Estimated reading time: 6 minutes
- Diarree by klein varkies is ’n algemene probleem en waarskynlik een van die grootste uitdagings vir die varkprodusent.
- Goeie kuddebestuur, streng higiëne en ’n voordelige omgewing kan help om te voorkom dat varkies diarree opdoen.
- Dr Pieter Grimbeek, ‘n bekende veearts, sê wanneer varkies aankom is daar geen kwaadwillige organismes in hul dermkanale teenwoordig nie.
- Uitbrekings van diarree kan baie van die varke in die kudde siek maak en die vrektesyfer kan ook hoog wees. Met ernstige uitbrekings van diarree kan die vrektesyfer onder klein varkies tot 7% en meer beloop, en as die regte behandeling nie vinnig gegee word nie, kan al die varkies vrek.
- Wanneer meer varkies as die norm diarree opdoen, is die hulp van ’n veearts noodsaaklik juis omdat daar so ’n kort venstertydperk vir behandeling is.
Diarree by klein varkies is ’n algemene probleem en waarskynlik een van die grootste uitdagings vir die varkprodusent. Dit is ’n komplekse probleem en uitbrekings kan tot groot verliese lei weens vrektes en swakker produksie.
Goeie kuddebestuur, streng higiëne en ’n voordelige omgewing kan help om te voorkom dat varkies diarree opdoen. Die organismes wat die probleem kan veroorsaak, kom so algemeen in die omgewing voor dat dit haas onmoontlik is om blootstelling te voorkom.
Die raad en betrokkenheid van ’n veearts is in die meeste gevalle onontbeerlik. Langwerkende middels wat die varkies vir meer as ’n maand beskerm, het in proewe die groeitempo van die varkies met tot 20% verbeter in vergelyking met varkies wat nie behandel is nie.
Lees meer oor die welstand van varkies binne die eerste 24 uur van geboorte.
Bou natuurlike immuniteit
Dr Pieter Grimbeek, ‘n bekende veearts, sê wanneer varkies aankom is daar geen kwaadwillige organismes in hul dermkanale teenwoordig nie. Hulle het egter min weerstand teen sulke organismes. Immuniteit word aanvanklik bewerkstellig deur groot getalle teenliggaampies in die biesmelk wat in die varkies se bloedstroom opgeneem word; die immuniteit word later in stand gehou deur die sog se melk.
Daarom is dit noodsaaklik dat pasgebore varkies voldoende biesmelk inneem. Dit is ook noodsaaklik dat die varkies ná die biesmelk gereeld genoeg melk suip sodat daar voldoende teenliggaampies is wat die varkies teen diarree kan beskerm.
Wanneer diarree uitbreek
Uitbrekings van diarree kan baie van die varke in die kudde siek maak en die vrektesyfer kan ook hoog wees. Met ernstige uitbrekings van diarree kan die vrektesyfer onder klein varkies tot 7% en meer beloop, en as die regte behandeling nie vinnig gegee word nie, kan al die varkies vrek.
In ’n goed-bestuurde kudde behoort minder as 3% van klein varkies vir diarree behandel te word, terwyl die vrektesyfer as gevolg van diarree minder as 0,5% behoort te wees.
Die vernaamste oorsake is virus- en bakteriese besmetting, veranderinge aan die voerrantsoen en omgewingstoestande wat stres by die sog en varkies veroorsaak. In die afgelope sowat twee dekades is groot vordering gemaak om die oorsake van diarree by klein varkies akkuraat te diagnoseer.
Die feit dat varkies baie vinnig weens diarree ontwater, maak vinnige optrede noodsaaklik. Terselfdertyd is daar wêreldwyd ook al hoe groter druk om die gebruik van antibiotika in die produksie van vleis te verminder. Dit het daartoe gelei dat verskeie varkprodusente al hoe meer waarde heg aan alternatiewe behandeling wat in baie gevalle voorkomend is.
Lees meer oor kruipvoer vir varkies hier.
