Dieresiektes is onvermydelik in ’n veeboerdery en verg spesiale aandag. Die belangrikheid daarvan word soms oor die hoof gesien en kan gevolglik tot groot skade lei. Volgens dr Chris van Dijk, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF), is die gesondheidstatus van die nasionale kudde tans in ’n beter toestand as in vorige jare. Die nasionale gesondheidstatus van vee word egter deur die gesondheidstatus van individuele kuddes beïnvloed.

Daar is gebiede in die land waar die status goed is omdat produsente daar hul kuddes reg bestuur, maar in ander dele kom probleme voor weens produsente wat nie voldoende aandag aan hul kuddes se gesondheid gee nie.

Die voorkoms van ’n dieresiekte sluit nie net die kliniese gevalle in ’n kudde in nie. Vir elke dier wat klinies siek is, is daar ’n groep diere wat die siekte onderliggend het, sonder ooglopende simptome. Dit is dus belangrik vir die produsent om goeie kudde-immuniteit teen die algemeenste siektes in die omgewing op te bou, ten einde produksieverliese en vrektes te voorkom.

Gesondheidsbestuur op die plaas

Wanneer produsente hul diere se gesondheid in oënskou neem, moet daar nie net na die vrektes op die plaas gekyk word nie, maar ook na die algemene gesondheid van die diere se immuunstelsels. Die immuunstelsel van ’n dier kan dramaties verbeter word deur die regte entstof op die regte tyd toe te dien.

Volgens dr Van Dijk word beskikbare entstowwe soms lukraak gebruik en slegs 15 tot 20% van alle vee word teen van die bekendste veesiektes ingeënt. Die oorblywende 80% wat nie ingeënt is nie, dra gedeeltelik by tot die onbeheerstheid van sekere dieresiektes in Suid-Afrika. Kudde-immuniteit is uiters belangrik op plaas- sowel as nasionale vlak.

Hy maan verder dat entstof die laaste inset is waarop produsente geld moet probeer spaar. Die rol van die veearts moet meer prominensie in die boerdery geniet en daar moet ’n werkende verhouding tussen die produsent en die veearts wees. Die veearts sal raad kan gee oor die belangrikste siektes in die omgewing waarteen ingeënt moet word, asook ander siektes waarvoor die veeboer op die uitkyk moet wees.

Sleutelfaktore vir gesondheid

Die gesondheidsprogram vir die kudde moet drie sleutelfaktore in ag neem, naamlik die gasheer van die siekte, die patogeen of agent wat die siekte oordra en die natuurlike omgewing waarin die boerdery bedryf word. Dié faktore sal hoofsaaklik bepaal teen watter siektes ingeënt moet word asook watter siektes ’n kleiner bedreiging vir die kudde inhou.

Die belangrikste riglyne vir algemene gesondheidspraktyke, soos deur dr Van Dijk voorgehou, word in hierdie artikel uiteengesit en is van toepassing op melk- en vleisbeeste sowel as skape.

Siektes onder melkbeeste

Met melkboerderye se lae winsmarges kan melkprodusente geensins ’n verlies in melkproduksie of -gehalte bekostig nie. Ewe belangrik is om die korrekte somatiese seltelling in die melk te hê. ’n Wanbalans in dié telling kan maklik deur ’n siekte veroorsaak word. Laktasietydperke kan ook negatief deur eenvoudige, voorkombare siektes beïnvloed word.

Algemene siektes wat groot verliese vir melkplase inhou, is die klostridium-verwante siektes. Dit veroorsaak diarree by kalwers, sponssiekte by alle diere en kan ook tot botulisme en tetanus lei. Rooineus of aansteeklike beesrhinotrageïtis (IBR) is ’n respiratoriese siekte wat veral in kalwers by melkboerderye voorkom. Die siekte is immuun-onderdrukkend en kan aborsies veroorsaak.

Hoewel die uitbreek van klostridiale siektes tot grootskaalse verliese kan lei, kan dit voorkom word deur die diere daarteen in te ent. Dit is tog beter om ’n beplande hoeveelheid geld aan ’n entstof te bestee, as om duisende rande weens vrektes en produksieverliese te verloor.

Buiten die voorgenoemde siektes, moet melkboere nie die bosluisoordraagbare siektes uit die oog verloor nie. Rooiwater en galsiekte raak ’n ál groter bedreiging vir die lewensvatbaarheid van melkkuddes en daarom moet jong diere vroeg daarteen ingeënt word.

Dit is ook belangrik om ’n goeie veedipprogram te volg en middels korrek toe te dien. Die verkeerde gebruik van middels teen uit- en inwendige parasiete kan veroorsaak dat die parasiete weerstand teen die middels opbou. Dit kan lei tot ’n afname in die immuniteit van die dier.

Siektes onder vleisbeeste

Geslagsiektes is uiters belangrik en kan ’n groot impak op ’n vleisbeesboerdery se wins maak. Trigomoniase en vibriose kan onopgemerk in jou kudde inkom en versprei, indien geen vaste dekseisoen of teelprogram gevolg word nie. Wanneer ’n teelprogram gevolg word, sal hierdie siektes vinniger bespeur word deur die voorkoms van lae dragtigheids- en kalfpersentasies.

