Estimated reading time: 6 minutes

  • Ons kan ’n groot verskil maak aan die verspreiding van siektes deur die gebruik van ’n verkopersverklaring aan te moedig.
  • Dit is nou maar wors dat daar ’n hele aantal siektes is wat baie nadelig is vir die veebedryf en waar biosekuriteit ’n groot rol kan speel om die verspreiding daarvan te bestuur.
  • Wanneer biosekuriteit op ’n plaas toegepas word, is daar verskeie instrumente soos kwarantyn, isolasie, identifikasie, naspeurbaarheid en toegangsbeheer betrokke.
  • Daar is ’n lys van siektes of toestande vir elke bedryf en geografiese gebied wat vir die kopers van belang is.
  • Die verkopersverklaring kan ook medeonderteken word deur die plaas se kuddeveearts.

Ons kan ’n groot verskil maak aan die verspreiding van siektes deur die gebruik van ’n verkopersverklaring aan te moedig. Verkopers behoort nie te wag vir ’n versoek voordat ’n verkopersverklaring uitgereik word nie, en kopers behoort aan te dring op ’n verklaring. Dit behoort byna outomaties deel te wees van alle transaksies waar lewendige diere betrokke is.

Slaan siekteverspreiding hok

Dit is nou maar wors dat daar ’n hele aantal siektes is wat baie nadelig is vir die veebedryf en waar biosekuriteit ’n groot rol kan speel om die verspreiding daarvan te bestuur. In die lig hiervan is biosekuriteitsmaatreëls van groot waarde om die meeste siektes wat nie deur insekte oorgedra word nie, te beheer.

Lees meer oor deel van biosekuriteit: die basiese beginsels van biosekuriteit op ‘n veeplaas.

Wanneer biosekuriteit op ’n plaas toegepas word, is daar verskeie instrumente soos kwarantyn, isolasie, identifikasie, naspeurbaarheid en toegangsbeheer betrokke. Waarskynlik die heel belangrikste instrument is die verkopersverklaring waarvoor die verkoper van vee verantwoordelik is. In die verklaring word die betrokke diere beskryf, asook hul siektestatus en geskiedenis. Hierdie verklarings kan aangewend word om enkele siektes soos Johne se siekte in skape en bek-enklouseer in beeste te beheer.

Siektes wat van belang is

Daar is ’n lys van siektes of toestande vir elke bedryf en geografiese gebied wat vir die kopers van belang is. ’n Plaaslike privaat- of staatsveearts kan geraadpleeg word om vas te stel watter siektes in die verklaringslys opgeneem moet word, maar die behoefte van die potensiële kopers moet ook in ag geneem word.

Die siektes wat werklik van belang is, is dié wat vrektes en/of produksieverliese veroorsaak, maar wat ook produksiekoste kan verhoog om dit te beheer. Daar is ook enkele siektes wat onmoontlik is om uit te roei wanneer dit eers in die kudde is, soos jaagsiekte en skaap-progressiewe longontsteking (Maedi visna-virus).

Behalwe vir die belange van die verkoper en koper is daar ook siektes wat van nasionale belang is. Die beheer van siektes soos bek-en-klouseer, Johne se siekte, Slenkdalkoors en miltsiekte is voorbeelde van siektes wat die internasionale handel van uitvoerprodukte kan benadeel. Siektes wat mense aantas (soönose) is nog ’n groep wat van belang is by die handel en vervoer van diere, terwyl siektes soos tuberkulose, brusellose, miltsiekte en Slenkdalkoors altyd deel behoort te vorm van die verkopersverklaring.

Lees meer oor deel twee van biosekuriteitsreeks: die biosekuriteitsrisikos as dit by vee-aankope.

’n Derde kategorie van toestande is dié wat spesifiek van toepassing is in ’n bedryf, soos skaapbrandsiekte wat groot wolverliese en behandelingskostes tot gevolg het. Genetiese toestande soos dermatosparakse (skeurvel in skape en beeste) en dubbelbespiering in vleisbeeste is nie normaalweg ’n fokus van biosekuriteit nie, maar pas baie goed binne die spasie van beheermaatreëls.

Aangesien diere meestal as teeldiere verkoop word, is geslagsiektes wat kan lei tot swak aanteel of totale onvrugbaarheid van groot belang in die verkopersverklaring. Dit is dikwels moeilik om te diagnoseer, soos trigomonose en vibriose (Campylobacter) in beeste, en peestersiekte en brusellose in skape. Die diere toon slegs simptome soos swak konsepsie en aborsies tydens reproduksie.

