Estimated reading time: 4 minutes

Die brande wat in die winter van 2020 in die Boshoff-omgewing ontstaan het nadat betogers in die dorp bande aan die brand gesteek het, sit nog vars in almal se geheue. Na raming is sowat 130 000ha weiding in die proses verwoes en honderde stuks vee, waaronder beeste, skape en wild, het doodgebrand of moes van kant gemaak word.

Die brandseisoen is weer voor die deur en in sekere provinsies word grondeienaars vroegtydig aangemoedig om solank hul brandpaaie te skraap, brandblussers te herstel en alles in gereedheid te bring vir moontlike veldbrande wat kan uitbreek.

Relatiewe lae brandrisiko

In die Noord-Kaap is dit veral landbougemeenskappe in die noordelike en noordoostelike streke van die provinsie, wat gereedmaak vir moontlike brande. Die grootste gedeeltes van die provinsie is egter lae-risikogebiede en die kans op veldbrande is nie so groot nie.

Willem Symington, voorsitter van die natuurlike hulpbronnekomitee van Agri Noord-Kaap, sĂȘ die provinsie kan basies in twee dele verdeel word – die suidelike deel, waar die plantegroei hoofsaaklik uit Karoobossies bestaan en die noordelike deel, met sy savanna-tipe veld. In die suidelike dele is die brandrisiko baie laag, maar in die noordelike dele kan ’n veldbrand wat buite beheer raak, enorme skade aanrig.

“Die sentrale, noordelike en oostelike dele van die Noord-Kaap se brandbeskermingsverenigings (BVV’s) is gereed en funksioneer baie goed. Die brandrisiko in die Boesmanland, Namakwaland en Karoo is egter laag. Die BBV’s in diĂ© gebiede is wel gereed, maar onaktief.

“In die suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap is die winterreĂ«ngebiede wel die uitsondering. Omdat die plantegroei van die somerreĂ«nvalgebiede verskil, kan brande makliker hier ontstaan. Daar is ook gebiede waar ’n veldbrand so af en toe meer voordele as skade inhou, maar dan moet dit ’n beheerde brand wees. ”

Op gereedheidsgrondslag

Volgens Willem is die BBV’s in die meeste gebiede gereed. Boere-unies wat betrokke is by brandvoorkomingsprojekte is baie doeltreffend, maar groot brande in die Noord-Kaap bly moeilik om te beheer.

“Een van die probleme in die Noord-Kaap is die uitgestrektheid van die provinsie en daarby ook die lae bevolkingsdigtheid. Brande soos verlede jaar in Boshoff asook die groot Noord-Kaap-brande wat in 2012 gewoed het, raak dikwels sĂł groot dat dit baie moeilik is om te beheer. Die mannekrag, toerusting en vliegtuie is gewoonlik te min om so ’n veldbrand die hoof te bied.  

“Selfs al funksioneer almal optimaal, insluitende die BBV’s, die brandweer en selfs die regering, sal daar altyd groot skade wees. Daarom moet ons op brandvoorkoming staatmaak deur produsente gereeld in te lig en aan te moedig oor voorkomingsmaatreĂ«ls,” verduidelik hy.

Omdat die Noord-Kaap hoofsaaklik ’n landbouprovinsie is, is die landbougemeenskappe wat die meeste gevaar loop om veldbrande te ervaar, hierdie tyd van die jaar op ‘n gereedheidsgrondslag. Die BBV’s, brandplanne en goeie kommunikasie onder grondeienaars is oor die hele provinsie gereed. Daar is ook goeie samewerking onder produsente.

Elke BBV in die Noord-Kaap het ’n veldbrandbestuurstrategie vir sy unieke omgewing ontwikkel, omdat elke gebied van die ander verskil. Die hulpmiddele en mannekrag is ook nie oral dieselfde nie. Lede word in die bestryding, bestuur en voorkoming van brande opgelei.

Daarbenewens heers goeie samewerking tussen die landbougemeenskapppe en staatsinstellings ten opsigte van brande.

Wie dra die skade van veldbrande?

Wat vorige veldbrande betref en die skade wat produsente ly weens die nalatige ontstaan van veldbrande, sĂȘ Willem alle mense wat skade ly as gevolg van nalatige of opsetlike brande, het die reg op skadevergoeding.

“Indien ’n spesifieke organisasie betrokke is by die reĂ«l van optogte of betogings wat tot brandstigting lei, sal hulle verseker saam met die brandstigters aanspreeklik gehou word. Aanspreeklikheid is egter nie net beperk tot brandstigters nie, maar sluit ook alle betrokke grondeienaars in wat nie voorsorgmaatreĂ«ls getref het nie.

“Die probleem is dat die onus by sulke eise op die eiser rus om die skade en oorsaak van die skade in ’n siviele hof te bewys. Dit is ’n lang proses met baie plekke waar die eis kan ontspoor,” sĂȘ Willem. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Willem Symington by 084 592 7474.

speenkalwers, veldbrande

Lees hier oor die gevaar vir veldbrande in Limpopo: