HomeGeneral agricultureBiesmelk: Die lewensbron van lammers

Biesmelk: Die lewensbron van lammers

Estimated reading time: 3 minutes

Die belangrikheid van biesmelk kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit is daardie eerste melk wat die lam inneem na geboorte. Dit gee daardie nuwe lam ’n eerste hupstoot en genoeg immuniteit om die stryd teen siektes en peste aan te durf.

Ongelukkig is daar ooie wat nie genoeg biesmelk aan hulle lammers kan voorsien nie en die gevolg is swak lammers wat vatbaar is vir infeksies weens onvoldoende immuniteit. Sulke lammers verhonger maklik en kan boonop maklik verkluim weens onvoldoende energie om tydens koue omgewingstemperature liggaamstemperatuur te reguleer. So sĂȘ Leon Kruger, ’n dosent aan die Fakulteit Landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die drie ‘Q’s’ van biesmelk

Kruger sĂȘ biesmelk moet aan die drie ‘Q’s’, naamlik ‘quality, quantity and quickly’, voldoen. “Daar is ’n sterk verwantskap tussen plasenta-ontwikkeling en die gehalte van biesmelk. Daarom word goeie gehalte biesmelk verkry deur die ooi prikkelvoeding vier tot ses weke voor dektyd te voer sodat dit plasenta-ontwikkeling ondersteun.”

Hy noem ook dat die hoeveelheid biesmelk wat beskikbaar is gekoppel is aan plasenta-ontwikkeling wat deur prikkelvoeding reggestel kan word.

Die spoed waarmee die lam by die uier kom en biesmelk drink, is baie belangrik. Die lam moet binne ’n uur na geboorte biesmelk kry, anders sal sy immuniteit baie laag wees. Die biesmelk sal ook vir die lam energie en warmte gee om by die ma te hou en koue temperature te oorleef.

Beplan vroegtydig

Al drie hierdie aspekte moet alreeds voor dektyd beplan word. “Die bestuur van die ooi voor dektyd en tydens dragtigheid is die enigste manier om te verseker dat daar ‘n voldoende hoeveelheid gehalte biesmelk gaan wees. Hoewel daar resepte is vir melk met verhoogde vetinhoud en energie, is daar nie regtig plaasvervangers vir die immunoglobiene nie.

Lees hier hoe jy jou ooie vir dektyd kan voorberei.

“Na my mening is daar nie regtig plaasvervangers vir biesmelk wat dieselfde immunoglobiene bevat as wat in die kudde voorkom nie. Daar is nie regtig kitsplanne vir biesmelk nie en daarom is dit beter om ooie betyds voor te berei sodat hulle genoeg biesmelk met die drie ‘Q’s’ vir die lam het.”

Tekens van tekort aan biesmelk

Hy sĂȘ jy kan maklik agterkom as die lammers nie genoeg biesmelk gekry het nie. ’n Sterk lam wat se maag rond en volpens vertoon Ă©n wat by die ooi kan hou is ’n teken dat hy genoeg bies ingeneem het. Daarenteen is ‘n swak lam wat ‘plat’ voorkom en met ’n geboĂ« rug staan en nie by die ooie kan hou nie, ’n teken dat hy nie voldoende bies gekry het nie.

Kruger se raad is om sowat 20ml biesmelk by elke ooi wat ’n eenling het, te melk, en dit in ou 20ml spuite te vries vir gevalle waar die lammers nie voldoende biesmelk gekry het nie. Dit help die lammers met immuniteit teen siektes wat in die omgewing voorkom. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Must Read

RSG Landbou: 4 September 2024 – geborg deur MSD

Die belang van omgewingsreg en -bestuur vergroot namate omgewingskwessies dringender raak. Hierdie onderwerp het onder bespreking gekom tydens Agbiz Grain se 8ste SHEQ-virtuele werksessie....