbeheer is verby,” sê dr Strydom. Hy raai produsente aan om geïntegreerde beheerprogramme te implementeer. Dit behels ‘n kombinasie van ’n reeks bestuurspraktyke, insluitend die korrekte gebruik van doeltreffende produkte, weerstandsbepaling, genetiese seleksie vir bosluisweerstandigheid, selektiewe behandeling van diere, weidingsbestuur, biosekuriteitsmaatreëls en inentingsprogramme.
Die doel is nie noodwendig om elke bosluis uit te wis nie, maar eerder om bosluispopulasies teen volhoubare getalle in stand te hou terwyl die risiko van siekte-oordrag verminder word. Die ontwikkeling van weerstandigheid kan teëgewerk word deur aksies soos selektiewe behandeling, die instandhouding van ‘n bosluisbevolking wat nie blootgestel is nie (refugia), die rotasie van aktiewe bestanddele, en die verantwoordelike gebruik van langwerkende produkte.
Biosekuriteit behoort ook baie meer aandag te geniet. Ingekoopte diere behoort in kwarantyn te staan en moet behoorlik gemonitor word voordat hulle by die kudde geplaas word. Selfs gebaalde gras kan bosluislarwes inbring.
Bloubosluise sal vir die afsienbare toekoms ‘n werklikheid op Suid-Afrikaanse beesplase bly. Dit is wel so dat die ekonomiese impak van hierdie parasiete nie noodwendig tot groot verliese hoef te lei nie. Die sleutel, beklemtoon dr Strydom, lê nie meer in ’n enkele behandeling nie, maar eerder in ’n geïntegreerde bestuursbenadering wat voorkoming, immuniteit en volhoubare beheer kombineer. – Nikilene Steenkamp, Veeplaas
Bron: Dr Tom Strydom, onafhanklike veterinêre konsultant. Vir meer inligting, skakel hom by 083 261 5891 of stuur ‘n e-pos na strydomtom@gmail.com



