Biosekuriteit op die plaas (deel 4): Kwarantyn, higiëne en interne siektebedreigings

Share This Post

Estimated reading time: 7 minutes

  • Biosekuriteit is slegs doeltreffend wanneer almal bewus is van potensiële bedreigings.
  • Dit is nie net van buite die plaas waar die gevare skuil nie; daar kan ook interne bedreigings wees.
  • Siek diere op ’n plaas is dikwels die bron van groter uitbrekings en biosekuriteitsmaatreëls is noodsaaklik om daardie diere te hanteer.
  • Die regte lengte van die kwarantyntydperk is ’n moeilike aspek en het nie ’n maklike antwoord nie.
  • ’n Gebrek aan biosekuriteitsmaatreëls op die plaas is sekerlik die oorsaak van 90% van siekte-uitbrekings wat groot skade op ’n plaas kan veroorsaak.

Wanneer produsente en hul werknemers met troppe diere werk, moet biosekuriteit hulle nommer-een prioriteit wees.

Biosekuriteit is slegs doeltreffend wanneer almal bewus is van potensiële bedreigings. By die produksie van plaasdiere word biosekuriteit as een van die belangrikste sake beskou waaraan produsente aandag moet gee. Dit is soms skokkend hoe min daar werklik beplan word om die bedreiging van siektes by plaasgrense te verminder, terwyl die konsep eintlik heel eenvoudig is. Doeltreffende kwarantyn vereis deeglike beplanning.

Lees meer oor die beginsels van biosekuriteit in die eerste artikel van die biosekuriteitreeks.

Interne bedreigings

Dit is nie net van buite die plaas waar die gevare skuil nie; daar kan ook interne bedreigings wees. Eenvoudig gestel, baie boerderye is vandag groot en bestaan dikwels uit verskillende eenhede wat elk as ’n biosekuriteitseenheid beskou kan word.

In ekstensiewe gebiede is daar dikwels winter- en somerplase waar die vee volgens die seisoene tussen die plase geskuif word. Daar is egter soms predatore teenwoordig wat sekere plase ongeskik maak vir kalf- en lamproduksie. In daardie geval word die vroulike diere gewoonlik naby die plaashuis gehou, terwyl die jong diere ná speen na ‘n ander plaas geskuif word vir grootmaak.

Dit is egter belangrik dat aandag gegee word aan die biosekuriteitsaspek tussen elke rondskuif-aksie. Om die waarheid te sê, is dit van uiterste belang dat produsente biosekuriteit boaan hul lys van prioriteite sit, elke keer as daar met ’n trop vee gewerk word.

Lees meer oor dipriglyne.

’n Bron van groter uitbrekings

Siek diere op ’n plaas is dikwels die bron van groter uitbrekings en biosekuriteitsmaatreëls is noodsaaklik om daardie diere te hanteer. ’n Goeie voorbeeld is diere met absesse. Wanneer ’n abses oopgaan, kan dit die drinkwater en voerkrippe asook die omgewing besmet, wat dan tot verdere uitbrekings lei.

Die ideaal sou wees dat ’n dier wat siek is na ’n kwarantynfasiliteit geneem word waar daar geriewe is om die abses te dreineer en ontslae te raak van die inhoud daarvan. Dieselfde kwarantynfasiliteit kan ook dien om diere wat van buite ingebring word te prosesseer en isoleer voordat hulle by die troppe naby die plaashuis gevoeg word.

Lees deel twee van die biosekuriteit artikelreeks.

Vereistes vir kwarantynfasiliteite

’n Kwarantynfasiliteit moet voldoende sekuriteit hê om te voorkom dat diere per ongeluk in- of uitbeweeg. Dit moet minstens 100m ver van ander diere wee en sorg moet gedra word dat die afloopwate nie siektes of parasiete na buurtroppe versprei nie. Die ideaal sou wees dat ‘n deel van die fasiliteit skoongemaak kan word (byvoorbeeld ’n betonvloer) en dat die afloopwater in ’n drein inloop.

Verder behoort alle kwarantynfasiliteite ’n voetbad en drukgang te hê sodat diere direk na die aflaaiproses daardeur kan gaan vir prosessering, wat die volgende behels:

• Behoorlike diere-identifikasie en -rekords.

• Deeglike ondersoek vir siektes en parasiete.

• Behandeling met ’n middel vir eksterne parasiete.

• Behandeling met ’n middel vir interne parasiete.

• Inenting teen endemiese siektes (byvoorbeeld bloednier, sponssiekte, lamsiekte, en dies meer).

• ’n Voetbad vir die voorkoming en behandeling van vrotpootjie.

• Die neem van monsters vir toetse.

Na afloop van prosessering, word die diere binne-in die fasiliteit deur kundige en toegewyde personeel versorg. Hierdie personeel moet die area dekontamineer (skoon oorpakke, gewaste hande en skoenontsmetting) voordat hulle na die res van die plaas se diere omsien. Diere behoort daagliks dopgehou te word en in sommige gevalle, soos in hartwatergebiede, moet hulle daagliks gemonitor word vir ’n koorsreaksie, vertraagde eetlus en gedragsveranderinge.

