Friday, December 2, 2022

Biosekuriteit op die plaas (Deel 1): Basiese beginsels en belangrike risiko’s vir ekstensiewe kleinveeprodusente

Estimated reading time: 6 minutes

’n Gonswoord wat deesdae groot opslae in veeprodusentekringe maak, is biosekuriteit. Maar wat presies is dit? In hierdie eerste aflewering van ons reeks wat handel oor al die fasette van biosekuriteit op ekstensiewe en intensiewe veeplase, kyk ons na verskeie soorte bedreigings, insluitend aansteeklike siektes en die impak van nadelige gene, roofdiere en ongewenste plante.

Die veebedryf in Suid-Afrika steier onder die gevolge van siekte-uitbrekings wat in baie gevalle voorkom kon geword het. Siektes soos bek-en-klouseer belemmer produksie en die bemarking van diere, terwyl skaapbrandsiekte ’n kroniese probleem in baie kleinveegebiede is.

Hoewel biosekuriteit in die veebedryf tans baie aandag geniet, word siekte-uitbrekings in die kleinveebedryf weens ’n gebrek aan kennis en goeie biosekuriteitsmaatreëls op die plaas, steeds gereeld deur veeartse aangemeld.

Bedreigings wat beheer moet word

Eksterne bedreigings is daardie moontlike gevare wat nie normaalweg op ’n plaas of by ’n biosekuriteitseenheid voorkom nie. Dit word gewoonlik deur plaasdiere, roofdiere, vektore, sowel as menslike aktiwiteite ingebring. Gevare om op die uitkyk voor te wees is ongewerwelde diere, aansteeklike siekte-organismes, ongewenste gene en plante, asook topografie, wind en waterweë wat tot toegangsroetes kan bydra.

Interne parasiete is endemies op talle kleiner herkouerplase. Nuwe spesies en stamme kan ’n vastrapplek kry wanneer biosekuriteitsmaatreëls nie in plek is nie. Enkele voorbeelde is weerstandbiedende haarwurm, knoppieswurm en kroniese slak- en lewerslakinfestasies. Die afgelope 20 jaar maak produsente toenemend van permanent-besproeide weidings gebruik, wat dit baie geskik maak vir tussengashere wat dié parasiete na veediere oordra.

Sommige eksterne parasiete is endemies op talle kleiner herkouerplase, maar goeie kwarantynmaatreëls verminder die risiko van parasiete wanneer nuwe diere op die plaas arriveer. Voorbeelde van eksterne parasiete en toestande is bosluise, skaapbrandsiekte, jeukmyt, ked (’n skaapluis wat in wol bly), rooiluise en bontbosluise (draers van hartwater).

Lees meer oor biosekuriteit in intensiewe en ekstensiewe bedrywe hier.

Aansteeklike siektes

Die fokus van biosekuriteitspraktyke is om aansteeklike siektes wat deur middel van plaasdiere of vektore tot die plaas toegang verkry, te beperk. Die tragedie daarvan is dat tussengashere en vatbare endemiese soogdiere wat die siektes huisves, gewoonlik nie by biosekuriteitsmaatreëls ingesluit word nie.

Siektes met ’n kort inkubasietydperk (Tabel 1) kan gewoonlik kort ná aankoms opgespoor en beheer word met kwarantyngeriewe, waar diere vir twee tot drie weke gehou word.

Tabel 1: Aansteeklike siektes met kort inkubasietydperke. (Bron: Coetzer & Tustin, 2004)

SiekteInkubasietydperk
Miltsiekte1 tot 14 dae.
Bloutong7 dae (eksperimenteel 2 tot 15 dae).
Pasteurella-longontsteking en septisemieMinder as 7 dae.
Voetvrot (vrotpootjie)3 tot 4 dae.
Oftalmie (Moraxella)3 dae tot 3 weke.
Oftalmie (Chlamydophila)3 dae tot 3 weke.
Nekrotiese balanopostitis5 tot 6 dae.
Hondsdolheid2 tot 4 weke (tot 17 weke).
Hartwater7 tot 35 dae (gemiddeld 14 dae).
Orf2 tot 6 dae.
Tetanus3 dae tot 3 weke.

Siektes met ’n lang inkubasietydperk word nie altyd dadelik opgespoor met die aankoms van diere op die plaas nie, en kan eers later sigbaar word. Dit bemoeilik die uitroei of beheer daarvan aansienlik, en in sommige gevalle raak dit ’n verlore stryd.

Sommige siektes kan gedurende die winter onaktief wees, terwyl dit wel in die kudde teenwoordig is, en dan gedurende die somermaande, of andersom, toeneem. Voorbeelde van hierdie siektes is vrotpootjie en brandsiekte, en sluit onder andere die siektes in Tabel 2 in.

Lees meer oor hoe om metritis in jou melkkoeikudde te keer hier.

Tabel 2: Aansteeklike siektes met lang inkubasietydperke. (Bron: Coetzer & Tustin, 2004)

SiekteInkubasietydperk
Kaasagtige klierverswering (Corynebacterium pseudotuberculosis)25 tot 140 dae.
Skaap-progressiewe longontsteking (Visna-maedi)Simptome by 2- tot 4-jaar oue diere.
Jaagsiekte5 tot 6 maande.
Skrapie (spongiforme ensefalopatie)2,5 tot 3,5 jaar.
Johne se siekteDiere ouer as 2 jaar.
Hondsdolheid2 tot 4 weke (tot 17 weke).

