Brandvoorkoming en -beheer in die Noord-Oostelike Vrystaat

139
RSG Landbou
Die skade wat ’n brand aan opgegaarde voer kan aanrig is onberekenbaar.

Min plekke in die land is so kwesbaar vir wegholbrande soos die Noord-Oostelike Vrystaat. Dit is weens hoë reënval in die somer, met gepaardgaande welige grasveld en baie sterk winde in die maande van Julie tot die volgende reënseisoen, wat deesdae ál later begin.

Produsente hier het dus baie ondervinding met brandvoorkoming en -beheer. George Spies van die plaas Eldorado in die Harrismith-omgewing boer al 31 jaar hier en het al sy kwota van brandbestryding ervaar.

Brandbeheerverenigings vir brandvoorkoming

“Voorsorg is definitief die roete om by brandbeheer te volg,” sê hy. “Dit is hoogs aan te beveel dat jy by die plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV) aansluit, omdat dit jou opsies soveel meer maak.

“Voorbrande by die lyndrade rondom plase word wetlik verplig, maar in die meeste gevalle is dit doodgewoon nie haalbaar nie. As jy aan ’n BBV behoort, het jy en jou bure baie meer ruimte om saam strategiese voorbrande te maak. Jy kan die kwesbare plekke identifiseer en dit binne die groter plan saam met jou bure deeglik beskerm.”

Hierdie kwesbare plekke is gewoonlik by paaie en veral kruisings waar mense op taxi’s wag en in die winter vuur maak vir hitte. Werkershuise is ook kwesbaar omdat as in die oggende uitgegooi word. Dit neem één warm kooltjie en ’n sterk bries om ’n brand te veroorsaak.

“Hier by ons is die westewind die heersende wind wat die brandgevaar veroorsaak, so die meeste voorsorg word aan die westekant van ’n plaas getref.”

Die meeste brande in sy omgewing, sê George, begin hier teen elfuur in die oggend. “Vroegoggend is dit gewoonlik windstil, maar laatoggend steek die wind op en dít is wanneer ’n onbewaakte brand vinnig hand uitruk. Teen twaalfuur is wanneer ons die meeste brande bestry.”

Voorbrande vir brandvoorkoming

Vanaf einde Maart begin hulle gewoonlik om chemiese voorbrande te spuit. Hulle doen dit terwyl die gras nog groen is, deur gif in stroke te spuit en dan uit te brand. Twee stroke word parallel met mekaar gespuit, so wyd uitmekaar as wat die voorbrand beplan word. Die eerste ryp maak dan die groen deel tussen die twee uitgebrande stroke dood en dan word die voorbrand tussen die twee stroke gemaak.

“Jy moet jou dae vir voorbrande baie mooi kies. Hier by ons wil ons die wind uit die ooste hê. So ’n voorbrand kan van 40 tot 100m wyd wees, afhangende van die spesifieke omstandighede.”

Toerusting en strategie

George glo jy moet minstens twee brandspuite hê, sodat jy nooit onkant gevang word as ’n brand bestry moet word nie. Jy kan die brandspuite op jou bakkie monteer, of ’n waentjie spesiaal toerus wat jy kan haak as dit nodig is. ’n Groot trekkersleepwa met ’n watertenk en hoëdrukspuit is ook baie handig, sodat jy baie water na die brand kan aanry.

“So ’n bakkie-spuiteenheid neem gewoonlik tussen 500 en 700ℓ water en ’n spuit op ’n sleepwaentjie ongeveer 1 000ℓ. Met die groot watertenk kan jy egter baie verder uitkom.” Tipies sal die bakkies eerste by die brand opdaag en die eerste beheerwerk begin doen. Die tenks en trekkers met waterwaens kom agterna. Teen dié tyd is die bakkies al leeg gespuit en het hervulling nodig.

Klere wat nie in hitte sal smelt nie, is belangrik. Katoen, sê George, is ’n goeie materiaal. “Jy kan die hitte naby so ’n brand nie beskryf nie en die effek van die rook op mense is skrikwekkend. Die ideaal sal wees om gasmaskers en vuurvaste klere te hê, maar dit is nie so geredelik beskikbaar nie. Skoene met vuurvaste sole is ook ideaal.

