Beesleukose: ’n Kanker wat op die melkbedryf teer

414

Die beesleukosevirus (BLV) saai verwoesting onder melkkuddes regoor die wêreld. In Suid-Afrika staar meer as ’n duisend melkprodusente geweldige ekonomiese verliese in die gesig indien die verspreiding van hierdie virus nie stopgesit word nie.

Dr Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie (MPO), het onlangs deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor dié onderwerp, tydens die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) se virtuele kongres in 2020. Dr Sello Maboe van die Universiteit van Pretoria, prof Leon Prozesky, eienaar van Path Diagnostics Africa, en dr Otto Kriek, ’n praktiserende veearts in die Wes-Kaap, was ook deel van die paneel.

BLV is ’n deltaretrovirus soortgelyk aan die T-limfotropiese virus tipe 1 (HTLV-1) wat by mense voorkom. Dit veroorsaak ensoötiese beesleukose by beeste, kom wêreldwyd voor en is verantwoordelik vir groot ekonomiese verliese in die suiwelbedryf. Elf BLV-genotipes is in verskillende streke regoor die wêreld geïdentifiseer. Volgens dr Van Dijk kan hierdie siekte ’n geraamde produksieverlies van sowat 3% per koei tot gevolg hê.

Verspreiding van beesleukose

Beesleukose word hoofsaaklik deur die uitruil van bloedselle tussen besmette en gesonde diere oorgedra. Ensoötiese beesleukose kom egter meer gereeld by melkbeeste as vleisbeeste voor.

Besmetting kan ook plaasvind wanneer gesonde diere aan bloedbesmette naalde, plastiekhandskoene, oortange, onthoorningstoestelle en chirurgiese instrumente blootgestel word. BLV kan verder deur die perdevlieg (Tabanus fuscicostatus) oorgedra word, hoewel daar nog nie bevestig kon word dat die virus deur bosluise versprei word nie.

Die oordrag van die virus deur die koei se melk na haar kalwers is al bewys, met aangebore infeksie (infeksie van die kalf in die baarmoeder) wat by 4 tot 8% van die kalwers van besmette koeie voorkom.

Navorsing toon ook dat daar ’n verband tussen beesleukose en borskanker by mense bestaan (Beuhring et al., 2015) – die virus kan moontlik ingeneem word deur ongepasteuriseerde melk te drink, rou vleis te eet, of dit kan deur mense wat reeds besmet is oorgedra word.

Simptome van beesleukose

Diere ontwikkel teenliggaampies binne twee tot drie weke ná infeksie. Met ander woorde, die bloed van besmette beeste sal positief toets vir BLV, wat beteken dat dit serologies positief is. In hierdie vroeë stadium van infeksie, sê prof Prozesky, sal diere geen sigbare tekens van die siekte toon nie.

“Ongeveer 30% van die besmette diere sal later in hul lewe aanhoudende limfositose (’n verhoogde aantal limfosiete in die bloed) ontwikkel, wat ook nie sigbare simptome veroorsaak nie. Die diere sal egter verswakte immuunstelsels hê. Uit die diere wat aanhoudende limfositose ontwikkel, sal ongeveer 5% soliede limfoïede gewasse ontwikkel.”

Van die diere wat wel aanhoudende limfositose ontwikkel, sal ongeveer 5% soliede limfoïede gewasse ontwikkel.

Aangesien BLV ’n baie lang inkubasietydperk het, word kliniese tekens gewoonlik net by diere wat tussen vyf en agt jaar oud is, opgemerk. Afhangende van die siektestadium, kan diere swelling in een of meer limfkliere toon. Ander kliniese tekens hang van die betrokke organe af, aangesien baie organe uit limfoïede weefsel bestaan wat aangetas kan word.

Sommige diere kan hulle hele lewe lank in die prekliniese stadium bly, sonder enige sigbare simptome en dikwels met min of geen effek op produksie nie. Aan die ander kant word ’n hoë persentasie diere uitgeskot weens verlaagde produksie wat deur die immuunonderdrukkende effek van die virus veroorsaak word. Hierdie diere is meer geneig tot sekondêre infeksies, hoë somatiese seltellings en verlaagde produktiwiteit en reproduksie. Hul lewensverwagting is ook kort.

Kliniese simptome sluit die volgende in:

  • Swak eetlus.
  • Gewigsverlies.
  • Verlaagde melkproduksie.
  • Mastitis.
  • Hoefprobleme.
  • Gastroënteritis.
  • Gedeeltelike verlamming van die agterlyf.
  • Hartversaking.
  • Asemhalingsprobleme.
  • Melena.
  • Gewasse is dikwels waarneembaar tydens rektale ondersoeke.

’n Kliniese diagnose kan met behulp van histologiese en serologiese toetse gemaak word, soos ensiemgekoppelde immunosorbentbepaling (ELISA) of polimerase kettingreaksie (PCR)-toetse. Daar moet egter op gelet word dat toetse wat op kalwers jonger as ses maande uitgevoer word, ’n vals positiewe resultaat kan lewer.

