Estimated reading time: 7 minutes

  • Intensiewe varkboerdery werk in week-siklusse.
  • ‘n Sog wat oorslaan, kry nog een kans voor sy uitgeskot word.
  • Genetiese vordering met varkteling is fenomenaal.
  • ’n Intensiewe varkproduksie-eenheid verg baie infrastruktuur.
  • Een van die byvoordele van ’n varkboerdery is dat varkmis ’n uiters waardevolle bemestingstof is.

In ’n intensiewe varkboerdery soos syne werk alles in week-siklusse, sê André le Roux van Rust Varkboerdery tussen Reitz en Kestell in die Vrystaat. Op Donderdae word daar gespeen en op Maandae en Dinsdae word kunsmatige inseminasie gedoen, hoewel dit soms gebeur dat enkele sôe wat die vorige Donderdag gespeen is, eers teen Woensdag weer op hitte kom.

Verder word vier ou sôe weekliks uitgeskot en deur jong soggies vervang. Maandag tot Woensdag is ook die afleweringsdae vir slaggereed varke.

André boer al 27 jaar met varke en het tans ongeveer 500 sôe in sy soghuise. Dit beteken dat hy op enige gegewe tydstip ongeveer 6 000 varke op die plaas het. “Die enigste tyd dat ons varke in kratte het, is van ’n week voor hulle jong totdat die kleintjies op 28 dae gespeen word, en dan die paar dae tot die soggies gedek word. Vir die res van die tyd is al die varke in groepe van wisselende grootte in gesamentlike behuising.”

Lees meer oor varkvoeding hier.

Reproduksiebestuur

’n Sog wat oorslaan, sê hy, kry nog een kans voor sy uitgeskot word. Daar is baie redes waarom ’n sog nie in die geskeduleerde tyd weer op hitte sal kom nie, onder andere dat sy baie kleintjies gehad het en dus kondisie verloor het tydens laktasie. So ’n sog, wat eintlik ’n baie goeie sog is, kry dan nog ’n kans.

André teel nie sy eie sôe nie, maar kry sy vervangingsoggies asook beersemen van Topigs Norsvin. Elke ses weke word ’n besending soggies wat in ouderdom wissel afgelaai, sodat hy elke week vier nuwe soggies in die program kan integreer.

Die eerste 24 uur bepaal die welslae van klein varkies

“Dit is alles mooi op papier, maar in die praktyk werk dit mos nie heeltemal so nie. Party weke kom net twee soggies op hitte, en ander weke ses. Ons bestuur dus die situasie van week tot week, deur dalk weer ’n ou sog te insemineer, wat normaalweg uitgeskot sou word.

“Die punt is dat ons kontrakte in plek het om 240 varke per week aan die mark te lewer. Ons moet dus rondom 25 sôe per week kunsmatig insemineer sodat minstens 22 van hulle elke week kan jong teen ongeveer twaalf lewende varkies per sog. ’n Sog jong sowat 2,3 keer per jaar.” Tans is sy standaard tussen 28 en 30 varkies per sog per jaar en om voorspeense vrektes onder 10% te hou.

Genetiese vordering met varkteling, sê hy, is fenomenaal. Die soglyn wat hy tans gebruik is die sogenaamde TN70. “Toe ek begin het, het ’n sog twaalf spene gehad. Deesdae het die sôe tussen 14 en 16 spene, en hulle kry ongelooflik baie kleintjies. Sommige kry soveel as 20 kleintjies op ’n slag. Dit maak bestuur egter uitdagend. ’n Mens hoop dan dat daar ’n ander sog is met min kleintjies, sodat jy van die varkies op haar kan sit.”

Infrastruktuur-ontwerp

’n Intensiewe varkproduksie-eenheid verg baie infrastruktuur, sê André, en hoe beter dit ontwerp is, hoe meer doeltreffend kan jy boer. “Om mee te begin, het jy ’n dekstal nodig waar die sôe geïnsemineer of deur die bere gedek kan word, asook droësoghuise waar hulle gedurende dragtigheid in groepe van tussen ses en agt sôe gehou word. Daarvandaan gaan hulle na die jonghuis, waar hulle in kratte jong en bly totdat die varkies gespeen word.