“Dit is egter baie belangriker om so gou as moontlik by die brand uit te kom, as om eers die regte klere te gaan aantrek. Hoe gouer jy die brand kan begin blus, hoe groter is die kans dat dit nie buite beheer raak nie.

Kommunikasie en bestuur van take

Die ongeskrewe reël by brandbestryding, sê George, is dat almal in die omgewing wat kan, moet inspring en help.

“Die mense wat eerste by die brand kom, neem gewoonlik beheer en 99% van die tyd is dit die plaaseienaar of buurman. Hulle ken die omgewing en weet waar die waterpunte, moeilike terrein, draadheinings en voorbrande is. Dit is belangrik dat almal nie probeer leiding neem en niemand dan bevele uitvoer nie.”

Kommunikasie in hierdie situasies is onontbeerlik. “Selfone is grootliks nutteloos as jy ’n brand bestry, want jy kan net met een mens op ’n slag praat. ’n Tweerigtingradio-netwerk is ideaal, want almal kan hoor wat gesê word en hul bewegings koördineer.”

’n Uiters belangrike punt, beklemtoon hy, is dat iemand moet sorg dat alle vee wat moontlik in die pad van die brand kan wees, onmiddellik na ’n gebied geneem word waar die risiko van brandbeserings relatief laag is. Wanneer die brandgevaar op sy ergste is, is graanlande gewoonlik reeds kaal gevreet en is dit ’n goeie plek om vee heen te neem. Alternatiewe veilige plekke is paaie, kampe met goeie voorbrande of damme.

Elke plaas behoort spesifieke rolle aan mense toe te ken sodat elkeen weet wat om te doen as ’n brand ontstaan. Die veewagters gaan byvoorbeeld reguit vee toe, terwyl die ander werkers brand toe gaan.

Benadering tot brandbestryding

’n Mens bestry ’n brand altyd van agter af, sê George. “Jy ry in die ongebrande veld en spuit die vlamme van buite af binne toe dood. Dit het sy eie probleme, want jy ken nie noodwendig die veld nie en daar kan verskuilde gate en slote of nat vleie wees waarin jy kan vasval. Om egter op die gebrande deel te ry is ’n seker manier om jou bande te vernietig.

“Verder moet jy deeglik met die windrigting rekening hou, want die wind draai in ’n oogwink. Jy moet wakker wees en verkieslik ’n 4×4-voertuig gebruik.”

’n Goue reël by brandbestryding is dat jy nooit jou voertuig of brandtoerusting afskakel nie. Die vlamme gebruik baie suurstof en die kans is goed dat jy nie weer die enjin aan die gang sal kry as jy vinnig moet wegbeweeg nie.

Nasorg is belangrik

’n Faset wat dikwels onderskat word, is nasorg. George meen dat ’n span met vuurplakke, blaarblasers en harke agterna moet kom om smeulende materiaal en miskoeke deeglik te blus en ver in die gebrande deel in te vee.

“Hierdie aspek is ongelooflik belangrik. Hier by ons is ’n staande grappie dat ons, sodra die brand geblus is, die vrouens bel om vleis en dop te bring, want nou moet ons eers tyd by die gebluste brand verwyl om seker te maak hy staan nie weer iewers op nie. Dit is nie net smeulende miskoeke wat moeilikheid kan veroorsaak nie. Klein velddiertjies of voëls kan ook aan die brand slaan en in ongebrande veld inhardloop of -vlieg.”

Brandbestryding en -voorkoming, sê George, het soveel fasette dat dit moeilik uit ’n boek geleer kan word. Jy leer maar by jou pa of buurman en uit dure ondervinding. Brandbestryding is ’n hoëdruksituasie en dit is belangrik om kalm en nugter te bly en vinnig die regte besluite te neem. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Lees hier van brandvoorkoming in die Noord-Kaap.

Vir meer inligting, skakel George Spies op 082 406 6271.

lambs, kids