Bykomende kuddeverliese weens siektes soos drie-dae-stywesiekte, akute diarree by kalwers, rotavirus, coronavirus en E. coli, kan beheer word deur beeste op die regte tyd in te ent.

Dit word aanbeveel dat die veearts die bulle se geslagsgeskiktheid, wat skedewasse insluit, vóór elke teelseisoen toets. Sodoende kan geslagsiektes vroeër opgemerk word, wat produsente in staat sal stel om betyds in te gryp. Die uitslae van hierdie toetse sal bepaal of inenting nodig is of nie.

Dr Van Dijk beklemtoon ook die belangrikheid van kriptosporidium in vleisbeeskuddes. Hierdie siekte begin al hoe meer kop uitsteek, veral waar organismes soos rota- en coronavirus voorkom. Hierdie virusse maak die omgewing gunstiger vir diere om met kriptosporidium besmet te word.

Wanvoeding, byvoorbeeld laer vlakke van minerale en vitamiene, dra ook tot die uitbreek van kriptosporidium in kuddes by. Dit benadruk weereens die belangrikheid van korrekte kudde- en voedingsbestuur.

Daar word ook nou meer intensief as in die verlede geboer, wat verder daartoe aanleiding gee dat siektes meer gereeld voorkom.

Bykomende kuddeverliese weens siektes soos drie-dae-stywesiekte, akute diarree by kalwers, rotavirus, coronavirus en E. coli, kan beheer word deur beeste op die regte tyd in te ent. Dit sal ’n gepaste immuunreaksie verseker, wat belangrik vir die opbou van immuniteit in die beeste is. Kalwers moet dus nie te vroeg ingeënt word nie en produsente moet die inentingsprogram by die biologiese siklus van die beeste aanpas.

Siektes onder skape

Net soos by vleisbeeste, is dit belangrik om na die geslagsgeskikteid van jou ramme en ooie om te sien. Subkliniese gevalle van peestersiekte sal dalk nie aanvanklik ’n beduidende invloed op die lampersentasie van jou kudde hê nie, maar indien dit erger raak, kan dit die boerdery tot stilstand dwing. Dit kan veroorsaak dat ramme, sowel as ooie, ongemak tydens die dekseisoen ondervind, wat tot ’n laer besettingsyfer sal lei.

Brandsiekte sal wel nie tot vrektes onder skape lei nie, maar kan swakker wolproduksie veroorsaak. Dit is ’n immuun-onderdrukkende siekte en kan dus tot die uitbreek van ander siektes aanleiding gee. Vuilbek en vrotpootjie kan ook die produksie van jou kudde erg benadeel.

nasionale kudde
So lyk ‘n myt wat brandsiekte by skape veroorsaak

Dr Van Dijk raai skaapboere aan om diere eers deeglik te ondersoek voordat hulle gekoop word. Deur na die wol, bek en kloue van nuwe skape te kyk, sal die produsent die verspreiding en blootstelling van hierdie siektes op sy of haar plaas kan voorkom.

Brusellose – ’n dodelike vyand

Brusellose is ’n kuddesiekte wat nie net ’n bedreiging vir vee inhou nie, maar ook vir alle mense wat met besmette diere in aanraking kom. Die siekte versprei maklik in die kudde en kan ’n groot aantal aborsies teweegbring, met ’n gevolglike laer wins en swak kudde-groeipeil.

Tydens ’n aanlynwerkswinkel vroeër vanjaar het dr Alicia Cloete, in samewerking met die NDGF, die nuwe sewepunt-beleid oor brusellose verduidelik. Die beleid behels inenting, opleiding, toetsing, bewegingsbeheer, slagting, aanmelding en beheermaatreëls ten opsigte van brusellose.

Om hierdie siekte doeltreffend hok te slaan, moet alle rolspelers in die veebedryf hul deel doen. Produsente word wetlik verplig om vroulike diere tussen drie en agt maande teen brusellose in te ent en om slegs vee uit kuddes te koop wat ’n gesertifiseerde negatiewe brusellose-status het.

Ten slotte

Veeboere moet die immuniteit van hul kuddes so hoog as moontlik hou en siektegevalle so min as moontlik. Dit is belangrik om diere nie net lukraak in te ent nie, maar eerder ’n strategiese en doeltreffende inentingsprogram teen die belangrikste siektes wat in die spesifieke omgewing voorkom, te volg.

Die bestuur van voeding, weiding, dekseisoene en draers is nét so belangrik soos die toediening van entstof. Wees bewus van draers wat siektes oordra, soos vlieë, muskiete en bosluise. Deur biosekuriteit korrek op plaasvlak toe te pas kan baie siektes voorkom word en sal die gesondheidstatus van die nasionale kudde daarby baat. – Mario van den Heever, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir verwysings, stuur ’n epos aan die outeur by VanDenHeeverMJJ@ufs.ac.za.