Vra die veeaarts
Wanneer meer varkies as die norm diarree opdoen, is die hulp van ’n veearts noodsaaklik juis omdat daar so ’n kort venstertydperk vir behandeling is. Die veearts kan met toetse bepaal wat die oorsaak van die probleem is en dan die regte behandeling voorskryf.
Die eerste tekens van akute diarree by klein varkies is wanneer ’n oënskynlik gesonde varkie skielik vrek, die klein varkies saamdrom en bewe, die vel om die rektum en onder die stert nat is, en waterige stink mis uitgeskei word. Soos wat die diarree vererger, ontwater die varkies, hul velle raak leeragtig en hulle mis kleef aan ander varkies vas.
Tydens dehidrasie is dit nie net water wat uit die liggaam onttrek word nie, maar ook soute en minerale wat noodsaaklik is om lewensbelangrike organe soos die hart, brein en senuweestelsel in stand te hou. Die binnewand van die dermkanaal van die varkies raak ook beskadig wat die opname van voedingstowwe belemmer. Dit kan saam veroorsaak dat klein varkies binne ’n paar uur vrek.
Dit is ook belangrik om na die toestand van die sog te kyk. ’n Sog kan mastitis hê wat nie uitwendig sigbaar is nie en wat diarree by haar varkies kan veroorsaak. Te veel of te min melk kan ook ’n oorsaak wees. Te lae temperature in die hokke of toestande wat die sog onrustig maak, het ook al diarree by klein varkies aangehelp.
Aangepaste voeding
Dit is noodsaaklik om die gehalte, samestelling en hoeveelheid voer wat die sog kry, te kontroleer. Afgesien daarvan dat die klein varkies meermale per dag gemonitor moet word, is dit noodsaaklik om die toestand en gesondheid van die sog fyn dop te hou. Dikwels kan diarree by klein varkies behandel word deur bloot die toestande vir en voeding van die sog te normaliseer.
As die diarree egter deur skadelike organismes veroorsaak is, sal die veearts die regte medikasie voorskryf om dit te behandel. Dit kan antibiotika, probiotika of selfs ander tradisionele middels behels.
Die doeltreffende werking van antibiotika is bekend. Probiotika behels egter ’n nuwe benadering waar lewende en voordelige plantaardige bakterieë aangewend word om ’n gesonde balans in die dermkanaal te bewerkstellig. Dr Grimbeek sê daar moet onthou word dat die probiotika wat op een plaas slaag, nie noodwendig op die volgende plaas so doeltreffend sal werk nie.
Nog ’n natuurlike manier om diarree teen te werk, is om provoedingstowwe (pronutrients) te gebruik. Dit is ’n plantaardige mikrobestanddeel wat in klein hoeveelhede by diere se voer ingemeng word en wat nie net die voedsaamheid van die rantsoen verhoog nie, maar ook patogene uit die dermkanaal weer.
In die natuur vreet diere instinktief plante wat provoedingstowwe bevat en noodsaaklik is vir die doeltreffende werking van hul spysverteringstelsels. Dit bevorder die goeie werking van organe en verhoog die dier se vermoë om weerstand te bied teen skadelike organismes.
Leer meer oor intensiewe varkboerdery.
Doeltreffende bestuur
Maatreëls wat die produsent kan tref om diarree by klein varkies te beperk is om die varkhuise en -hokke skoon te hou, goeie kos en skoon water te voorsien en die temperatuur so te beheer dat die varke nie aan onnodige stres blootgestel word nie.
Die varke moet ook nie te veel of te min vreet nie. Gebruik vitamienaanvullings om hul immuniteit te versterk sodat hulle beter weerstand kan bied.
Die oorskakeling van moedersmelk na vaste voeding moet stelselmatig gebeur en die voer moet nie te grof wees nie. Maak die voerbakke gereeld skoon en voorsien skoon drinkwater. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak dr Pieter Grimbeek by 083 625 8849 of pigvet@agrifarmacysa.co.za.