Estimated reading time: 4 minutes

Winter is die tyd van die jaar wanneer grondeienaars in landelike gebiede hul asems op winderige dae ophou en wag vir berigte op die tweerigtingradio of WhatsApp van ’n veldbrand wat op pad is. Die gevolge van die brande, waarvan die ontstaan en verspreiding nie betyds voorkom kan word nie, is skielik en brutaal. Dit is, sonder twyfel, hierdie vernietigende gevolge wat die stigting van brande so ’n aantreklike opsie vir boosdoeners maak.

Lees verwante artikels.

Terwyl dit ’n werklikheid is dat die ontstaan en verspreiding van bos- en veldbrande nie altyd voorkom kan word nie, is daar wel omstandighede waar die ontstaan en verspreiding van brande voorkom kon word en waar ’n versuim om op te tree, regsaanspreeklikheid vir skadevergoeding vir grondeienaars of huurders kan veroorsaak.

Wetgewing rondom brande

Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (Wet 101 van 1998) is spesifiek daarop gerig om die reg rondom veld- en bosbrande te hervorm en, by wyse van regulering, ’n stelsel in plek te hê om hierdie brande te bestry. Die Wet het nie net standaarde vir die voorkoming van brande ten doel nie, maar het ook die reg ten opsigte van aanspreeklikheid vir skadevergoeding as gevolg van die ontstaan en verspreiding van brande hervorm.

Onderliggend tot die oogmerke van die wet is die totstandkoming van goedgekeurde brandbestrydingsverenigings vir al die onderskeie geografiese en klimaatstreke binne die grense van Suid-Afrika. Die doel van geregistreerde brandbestrydingsverenigings is om deur ’n lys voorgeskrewe verpligtinge en reëls, wat teen lede van die vereniging afgedwing kan word, die ontstaan en verspreiding van veld- en bosbrande te voorkom.

As gevolg van die diversiteit van die verskillende klimaat- en ekologiese streke in ons land, word hewig staatgemaak op brandbestrydingsverenigings om unieke en spesifieke strategieë en beleide te ontwikkel vir brandbestryding in elke streek.

Eise vir skadevergoeding

’n Eis waarvolgens iemand vir skadevergoeding aanspreeklik gehou sou word, berus op wat regtens beskryf word as ’n delik. ’n Delik bestaan uit ’n sekere aantal elemente of ’n lys van regsvereistes, wat in hofstukke beweer moet word en by wyse van bewyslewering in ’n hof voorgelê moet word. In die algemeen sou die bewyslas of plig om ’n eis te bewys, op die persoon berus wat die skadevergoeding eis.

Ten opsigte van die ontstaan en/of verspreiding van brande, sal die eiser normaalweg en buiten die ander elemente van ’n delik, moet bewys dat die persoon wat vir skade aanspreeklik gehou word, versuim het om sekere pligte en voorkomende verpligtinge na te kom. Die standaarde wat die inhoud van hierdie pligte bepaal sal, buiten die vereistes wat die Wet self oplê, tot ’n groot mate deur die beleid van die plaaslike brandbestrydingsvereniging bepaal word.

Dit maak gevolglik sin vir grondeienaars of -huurders om enersyds by ’n brandbestrydingsvereniging aan te sluit en andersyds die standaarde van die vereniging vir die streek na te kom. Die alternatief sou wees om hierdie standaarde te ignoreer en die risiko te loop om in die toekoms regtens aanspreeklik gehou te word vir skadevergoeding, indien dit bewys kan word dat ’n versuim om enige van die standaarde na te kom, die oorsaak vir die ontstaan of verspreiding van ’n brand na ’n aangrensende plaas is. In dié verband kan iemand aanspreeklik gehou word vir brande op ’n ander eiendom omdat, byvoorbeeld, geen of onvoldoende brandbane gemaak is.

Belangrikheid van lidmaatskap

Daar is egter ook, regtens, ’n verdere risiko verbonde aan die feit dat lidmaatskap van ’n brandbestrydingsvereniging nie opgeneem word nie. Soos reeds aangedui, sou die eiser die eis moet bewys, maar ingevolge die Wet word regtens ’n vermoede geskep, deurdat ’n persoon wat nie ’n lid van die brandbestrydingsvereniging is nie, nalatig was.

Die vermoede kan wel weerlê word, maar anders as by ander eise vir ’n delik, skuif die bewyslas, wat op die eiser rus om die elemente van ’n delik te bewys, oor na die verweerder (die persoon wat aanspreeklik gehou word). Die verweerder moet dan sy/haar onskuld bewys. Lidmaatskap van ’n brandbestrydingsvereniging verhoed dat hierdie vermoede ingespan kan word.

Verskeie versekeringsprodukte is beskikbaar om die risiko vir aanspreeklikheid vir brande te dek, maar dit bly ’n gegewe dat lidmaatskap van ’n brandbestrydingsvereniging ’n voorvereiste in die polisvoorwaardes van hierdie soort versekeringsdekking is.

Die nakoming van wetgewing het ten doel om gemeenskappe te dwing om saam te werk om veld- en bosbrande te bestry en die vernietigende effek daarvan op lewens en eiendom te voorkom. Voorkoming is, in alle opsigte, beter as genesing wanneer brande ter sprake is. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

wegholveldbrande, veldbrande