Skaap met orf, vuilbek
Inenting is die beste manier om ’n orf-besmetting in die kudde te voorkom.

Estimated reading time: 4 minutes

Sommige lesers het waarskynlik al te doen gehad met skape of bokke wat met orf besmet was. Orf – ook algemeen bekend as ‘vuilbek’ – is ’n virus wat deel van die parapoxvirus in die poxvirus-familie uitmaak en die vel en slymvliese van diere ontsteek.

Orf kom gewoonlik onder skape, bokke en veral jong diere voor. Dit kan tot ernstige bakteriële besmetting lei as dit nie korrek bestuur word nie. Dit kan ook oorgedra word aan mense wat besmette diere hanteer en vorm rooi of blou letsels op die vingers, hande, onder die arms en in die gesig. By mense kan dit met antibiotika behandel word, maar hoe gemaak as jou diere besmet is?

Dr Freddie Strauss, ’n veearts by die Hertzogbrug Dierekliniek in Aliwal-Noord, werp lig op die onderwerp.

Epidemiologie

Die virus toon geen spesifieke voorkeure nie en tas alle kleinvee, ooie én ramme, aan. “Oordrag vind plaas deur direkte kontak of deur rofies of korse wat afval en só die virus oordra aan ander skape of bokke wat daarmee in aanraking kom,” sê dr Strauss.

“Die meeste besmettings kom voor wanneer baie skape saamdrom, byvoorbeeld in voerkrale of in krale waar hulle lam of geklas word. Ooie kan die virus in lamtyd oordra en lammers wat soog, kan ook maklik besmet raak as hulle aan uiers met letsels suig.”

Wanneer voer met baie takkies daarin gevoer word, kan lammers die vel rondom hul bekke beskadig, wat dan as ’n broeiplek vir die virus dien. Dr Strauss sê as bokke aan stekelrige struike vreet, kan dit ook tot ’n hoër besmettingskoers lei.

“Verder sien ons dat jong diere wat op groen weiveld met baie vog in die grond loop, ’n versagting van die vel net bokant die hoef kan ontwikkel. Dit kan wonde in die koronêre band veroorsaak, asook letsels tot by die kroon van die hoef (die boonste grens van die hoef).”

’n Onderdrukte immuunstelsel verhoog lammers se kanse om orf op te doen. In aangetaste troppe kan tussen 50 en 100% van die diere siek word, terwyl tussen 20 en 50% kan vrek.

Behandeling

Terwyl beskermende klere gedra word, kan die korsies versigtig met ’n kwas verwyder word. Dit veroorsaak dat die letsel bloei en sodoende vinniger genees. Dr Strauss beveel aan dat ’n jodiumsproei of genesende salf op die letsel aangewend word sodra die korsie verwyder is, om ’n velinfeksie te help voorkom.

Dit is wenslik om die besmette dier met Duplocillin (1ml per 20kg) in te spuit om sekondêre infeksies te voorkom.

Voorkoming

Inenting is die beste manier om ’n orf-besmetting in die kudde te voorkom. Volgens dr Strauss kan ’n outogene entstof vir spesifieke omstandighede vervaardig word om mikroörganismes te isoleer en te vernietig, en die dier se immuniteit te bevorder. Dit kan slegs deur ’n veearts gedoen word.

Die gesondheid van die nasionale kudde begin op die plaas.

Dragtige ooie wat ingeënt is, dra ongelukkig nie immuniteit aan hul lammers oor deur biesmelk nie. Dit is dus die beste praktyk om lammers op een maand oud in te ent en twee maande later ’n skraagdosis te gee. Dit is belangrik om die lammers en ooie wat reeds ingeënt is, weg van die res van die kudde te hou totdat alle entstofreaksies opgeklaar het.”

Om te keer dat die virus die plaas binnedring en die kudde besmet, raai dr Strauss produsente aan om biosekuriteitsmaatreëls op hul plase te verhoog. “ ’n Mens kan byvoorbeeld nuut-aangekoopte ooie en lammers van die res van die kudde afsonder en daarna vir minstens drie weke in isolasie hou. Ondersoek hierdie diere daagliks vir kliniese tekens van orf.

“Dieselfde geld wanneer jy jou ooie op ’n veiling wil verkoop. Jy moet elkeen vooraf ondersoek vir enige korse rondom die mond en uiers.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Strauss by 076 589 3595 of freddiestrauss@yahoo.co.uk.

orf
wegholveldbrande, veldbrande