“Die jong varkies word vir ongeveer vyf maande volgens ouderdomsgroep in die groeihuise aangehou tot hulle slaggewig bereik. Hier kry hulle drie rantsoene, beginnende by ’n aanvangsrantsoen, dan ’n groeirantsoen en laastens ’n afrondingsrantsoen. Al hierdie huise is met gange aan mekaar verbind sodat diere maklik van die een na die ander geskuif kan word.”

Sukses is ’n spanpoging

Die sukses van ’n varkboerdery, sê hy onomwonde, hang af van die span wat jy aan jou kant het. Daardie span bestaan eerstens uit die personeel op jou plaas en dan die ondersteuning van die insetverskaffers. In sy geval maak hy op CS Vet in Pretoria staat vir gesondheidsbestuur en voeding. Dan voorsien 4Mix sy mineraal- en vitamienaanvullings.

Verder speel sy vrou, Carene, ’n onmisbare rol in die koördinering van die boerdery se bemarking. Hy meen dat sy oor mensgerigte eienskappe beskik waarsonder hy nie kan klaarkom nie.

André voorsien die meeste van sy varke aan ’n verspreider in Bethlehem, en ’n aantal gaan weekliks na mede-varkboere in Harrismith wat ook ’n abattoir het. “In die verlede moes ek self baie van my varke Gauteng toe vervoer. Die feit dat ek nou hier in die omgewing kan bemark, help geweldig baie met die logistiek. Daar is ’n hele netwerk van produsente en verwerkers in die omgewing wat almal interafhanklik is en baie goed saamwerk,” sê hy.

Lees meer oor die effek van bankrotwurm hier.

’n Simbiotiese boerdery

André is in wese ’n gemengde boer, met ’n graan- sowel as beesvertakking. Die varke is egter by verre die grootste vertakking. “My pa, Eric, het hier begin boer en dit was maar ’n normale gemengde boerdery vir hierdie omgewing. Toe ek en my broer Gerhard plaas toe kom, het ons drie eers saam geboer, maar ek het besef dat ek ’n ander vertakking sal moet begin. Dit is hoe die varkboerdery ontstaan het.”

Hy produseer ook mielies en soja. Al die mielies word in die varkrantsoene gebruik, terwyl die soja op die oop mark verkoop word.

Een van die byvoordele van ’n varkboerdery, sê André, is dat varkmis ’n uiters waardevolle bemestingstof is. “Ek plant my soja byvoorbeeld sonder enige ingekoopte kunsmis. Ek werk bloot die varkmis op die lande in. Verder bemes ek kikoejoeweidings vir die beeste ook met die mis, wat uitstekende opbrengste teweegbring en my drakrag dramaties verhoog.” 

Die varke het die afgelope 27 jaar baie goed vir hom gesorg, sê hy. “Varke is eintlik ongelooflike dankbare diere. As jy hulle reg bestuur, sorg hulle vir jou. Die laaste twee jaar was wel moeilik. ’n Klomp faktore het gelyktydig ’n invloed gehad en pryse onder geweldige druk geplaas. Ek glo egter dat daar lig in die tonnel is.”

Lees meer oor onttrekkingstydperke van middels hier.

Die ideale varkkarkas

Varkproduksie is ’n baie presiese besigheid, en elke faset van die bestuur moet absoluut op die merk wees, sê André. Alles begin egter by die regte genetika en daarna die regte voeding.

“Vleiskgehalte en vetdikte word grootliks geneties bepaal. Daarna moet jy die regte voeding gee, sodat daardie genetiese potensiaal verwesenlik kan word. ’n Vark slag in die omgewing van 75% uit, en die ideale karkas is tussen 75 en 90kg, met 82kg as ideale mikpunt. Dit neem ongeveer 22 weke vir ’n vark om die ideale lewende gewig van 110kg te bereik. As die genetika reg is, het jy nie uitskieters wat buite hierdie riglyne val nie.”

Leer meer oor brandvoorkoming in die Vrystaat hier.

Genetika, sluit hy af, het die winsgewendheid van die bedryf onherkenbaar verander. “Waar ons nie lank gelede nie 17 ton vleis per week geproduseer het, lewer ons nou 19 ton per week, omdat elke sog soveel meer kleintjies op ’n slag kry. Die voorwaarde is natuurlik dat verhoogde produksie ook verhoogde bestuur vereis.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak André le Roux by 082 375 9323.