Estimated reading time: 4 minutes
- Volhoubare praktyke is in die Suid-Afrikaanse veebedryf ’n konsep waarsonder produsente nie winsgewend kan boer nie. Dit is gevolglik noodsaaklik dat siektetoestande en parasietinfestasies soos dié van die bankrotwurm in ag geneem word om kudde- en ekonomiese verliese te voorkom.
- In die geval van bankrotwurm staan die nematode wat die moeilikheidmaker is as Trichostrongylus bekend. Hierdie nematode se lewensiklus verskil van haarwurms deurdat die eiers dwarsdeur die droë wintermaande in die veld kan oorleef.
- Bankrotwurmpopulasies floreer veral in warm en vogtige klimaatstoestande. Dit sluit areas in waar digte plantegroei voorkom, wat die ideale omgewing vir larwes skep. Hierdie areas moet korrek bestuur word.
- Die klein nematode wat aan dieselfde groep as ronde- en draadwurms behoort, affekteer veral herkouers soos beeste, skape en bokke.
- Daadwerklike optrede is noodsaaklik indien besmetting vermoed of gediagnoseer word. Verskillende ontwurmingsmiddels is beskikbaar en die keuse daarvan hang af van die mate van besmetting en die betrokke dier se gewig en ouderdom.
Volhoubare praktyke is in die Suid-Afrikaanse veebedryf ’n konsep waarsonder produsente nie winsgewend kan boer nie. Dit is gevolglik noodsaaklik dat siektetoestande en parasietinfestasies soos dié van die bankrotwurm in ag geneem word om kudde- en ekonomiese verliese te voorkom.
In die geval van bankrotwurm staan die nematode wat die moeilikheidmaker is as Trichostrongylus bekend. Hierdie nematode se lewensiklus verskil van haarwurms deurdat die eiers dwarsdeur die droë wintermaande in die veld kan oorleef. Die wurm het die vermoë om vinnig in die gasheer te vermeerder, met onaangename gevolge. Die besmette vee kan ernstige gesondheidsprobleme ontwikkel wat tot potensiële ekonomiese verliese kan lei. Die naam ‘bankrotwurm’ is gevolglik gepas.
Lees meer oor bankrotwurm hier.
’n Ekonomies gevaarlike parasiet
Bankrotwurmpopulasies floreer veral in warm en vogtige klimaatstoestande. Dit sluit areas in waar digte plantegroei voorkom, wat die ideale omgewing vir larwes skep. Hierdie areas moet korrek bestuur word.
Produsente moet veral op hul hoede wees vir die parasiet gedurende die warmer maande en in die winterreënvalstreke van die land waar vogtige toestande kan voorkom. Die risiko vir bankrotwurmbesmetting verhoog ook wanneer kuddes op besmette weivelde wei.
Ontmasker die oortreder
Die klein nematode wat aan dieselfde groep as ronde- en draadwurms behoort, affekteer veral herkouers soos beeste, skape en bokke. Hulle leef hoofsaaklik in die dunderm en soms ook in die melkpens (abomasum) van herkouers. Die wurmpies, wat feitlik onsigbaar vir die onervare oog is weens hul grootte, is met hul voorlyf in die slymvlies van die maag en derm ingeryg. Die wurms voed op hul gasheer se bloed en rig erge skade in die derm- en maagwande aan.
As die dunderm van ’n besmette dier ondersoek word, vind ons gewoonlik dat die voorste deel van die derm effens rooi is en die slymvlies verdik is. Die fyn wurmpies is in goeie lig sigbaar.
Tipiese simptome van besmetting
Die simptome van bankrotwurmbesmetting moet vinnig geïdentifiseer word vir spoedige optrede.
Die tekens van besmetting mag wissel, maar algemene simptome sluit in:
- Gewigsverlies: Die wurm wat op die bloed van die gasheer teer, veroorsaak dikwels vinnige gewigsverlies in besmette kuddes.
- Anemie:Diere word gekenmerk aan bleek slymvliese en traagheid. Die Famacha-stelsel kan handig te pas kom by die identifisering van anemie.
- Diarree:Ontwatering en verdere agteruitgang vind plaas as gevolg van erge diarree.
- Verlaagde melkproduksie:‘n Afname in melkproduksie en algehele verlaagde produktiwiteit onder melkbeeste kan voorkom.
- Algemene swakheid:Kuddes wat deur bankrotwurms besmet is, mag swak voorkom. Verlaagde energievlakke en traagheid om te wei word waargeneem.
Behandelings- en bestuurstrategieë
Daadwerklike optrede is noodsaaklik indien besmetting vermoed of gediagnoseer word. Verskillende ontwurmingsmiddels is beskikbaar en die keuse daarvan hang af van die mate van besmetting en die betrokke dier se gewig en ouderdom.
Weerstandigheid teen aktiewe bestanddele in die middel moet in ag geneem word. Dit is dus noodsaaklik om saam met ’n veearts te werk wat die nodige wurmeiertellings kan uitvoer, die omvang van die besmetting kan assesseer, en die korrekte medikasie sal toedien. Produsente moet altyd die aanbevole doseringsriglyne van ’n produk asook die onttrekkingstydperk volg, omdat dit die veiligheid van vleis- en melkprodukte verseker.
Vermy verliese
Voorkoming is die sleutel tot die bestuur van bankrotwurmbesmetting en vir die handhawing van algemene kuddegesondheid. Skape wat uiters vatbaar vir bankrotwurm is, sluit in Persieskape, karakoele en basters.
Verskeie proaktiewe maatreëls kan gevolg word om kuddes skoon te hou. Dit sluit onder andere in:
- Wisselweiding:’n Rotasiestelsel kan die risiko van bankrotwurmbesmetting verminder deurdat oorbeweiding voorkom word en diere so min as moontlik aan besmette areas blootgestel word.
- Weidingsbestuur: Larfontwikkeling word vertraag/voorkom deur gereelde verwydering van mis en die sny van weidings.
- Kwarantyn en monitering:Nuwe diere moet eers vir ’n tydperk in kwarantyn geplaas word en sorgvuldig dopgehou word vir tekens van parasitiese infeksies.
- Selektiewe teling:Sommige beesrasse toon natuurlike weerstand teen sekere parasiete. Selektiewe teelprogramme kan weerstandigheidseienskappe in ’n kudde versterk.
- Voedingsbestuur:’n Gebalanseerde dieet en die nodige voedingstowwe (vitamiene en minerale) versterk diere se algehele gesondheid en weerstand teen parasietinfeksies. – Dr Marette Dreyer, Kariega Dierekliniek
Vir meer inligting, kontak drs Marette Dreyer of Waldo Dreyer by 046 648 1722 of kariegavet@gmail.com.