Biosekuriteit op die plaas (Deel 2): Risiko’s met vee-aankope by veilings, skoue en kuddekompetisies

Estimated reading time: 6 minutes

  • Diere wat op ’n beplande en beheerde wyse na die plaas gebring word, hetsy vanaf ander plase, of diere wat terugkeer ná kontak met ander diere, bied ’n geweldige uitdaging vir die behoud van biosekuriteit op die plaas.
  • Die primêre doel van biosekuriteitsmaatreëls is om eksterne en interne biologiese gevare wat van buite die plaas af inkom, hok te slaan.
  • Verkopersverklarings is ’n doeltreffende beheermaatreël, want dit dwing die verkoper om eerlik en openhartig te wees, en bied kopers die geleentheid om hul risiko te oorweeg.
  • Waar moontlik, behoort ’n kuddeveearts die diere te ondersoek vóór hul vertrek na byeenkomste waar diere van verskeie bronne afkomstig is.
  • Goeie kwarantynprosedures word allerweë beskou as die enkele doeltreffendste manier om uitbrekings in kuddes te voorkom.

Diere wat op ’n beplande en beheerde wyse na die plaas gebring word, hetsy vanaf ander plase, of diere wat terugkeer ná kontak met ander diere, bied ’n geweldige uitdaging vir die behoud van biosekuriteit op die plaas.

Die primêre doel van biosekuriteitsmaatreëls is om eksterne en interne biologiese gevare wat van buite die plaas af inkom, hok te slaan, en om tydens die aankoop van diere by veilings, of deelname aan skoue en kuddekompetisies, slaggate soos die volgende te voorkom:

  • Interne parasiete: Diere wat op stoetveilings of skoue aangebied word, word dikwels geborg deur maatskappye wat veemiddels verkoop. Hierdie diere word dus redelik gereeld gedoseer, wat beteken dat die waarskynlikheid groot is dat dié diere met hoogs weerstandige haarwurmstamme besmet kan wees en ’n risiko vir die plaas waarheen hulle op pad is, inhou.
  • Eksterne parasiete: Die meeste wolprodusente het al te doen gekry met brandsiekte en jeukmyt wat deur aangekoopte diere na die plaas gebring is.
  • Siektes met lang inkubasietydperke: Johne se siekte en jaagsiekte is van groot belang vir biosekuriteitsbestuur. Die probleem is dat diere dikwels eers twee jaar later simptome begin toon, en teen daardie tyd is die res van die trop lankal besmet.

Lees deel een van biosekuriteit op die plaas hier.

Verkopersverklarings

’n Verkopersverklaring is sekerlik dié belangrikste instrument om siektes met biosekuriteitsmaatreëls te beheer. Hiermee verklaar die verkoper wat sy plaas se status is ten opsigte van toestande in die voorafgaande twee tot drie jaar. Die voorkoms van sekere siektes in hierdie tyd, mag vereis dat diere vóór die byeenkoms getoets moet word.

Die organiseerders van byeenkomste kan ook daarop aandring dat deelnemers ’n siekteverklaringsvorm voltooi. Die vorm behoort saam met ’n plaaslike veearts opgestel en nagegaan te word voordat diere na die byeenkoms vervoer word.

Siektes wat in ’n verkopersverklaring vir kleinvee ingesluit kan word, is brusellose (B. ovis), miltsiekte, bek-en-klouseer, bloutong, klierverswering, (Corynebacterium ovis), ramsiekte (Actinobacillus seminis), ensoötiese aborsie, Johne se siekte, skaapbrandsiekte, jeuksiekte, jaagsiekte, peestersiekte, klontwol, vuilbek, Bolo-siekte, virulente vrotpootjie, middelweerstandige haarwurm, hondsdolheid, kriptosporidiose en hartwater.

By rasgenootskappe of telersgroepe kan genetiese toestande soos dermatosparakse (skeurvel) in sommige vleisskaaprasse, dubbelbespiering in sommige beesrasse, of genetiese indraaispene in wolskape, ook in die verklaring ingesluit word. Om hul eie belange te beskerm, kan kopers daarop aandring dat ’n verkopersverklaring aandui dat sekere plante, soos prosopis, waar die sade vir meer as ’n week nog in dieremis uitgeskei kan word, nie op die verkoper se plaas voorkom nie.

Verkopersverklarings is ’n doeltreffende beheermaatreël, want dit dwing die verkoper om eerlik en openhartig te wees, en bied kopers die geleentheid om hul risiko te oorweeg. Dit bied verkopers, kopers en veeartse ’n kontrolelys van siektes wat aandag benodig, en dit hou ’n bemarkingsvoordeel in wanneer verkopers saam met hul kuddeveearts seker maak dat siektetoestande nie teenwoordig is nie. Die verkopersverklaring lewer ook ’n fisiese bewys vir die partye indien daar ’n wanvoorstelling was.

Diere-ondersoeke

Waar moontlik, behoort ’n kuddeveearts die diere te ondersoek vóór hul vertrek na byeenkomste waar diere van verskeie bronne afkomstig is. Dit is raadsaam om vooraf ’n veeartsverslag te verkry vir diere wat vir ’n langer tydperk in ’n groep gehou gaan word.

Kuddebestuurders behoort in alle gevalle elke dier by aankoms op die plaas behoorlik te ondersoek – veral die oë, bek en kloue – velletsels goed te bekyk, en mismonsters te laat toets indien parasiete teenwoordig is. Indien daar enige twyfel bestaan, kan bloed getrek word om te toets vir brusellose en ander siektes.