Voorkoms en voorkoming

Dr Maboe het in 2017 ’n studie onderneem waarby vyf provinsies in die noordelike dele van Suid-Afrika betrokke was, met die doel om die aantal kommersiële melkkuddes wat BLV-positief is, te bepaal.

Die studie het bevind dat BLV-infeksie wydverspreid onder kommersiële melkkuddes in die noordelike dele van die land voorkom, met tussen 92 en 99% van die kuddes wat besmet was. “Neem in ag dat ons die voorkoms van die siekte met betrekking tot kommersiële kuddes ondersoek het – nie individuele diere nie. Dit beteken dat hoewel baie kuddes positief getoets het, dit nie noodwendig beteken dat elke dier besmet is nie. As jy egter eers weet hoeveel diere in jou kudde besmet is, is dit makliker om die pad vorentoe te beplan en die virus uit te skakel.”

Tabel 1: Die voorkoms van BLV-teenliggaampies in melk in massatenks.

ProvinsieAantal plase wat positief getoets hetVoorkoms (%)95% vertrouensinterval
Mpumalanga17/227755 tot 92
Gauteng34/359785 tot 99,9
Noordwes65/6510094 tot 100
Vrystaat26/2610087 tot 100
Limpopo3/310029 tot 100
Totaal149/1559692 tot 99

Daar is tans geen entstof beskikbaar om te verhoed dat beeste besmet raak nie. Daar is ook geen doeltreffende behandeling vir diere wat reeds besmet is nie. Dit is daarom belangrik om altyd seker te maak dat beeste wat op veilings of direk by produsente gekoop word, BLV-negatief is.

beesleukose
Dit is raadsaam om besmette en seropositiewe diere onmiddellik uit te skot.

Volgens dr Kriek moet serologiese toetse gebruik word om besmette diere te identifiseer en moet seropositiewe diere onmiddellik uitgeskot word. “Toets die kudde weer na 30 dae. Hou aan om diere uit te skot totdat die hele kudde negatief is, en sodat kuddes siektevry verklaar kan word indien daar nie binne twee jaar ná die laaste bevestigde geval, nuwe gevalle is nie. Enige nuwe diere moet 60 dae voordat hulle in die kudde opgeneem word, getoets word, en daarna weer op 30 dae.”

In sommige lande is ensoötiese beesleukose (EBL) met regeringshulp suksesvol uitgeroei. In Finland, met ’n aanvanklike voorkoms van minder as 5%, het dit byvoorbeeld 30 jaar geneem om die siekte uit te wis. Ongelukkig is hierdie siekte nie ’n staatsbeheerde siekte in Suid-Afrika nie, wat beteken dat produsente nie ondersteuning van die regering ontvang nie.

Biosekuriteit as oplossing

Volgens dr Kriek moet produsente, waar moontlik, kalwers van besmette koeie skei en in aparte kampe op die plaas aanhou. Die kalwers se hanteerders mag geen kontak met die volwasse diere hê nie. “Daar is ook voorgestel dat produsente besmette en gesonde diere apart hou, terwyl hulle die besmette diere geleidelik uitskot. Daar is egter min boere wat bereid is om hierdie roete te volg.

“Wat biosekuriteit betref, moet kalwers binne 24 uur ná biesmelkinname uit die besmette kudde verwyder word. Daarna moet kalwers slegs BLV-negatiewe melk of ’n melkvervanger gevoer word. Melk van besmette diere kan wel gebruik word nadat dit verhit of gevries is.

“Chemiese onthoorning of kouterisering is verkieslik, want dit verminder die kans dat diere met besmette bloed in aanraking kom. Alle naalde, tatoeërings- en kalwingstoerusting moet na gebruik gesteriliseer word, en slegs een naald moet per dier gebruik word. Maagbuise en doseerspuite moet na elke gebruik gewas word en nuwe handskoene moet na elke rektale ondersoek gebruik word.

’n Protokol vir die beheer van vlieë moet ook geïmplementeer word, veral omdat vlieë moontlik ’n groter rol in die oordrag van die siekte kan speel as wat aanvanklik geglo is. ‘n Enkele dier wat met 0,0005ml besmette bloed in aanraking kom kan virale verspreiding en oordrag tot gevolg hê.”

Onder die huidige toestande in Suid-Afrika is EBL ’n moeilike siekte om uit te roei. Dr Kriek sê die ELISA-toets wat by die LNR-Onderstepoort Veterinêre Navorsing gedoen word, kos R284 per monster. Aangesien gereelde toetsing nodig is om die siekte in ’n kudde uit te wis, kan die veeartsenykoste alleen die rekening vinnig opjaag. Indien hierdie siekte egter onbeheers gelaat word, kan dit die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf op die lange duur baie meer kos. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Sello Maboe by 082 417 8833,
prof Leon Prozesky by 082 339 2410 of dr Otto Kriek by 082 920 5826.