Wat verklaar moet word

Die verkopersverklaring kan vier moontlike stellings ten opsigte van elke siekte maak:

  • Die siekte is teenwoordig op die plaas, maar nie in die betrokke diere nie. Die siekte is na die beste wete van die verklaarder nie teenwoordig op die plaas of in die diere nie.
  • Die diere (en moontlik die kudde) is getoets vir die betrokke siekte, en die toetsresultate of sertifikaat is aangeheg.
  • Die verkoper weet nie of die siekte teenwoordig is of nie. Wat benodig ’n verkoper vir bogenoemde verklarings?
  • Akkurate rekords van die voorkoms van siektes, vrektes en voorkomend behandelings.
  • Identifikasie van diere met ’n geskiedenis van die beweging van diere.
  • Die betrokke diere is voor hul vertrek geïsoleer, ondersoek en toetse is uitgevoer.

Lees meer oor deel drie van die biosekuriteitsreeks: voertuie, besoekers en aangekoopte voer.

Mede-ondertekening van verklaring

Die verkopersverklaring kan ook medeonderteken word deur die plaas se kuddeveearts. Spesifieke ondersoeke vir die siektes op die lys kan vóór die vertrek van die diere deur die veearts uitgevoer word, maar die veearts kan ook verklaar dat daar nie enige van die siektes gedurende die tydperk van betrokkenheid voorgekom het nie. Die kuddeveearts kan ook verklaar hoe lank sy betrokkenheid by die kudde is, en wat sy mate van betrokkenheid is.

’n Kuddeveearts behoort ten minste een maal per jaar ’n diens te lewer waar die meerderheid diere betrokke was, soos ’n dragtigheidsondersoek van die teeltrop, of tuberkulose- en bloedtoetse van die hele kudde.

Verkopers kan die waarde van verkopersverklarings verhoog deur konsekwent van een kuddeveearts se dienste gebruik te maak. Dit kan ook die deel van inligting soos vrektes, speenpersentasies, gereelde gesprekke oor inentings en parasiet-beheer met die kuddeveearts behels. Die bemarkingswaarde van ’n verkopersverklaring sluit in:

  • Verkopers kan bykomstige inligting verskaf wat die risiko van oorgedraagde siektes verlaag en die aankoper gerusstel oor die diere wat gekoop word.
  • Inligting oor die inentingsgeskiedenis van die betrokke diere is van uiterste belang vir die koper sodat die regte besluite geneem kan word oor die voorkomende gesondheid wat op die aangekoopte diere toegepas moet word.
  • ’n Verkopersverklaring kan ook die voorafgaande paar maande se behandelings soos voeding, antibiotika, parasietbeheer en aanvullings soos vitamien A insluit. Hierdie praktyke het ’n direkte invloed op die risiko van siektes.

Die verkopersverklaring is ook van toepassing op die verkoop van semen en embrio’s wat moontlik siektes kan oordra. Dit kan dus ook ingespan word om met voornemende kopers oor moontlike risiko’s te kommunikeer.

Lees meer oor deel vier van die biosekuriteitsreeks: kwarantyn, higiene en interne siektebedreigings.

Kontrolelys vir siektebeheer

Die verkopersverklaring is verder ook ‘n vorm van gehaltebestuur wat dien as ‘n kontrolelys vir die beheer van biosekuriteit. Dit is belangrik om in ag te neem dat die verkopersverklaring slegs een deel van die proses van siektebeheer is.

’n Kontrolelys (Tabel 1) kan verseker dat die verkoop van diere op ’n hoë vlak bestuur word.

Tabel 1: Kontrolelys vir die beheer van biosekuriteit.

verkopersverklaring

Is die verklaring ’n waarborg?

Hoewel die verkopersverklaring geen waarborge of ingeboude kruiskontroles bevat nie, is die ondervinding dat verkopers nie valse verklarings aflê nie. Die verkopersverklaring laat geen twyfel oor wat die verkoper sê nie en maak regsaksies teen valse verklarings meer suksesvol, omdat dit op skrif is.

Lees meer oor hoe om biosekuriteit op ‘n skaapplaas toe te pas hier.

In die voorlaaste aflewering van hierdie reeks in die volgende uitgawe, kyk ons na biosekuriteitsmaatreëls vir skeer, die klas van skape, veeartsbesoeke en opedae voor veilings. – Dr Johan van Rooyen, spesialisveearts, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.