As ’n ram nie ’n volledige geslaggeskiktheidsondersoek ondergaan het vóór ’n veiling nie, is dit raadsaam om die ram deeglik te ondersoek vir geslagsiektes soos peestersiekte en bybalontsteking. Bulle behoort met ’n skedewas getoets te word vir trigomonose en vibriose (Campylobacter).

Kwarantynprosedures

Goeie kwarantynprosedures word allerweë beskou as die enkele doeltreffendste manier om uitbrekings in kuddes te voorkom. Diere wat op die plaas aankom, moet in ’n geïsoleerde kwarantynfasiliteit geplaas word wat nie naby riviere of aangeplante weidings is nie. Dit moet skoongemaak kan word en minstens 100m vanaf enige ander diere wees.

Die kwarantynstasie moet voldoende omhein en geïsoleer wees, en strategies geplaas word sodat diere daarin afgelaai kan word sonder enige kontak met die inwonende kudde. Kwarantynareas moet altyd afsonderlike hanteringsgeriewe soos drukgange, voetbaddens en dipgeriewe hê.

Dit is belangrik om goeie rekordhouding tydens die kwarantyntydperk te hou, waar elke dier genommer en enige waarnemings aangeteken word. Dit help om ’n gekleurde oorplaatjie spesifiek vir die groep te gebruik en om hierdie diere enkele maande lank aan hul oornommers of mikroskyfies te kan uitken.

Diere moet skoongemaak word van eksterne parasiete soos bosluise en myte, en deur ’n voetbad stap om te verseker dat vrotpootjiebakterieë nie op die plaas kom nie. Vlieë en muskiete moet beheer word met spuitprodukte wat diere se gesig-area doeltreffend beskerm.

Lees meer oor hoe biosekuriteit van toepassing op voertuie is hier.

Diere moet verkieslik vir 14 dae in kwarantyn bly en daarna vir so lank as moontlik in ’n afsonderlike trop bestuur word. Geslagsiektes kan, byvoorbeeld, eers na die eerste paarseisoen voorkom. Endemiese sowel as epidemiese siektes wat deur insekte oorgedra word, vereis dat die kudde se vlak van immuniteit deur inenting volgehou word.

Diere kan dadelik teen plaaslike siektes ingeënt word indien daar enige twyfel bestaan oor hul inentingsgeskiedenis. Diere wat na voerkrale of aangeplante weidings gaan, kan byvoorbeeld teen pasteurella en bloedderm ingeënt word. Die gewone jaarlikse inentings kan versterk word wanneer diere onder spanning verkeer.

Teen die einde van die kwarantyntydperk moet die diere weer goed ondersoek word voordat hulle tussen die ander diere toegelaat word. Tabel 1 bied ’n voorbeeld van wat die ondersoek behoort te dek.

Tabel 1: Voorbeeld van ’n standaard trop-ondersoekprosedure-vorm.

Agri-besigheid 
Ondersoeker 
Datum Plek 
Tropbeskrywing 
Rede vir ondersoek 
Geslag Aantal 
Ouderdom Status 
Wollengte Tydperk sedert skeer 
Gemiddelde kondisie 
Gedrag 
Beweging 
Famacha-telling 
Ooginfeksie 
Wolverlies 
Bosluise 
Uiers 
Skrotum 
Penis 
Miseiertellings 
Misvorm 
Opvolg aangedui? 
Verklaring 

Wees versigtig en geduldig

Die aankoop van ’n duur nuwe stoetram of bul is dikwels ’n groot gebeurtenis op die plaas en die versoeking bestaan om hom dadelik te gebruik. Dikwels word hy by die huis in ’n mooi kampie afgelaai om mee te spog. Dit kan egter ’n groot fout wees. Volg liefs die protokol wat jy saam met jou veearts opgestel het en voorkom probleme wat dalk vir jare nog skade kan veroorsaak.

In die volgende aflewering van hierdie reeks oor biosekuriteit op die plaas, kyk ons in die besonder na biosekuriteit vir voertuie, besoekers en aangekoopte voer. – Dr Johan van Rooyen, spesialisveearts, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Must read

Dairy industry benefits from research at Outeniqua Research Farm

Estimated reading time: 2 minutes Western Cape minister of Agriculture, Dr Ivan Meyer, recently visited the Western Cape Department of Agriculture’s Outeniqua Research Farm, outside of George. The research farm is known for its...

Katoen-verwysingsprys: Week van 8 April tot 12 April 2024

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...
So ’n span gesonde kalwers op goeie groenweiding bied die beste potensiaal vir sukses.

Strategieë vir die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes Voerkraalvoorbereiding, beter bekend as backgrounding, verwys na ’n fase in die beesvleisproduksieproses waar jong beeste, tipies pas-gespeende kalwers, in ’n voerprogram geplaas word wat daarop gemik is om hulle...

Ekonomiese oorsig vir Maart: Landboumarkte wissel

Estimated reading time: 3 minutes Die rand het ‘n goeie maand ervaar tydens Maart en het deurlopend teenoor die dollar versterk en ‘n redelike stabiele maand teenoor die euro ervaar. Die rand het die...
grootveeproduksiestelsels

Veediefstal: Omgewingskriminologie en misdaadanalise

Estimated reading time: 5 minutes Veediefstal is ‘n misdaad wat ouer as die berge is. Boba omskryf misdaadontleding as “die sistematiese studie van misdaad- en wanordeprobleme, asook ander polisieverwante kwessies – insluitend sosiodemografiese, ruimtelike...