Saturday, September 14, 2024

Die direkte en indirekte impak van bankrotwurm

Estimated reading time: 2 minutes

Verskeie spesies van die genus Trichostrongylus, dalk beter bekend as bankrotwurm, behoort aan die familie Trichostrongylidae en word in die voorste gedeelte van die dunderm van skape, bokke en beeste aangetref. Hierdie klein rondewurms word as ’n winter- tot lenteparasiet beskou.

Vroulike bankrotwurms lê hul eiers in die spysverteringskanaal van die gasheer en kan binne 24 uur tussen 100 en 10 000 eiers lê. Die eiers word deur die mis van die gasheer uitgeskei en besoedel gevolglik die weidings en veld waarop die vee wei.

Larwes broei in die mis uit en ontwikkel van L1- tot L3-stadiumlarwes, waarna hulle na die weiding migreer en wag om deur die vee ingeneem te word. Binne die gasheer ontwikkel hierdie rondewurms tot volwassenes wat kan voortplant.

Lees meer oor hittestres oonder vrylopende beeste.

Tekens en simptome

Diere wat met bankrotwurm besmet is toon tekens van gewigsverlies, anoreksie, buikpyn, diarree en progressiewe verswakking. Dit is ’n duidelike teken dat die vee ontwurm moet word.

Defektiewe beenontwikkeling is al waargeneem by jong vee wat met bankrotwurm besmet is. Dit kan aan die gevolglike versteuring van die absorpsie van kalsium, fosfor en vitamien A uit die dunderm toegeskryf word.

Leer meer oor hoe om bees respiratoriese siekte te bekamp.

Ekonomiese impak

In die winterreënvalstreke kan bankrotwurm een van die ekonomies belangrikste parasiete wees. Vee wat met die parasiet besmet is, benodig twee keer soveel voer en voedingstowwe om dieselfde gewigte as hul onbesmette eweknieë te behaal.

Produsente kan óf direk óf indirek deur hierdie infeksies geraak word. Die direkte impak van bankrotwurmbesmetting manifesteer in vrektes en verlaagde produksie, terwyl die indirekte impak aan die bykomende koste van behandeling, arbeid en behuising gesien word. Dit plaas ’n groot beperking op die produsent se wins.

Lees meer oor bloutong.

Diagnose en beheer

’n Fekale flotasietoets is een van die algemeenste metodes wat gebruik word om bankrotwurm by vee te diagnoseer.

’n Goeie manier om inwendige parasiete soos bankrotwurm te beheer en te behandel, is deur ontwurming. Daar is verskillende tipes en groepe ontwurmingsmiddels op die mark beskikbaar, insluitend opgietmiddels, inspuitbare middels en dié wat mondelings toegedien word. Produsente wat oorweeg om hul diere te ontwurm, moet hiervan kennis neem.

Lees meer oor beesleukose.

Weidingbestuur is ’n belangrike hulpmiddel om die verspreiding van rondewurms te beheer. In hierdie verband is ’n wisselweidingstelsel – waar vee van een weiding na die volgende verskuif word – noodsaaklik om die kanse op besmetting te verminder.

’n Alternatiewe manier om rondewurmbesmetting in jou vee te verminder, is deur die teling en seleksie van diere wat inherente weerstand teen rondewurmbesmetting het. – Cleary Martin, Agri FARMACY SA

Vir meer inligting of bronverwysings, stuur ’n epos aan die outeur by simpsonvicleary@gmail.com.

Popular stories