Siektes waarvan die organisme in draerdiere teenwoordig is, maar sonder simptome en subkliniese of aanhoudend-besmette diere, sluit in Johne se siekte, jaagsiekte, ensoötiese aborsie, Q-koors, brusellose, Actinobacillus seminis-infeksie, en moontlik peestersiekte.

Siektes wat aborsie veroorsaak kan slegs klinies waargeneem word tydens dragtigheid. Dit is dus belangrik om, indien moontlik, vir hierdie siektes te toets by die aankoop of aankoms van nuwe diere op die plaas.

Tabel 3: Inkubasietydperk van aansteeklike siektes wat aborsie veroorsaak.

SiekteInkubasietydperk
Toksoplasma-aborsie7-14 dae.
Q-koorsVerskeie maande. Aktief gedurende laatdragtigheid. Skei uit vir 8-60 dae ná lam.
Epididimitis (B. ovis)Verskeie maande. Aktief gedurende laatdragtigheid. Word selde waargeneem.
Slenkdalkoors1-3 dae.
Ensoötiese aborsie (Chlamydophila)Verskeie maande. Aktief gedurende laatdragtigheid. Skei uit vir 8-60 dae ná lam.
Wesselsbronsiekte1-3 dae in lammers, en 5 dae voor aborsie plaasvind.

Oorgedraagde siektes

Die mees algemeneinsekoorgedraagde siektes is bloutong en Slenkdalkoors. Siektevoorkoming en die vermindering van risiko’s kan met inenting bewerkstellig word, en gereelde bespuiting van diere en die omgewing kan help om vlieg- en muskietgetalle te beheer. Bosluisoorgedraagde siektes kom oor die algemeen voor wanneer bosluise op hul gashere ingebring word.

As gevolg van die kuddegedrag van skape en bokke het baie siektes daarby aangepas en word dit oorgedra deur middel van kontak tussen die diere. Indien kontak voorgekom het, moet die nodige maatreëls toegepas word om die geaffekteerde kudde te isoleer, moniteer en behandel.

Oordrag van geslagsiektes kom voor wanneer ramme waarvan die status van oordraagbare siektes nog nie vasgestel is nie, kontak met die ooie op die plaas het. Ramme is dikwels ’n biosekuriteitrisiko as gevolg van hul seksuele gedragspatrone.

Siektes soos vrotpootjie word ook soms deur voëls aan kuddes oorgedra. Dié verskynsel kom gereeld gedurende die somer op Karoo-plase voor, wanneer die eerste ooievaars vanuit Europa in Suid-Afrika aankom. Daar bestaan ’n vermoede dat klontwol ook deur voëls ingebring word. ’n Goeie maatreël is om kuddes met sinksulfaat te spuit, en ’n voetbad kan ook help wanneer hierdie voëls begin aankom.

Lees meer oor hoe om geslagsiektes in jou kudde te verhoed hier.

Genetiese gebreke en nadelige gene

Genetiese siektes kan ’n kudde in die vorm van resessiewe gene binnedring en word dikwels eers waargeneem nadat die eerste groep nageslag gebore is. Dit is dus belangrik om óf ’n proefparing te doen om die teenwoordigheid van genetiese afwykings te bepaal, óf om ’n akkurate naspeuring van die nageslag van nuut-ingevoerde diere wat die resessiewe gene kan dra, te laat doen.

Roofdiere

Roofdiere maak nie net skape dood nie, maar kan ook siektes deur bytwonde oordra en as tussengashere vir parasiete optree. Uitbrekings van hondsdolheid op ’n kleinveeplaas word gewoonlik met honde, katte, jakkalse en muishonde geassosieer, maar ander spesies kan ook betrokke wees.

Rooikatte is ’n bekende tussengasheer vir Ixodes rubicundes (Karooverlammingsbosluis), terwyl jakkalse ’n gasheer vir Coenerus serebralis (draaisiekte) asook ’n draer van die Taenia multiceps-lintwurm (blaaswurm in die buik) kan wees.

Ongewenste plante

Die boetebos (Xanthium spinosum), mesquite (Prosopis) en litjieskaktus (Opuntia aurantiaca) word soms saam met aangekoopte diere ingebring. Baie spesies soos dissel, grasse en ander onkruide kan ook op die plaas ingebring word. Diere wat ingekoop word moet in ’n kwarantyngerief skoongemaak word en die sade en plantmateriaal moet versigtig vernietig word.

Aanbevelings

Die meerderheid siektes wat nie deur insekte en ander geleedpotiges oorgedra word nie, kan doeltreffend deur biosekuriteitsmaatreëls voorkom word. Die goeie nuus is dat die implementering van ’n biosekuriteitprotokol nie groot kapitaaluitgawes verg nie.

’n Bewustheid en kennis van die siektes en risiko’s wat in jou gebied voorkom, asook toepaslike beheermetodes, is die enkel grootste wapen om biosekuriteit te bevorder. ’n Doeltreffende en goed-beplande biosekuriteitplan is net so belangrik soos ’n kuddegesondheidsplan om volhoubare produksie by skape en bokkuddes te verseker. Veeartse moet op die implementering van ’n biosekuriteitsplan fokus as deel van die algehele strategie om gevare vir produksie en reproduksie te bestuur.

In die volgende aflewering in die reeks kyk ons veral na interne bedreigings en die voorkoming daarvan, asook die waarde van biosekuriteitsmaatreëls by die aankoop van vee op veilings, skoue en kuddekompetisies. – Dr Johan van Rooyen, spesialis-veearts, Steynsburg-hospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.