Lees meer oor die belangrikheid van die verkopingsverslag met biosekuriteit hier.

Die kwarantyntydperk

Die regte lengte van die kwarantyntydperk is ’n moeilike aspek en het nie ’n maklike antwoord nie.

Waar daar ’n baie lae risiko van siekteoordrag is, kan ’n paar dae voldoende wees vir die parasiete om dood te gaan en vir wurmeiers om uitgeskei te word. Die diere kan moontlik in kwarantyn bly totdat die laboratoriumuitslae beskikbaar is (gewoonlik minder as sewe dae).

Die inkubasieperiode van die meeste siektes is minder as tien dae en dan sal ’n kwarantyntydperk van 14 dae voldoende wees. Dit is egter nie altyd prakties om troppe in kwarantyn te hou nie. Vir siektes waar die inkubasieperiode baie lank is, of die uitslag van laboratoriumtoetse lank neem, soos in die geval van Johne

se siekte sal dit beter wees om die diere behoorlik te merk en vir so lank as nodig as ’n afsonderlike trop te bestuur.

Na die isolasietydperk moet die trop weer deeglik ondersoek word met behulp van ’n kontrolelys (soos beskryf in deel drie van hierdie reeks). Wanneer diere die kwarantyngebied verlaat, moet hulle voldoende gemerk wees om weer opgespoor te kan word indien enige ander inligting aan die lig kom.

Die volgende maatreëls geld by die bestuur van ‘n kwarantynfasiliteit:

  • Toegangsbeheer oor personeel is belangrik. Die produsent moet weet wie in kontak was met die diere in die kwarantynfasiliteit.
  • ’n Toegewyde personeellid met aparte oorpakke, skoene en sanitasiegeriewe ná kontak, is baie belangrik waar siektes deur kontak oorgedra kan word.
  • Indien enige siekte of vrektes in die kwarantynfasiliteit voorkom, moet daar uitstekende geriewe wees vir die vernietiging en verwydering van besmette materiaal en karkasse.
  • Indien die kwarantynfasiliteit deurlopend gebruik word, moet daar geriewe in plek wees om troppe te skei. Elke afdeling in die kwarantynfasiliteit moet gebruik word as ’n ‘alles in, alles uit’- gerief. Dit beteken dat nuwe aankomelinge nie by die vorige troppe gevoeg moet word nie. Indien dit gebeur, begin die kwarantynperiode van voor af.
  • Nadoodse ondersoeke moet op alle gevalle wat in die kwarantynfasiliteit vrek, gedoen word. Selfs al is die oorsaak van dood redelik voor die hand liggend, kan daar weerstandbiedende parasiete en onderliggende siektes soos clamidiose teenwoordig wees. Ons het al tydens ’n nadoodse ondersoek van ’n skaap met ’n gebreekte been, ontdek dat daar jaagsiekte in die trop was. Die skape kon toe in ’n kwarantynarea geslag word en sodoende is voorkom dat die plaas permanent deur jaagsiekte besmet is.

Lees deel drie van die biosekuriteit artikelreeks.

Ontsmetting van kwarantynfasiliteit

Die ontsmetting van die fasiliteit na elke groep is van uiterste belang. Bakteriese siektes soos absesse en vrotpootjie kan maklik vir ’n paar weke in ’n kraal met grondvloere oorleef. Siektes soos Johne se siekte kan maande lank in sekere tipes modder oorleef. Brandsiekte kan vir 14 dae in ’n pluisie wol oorleef.

Dit is nie noodwendig altyd nodig om chemiese ontsmetting toe te pas nie. In baie gevalle kan die son heeltemal genoeg wees as die area net mooi skoongemaak word.

Die heel belangrikste aspek van kwarantyn vir eksterne diere sowel as interne gevalle is rekordhouding. ’n Daaglikse inskrywing in ’n dagboek of register kan waardevolle inligting verskaf, veral waar groot troppe diere op ’n gereelde basis na die plaas kom.

Ten slotte

’n Gebrek aan biosekuriteitsmaatreëls op die plaas is sekerlik die oorsaak van 90% van siekte-uitbrekings wat groot skade op ’n plaas kan veroorsaak. Ons het al op plase gesien dat troppe van honderde skape ingebring word na aangeplante weidings en dat alles glad verloop, tot die dag wat ’n paar honderd diere met vrotpootjie afgelaai was en die siekte soos ’n veldbrand versprei het. Benewens vrotpootjie het dieselfde kieme ook lamvrektes met lewerabsesse veroorsaak. Die produsent moes na ’n jaar tou opgooi omdat hy uiteindelik glad nie meer skape op die weidings kon aanhou nie.

In die volgende aflewering in hierdie reeks kom ’n bielie van ’n storie aan die beurt, naamlik die verkopersverklaring wat die beste biosekuriteitsinstrument tot ons beskikking is. – Dr Johan van Rooyen, Steynsberg Dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 28 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...