Dis nou of nooit: OVK hou suksesvolle Boer vir die Toekoms-boeredag

Estimated reading time: 4 minutes

Besoekers aan die OVK Boer vir die Toekoms-boeredag op 4 September by die Bloemskougronde, het die koue dag op gepaste wyse met ‘n warm koppie koffie en beskuit in die hand afgeskop. Produsente kon nuwe en bestaande produkte by nagenoeg 30 stalletjies beskou. Die dag het ‘n netwerkgeleentheid gebied waartydens boere met OVK se bestuur, asook die borge en uitstallers kon skouers skuur en belangrike vrae vra.

Die dag is geopen deur Christel Basson van OVK, die organiseerder van die dag. Sy het ‘n spesiale woord van dank aan die hoofborg, Engen, asook verskeie ander borge, waaronder Pannar Saad, Stafix, AGCO Corporation, Elanco, Agrinet, Beck Trading, Tork Craft en Irrigation Unlimited uitgespreek. Engen is deur Marvin Nelson verteenwoordig. Hy het Engen se toewyding tot suksesvolle landbou beklemtoon waarna ‘n Engen-koopbewys aan ‘n gelukkige wenner oorhandig is.

Van links is Timon Dedekind van Plaas Media, dr Tracy Davids van BFAP, Christel Basson van OVK, Edward Mokoena van Plaas Media, en dr Johan Beukes, spreker.

Oorsig oor OVK se werksaamhede

Stéfan Oberholzer, besturende direkteur van OVK, het die maatskappy se jongste finansiële verslag, diensarea en dienste bespreek, waarna Conrad Cronjé, hoofbestuurder van finansies, kliëntefinansiering en versekering by OVK, meer vertel het oor die finansiële hulpbronne wat vir produsente beskikbaar is. Hy het veral klem geplaas op die koste van finansiering en oesversekering.

Lourens Engelbrecht, OVK se hoofbestuurder van handel, het ’n volledige oorsig oor die maatskappy se handelsdepartement gebied en verduidelik hoe dié afdeling verskillende provinsies bedien. Hy het onder meer genoem dat OVK se kunsmisproduksiekapasiteit vergroot is en dat produsente nou kunsmis in ’n verskeidenheid groottes kan aankoop.

Rocky le Roux, hoofbestuurder van meganisasie en motors, het OVK se toewyding tot die verskaffing van goeie-gehalte gereedskap, trekkers en masjinerie bevestig en die maatskappy se vennootskap met belangrike rolspelers in die voertuigbedryf bespreek. Jacques le Roux, hoofbestuurder van vesel, het op sy beurt verduidelik hoe hierdie afdeling van die maatskappy sukses behaal het en die belangrikheid van verhoudings tussen OVK-agente en produsente beklemtoon.

Rudolph van Wyk, uitvoerende direkteur van graan en lewendehawe, het die uitdagings soos weersomstandighede, siektes en die breër ekonomiese druk uitgelig, maar produsente gerusgestel dat OVK sal voortgaan om landbouers te ondersteun. Dirk du Plessis, hoofbestuurder van korporatiewe dienste en maatskappysekretaris, het gefokus op die werksgeleenthede wat OVK skep, veral vir die jeug.

El Niño en die toekoms

Dr Tracy Davids, direkteur by die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het in haar aanbieding interessante markinligting weergegee. Sy het onder meer BFAP se 2026-basislynverslag bespreek. Ondanks talle tekortkominge is die wêreldekonomie steeds besig om te groei, het sy gesê. Die Suid-Afrikaanse landbousektor groei ook steeds en het sedert 2011 drie keer vinniger as die res van die Suid-Afrikaanse ekonomie gegroei.

Gewasproduksie het aansienlike groei ervaar, alhoewel dit wisselvallig was. Die sektor toon egter steeds ’n opwaartse tendens. El Niño is ‘n bron van kommer wat die volgende produksieseisoen betref, maar dr Davids het beklemtoon dat ’n sterk El Niño nie noodwendig droogte beteken nie. Historiese data toon slegs ’n 44% kans op ‘n erge droogte. Dit verlig egter nie produsente se kommer nie en gevolglik word verwag dat daar in die volgende seisoen minder geplant sal word.

Sy het klem gelê op positiewe nuus uit die veebedryf wat geleenthede vir groei skep. Bees- en skaapvleis het oor die jare belangrike uitvoerprodukte geword, wat groter oorsese markte ontsluit. Daar is baie potensiaal om groter waarde te skep. Dit is egter so dat toekomstige groei nie outomaties en maklik gaan gebeur nie.

Dis nou of nooit

Dr Johan Beukes is ’n leierskap- en spanafrigter, strateeg en fasiliteerder. Hy het produsente toegespreek oor die toekoms en gesê indien boere nie nou al iets doen nie, gaan hulle nie in die toekoms kan boer nie – dis nou of nooit. Hy het klem geplaas op drie aspekte wat tot ’n leeftyd se sukses kan bydra.

Die eerste is om jou natuurlike talente en passies te gebruik en uit te leef. Die tweede behels ‘n kopskuif, naamlik dat ons nie vir geld werk nie – geld is eerder die brandstof wat ons help om te doen waarvoor ons lief is. Derdens, het dr Beukes gesê, moet elkeen die innerlike vuur aan die brand hou deur te doen waarvoor jy lief is. – Timon Dedekind en Edward Mokoena, Plaas Media & Universiteit van die Vrystaat

Bloubosluise: Voorkoms, siekterisiko’s en voorkoming

Estimated reading time: 5 minutesBloubosluise is een van die grootste parasietuitdagings wat Suid-Afrikaanse beesprodusente...

A free-range label for pigs on grazing

Estimated reading time: 6 minutesSimon Goble knew from an early age that he wanted...

Vaaltyn van die Noordweste

Estimated reading time: 6 minutesDie donkie is ’n dier wat gehelp het om die...

Stockfarm September 2026 hits the shelves

In the September 2026 edition of Stockfarm, we unpack the challenges that South Africa’s...