Estimated reading time: 6 minutes
Vrystaat Landbou (VL) het in Augustus hul 120ste kongres oor twee dae by Monte Bello buite Bloemfontein gehou. Die instansie het in 1904 met ’n handjievol boere begin en by vanjaar se kongres het meer as 200 landbouers opgedaag. Die tema van die kongres was Quo Vadis, wat Latyns is vir ‘Waarheen is ons op pad’, die onderwerp waaroor die meeste van die sprekers gepraat het.
Francois Wilken, VL-voorsitter, het gesê boere moet in slegte tye saamstaan. Verskeie uitdagings bemoeilik die landbousektor se taak. Dit is faktore soos biosekuriteit, beskikbaarheid en bekostigbaarheid van entstowwe, infrastruktuur soos paaie en hawens, Eskomkrag, en veiligheid van boere, wat graan- en veediefstal insluit. Ministers en politieke rolspelers moet boere help met hierdie uitdagings en almal moet hande vat om die probleme op te los.
Hy het gesê jong mense moet deel raak van die proses om vir hulle ’n toekoms te skep. Boere moet betrokke raak by hul gemeenskappe en nie skroom om leiding te neem nie. Een van die groot suksesse wat VL behaal het, was om R11 miljoen terug te kry van gesteelde beeste ter waarde van R15 miljoen. Hy het gesê die toekoms van landbou is nie in die bestuur se hande nie, maar in die boere s’n. Die nuwe regering van nasionale eenheid gee hom hoop en hy wil boere aanmoedig om deel te raak van georganiseerde landbou.
Lindie von Maltitz van die departement landbou-ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat het gesê die universiteit gaan ’n studie vir VL doen oor die deelname van lede en nie-lede in die landbousektor. Sy het ook aangekondig dat die Universiteit van die Vrystaat goedkeuring ontvang het om hul eie veeartsenyskool op te rig. Die eerste inskrywings gaan in 2027 aanvaar word.
Lees meer oor die onlangse NKWV Vrystaat-kongres hier.
Kan nie vir alles beplan
Prof Cobus Oberholster, hoofbestuurder: nuwesake-ontwikkeling by BKB, het oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse boer gesê een van die foute wat ons maak wanneer ons aan die toekoms dink, is dat alles normaal versprei is (normally distributed), maar in die ekonomie en sakewêreld is alles nie normaal versprei nie. Vir sommige gebeurtenisse soos die Covid-19 pandemie kan nie beplan word nie – die sogenaamde Black Swan-beginsel.
“Hoewel boere kan beplan, kan ’n black swan-gebeurtenis alles verander. Boere het ‘gereedskap’ wat hulle kan gebruik om vir die toekoms te beplan. Om aan die toekoms van landbou te dink, is niks anders nie as om die tendense wat voor jou uitspeel, te gebruik om vorentoe te projekteer. Met ander woorde, as die tendens aangaan, hoe gaan dit die boer beïnvloed. In die landbou is daar belangrike aspekte soos volhoubaarheid en ekonomiese groei, met veelvuldige aandeelhouers wat dikwels geleenthede skep. Jong mense se beeld wat hulle van die land het, moet hulle hoop gee,” het hy gesê.
Gernie Botha, hoofbestuurder van VL, het die boere meer oor die VL-struktuur en hoe hulle by Agri-SA inskakel, vertel. Elke komitee binne-in die struktuur van VL het sy doelstellings en projekte vir 2024/25 met die boere gedeel. Die leiers van die komitee het ’n paneel gevorm vir wie die boere vrae kon vra. Van die bekommernisse wat geopper is, was dat die regsproses te lank neem om verdagtes te verhoor en vonnisse op te lê.
Winde van verandering
Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA, het die sterk bergwinde van Mount Everest met die Suid-Afrikaanse landbou vergelyk waar tans winde van verandering waai. Net soos die bergklimmers die sterk winde moet trotseer, moet ons boere ook nie opgee nie. “Ondanks verskeie gebeurtenisse in die geskiedenis wat ’n groot invloed op die landbou gehad het, het die landbouers daardeur gekom en styg steeds uit. ’n Vinnig groeiende bevolking in Afrika gaan altyd staatmaak op landbouers soos ons om voedsel te voorsien.”
Die Vrystaatse LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, Elzabe Rockman, het gesê sy gaan aandag gee aan ontwikkelingsprojekte in die provinsie wat misluk het. Die paaie wat vir boere ekonomiese roetes is, moet aandag kry sodat produkte veilig en doeltreffend vervoer kan word. Sy het die boere bedank vir hul bydrae in die landbou en dat hulle nooit moed verloor nie. “Boerdery is ’n beroep van hoop en gebed.”
Die minister van landbou, John Steenhuizen, het by die formele aandfunksie gesê hy het gekies om by landbou betrokke te raak omdat hy die potensiaal in Suid-Afrika se landbousektor raaksien. Sy eerste doelwit is om die probleme in die landbou te identifiseer en oplossings te kry, want “die boer se sukses is ons sukses”. Hy is bly dat die landbou nou op sy eie staan sodat dit sy onverdeelde aandag kan kry. Hy gaan hard werk om die landbou in Suid Afrika te verbeter en het die boere bedank dat hulle sorg dat daar kos op Suid-Afrikaners se tafel is.
Lees meer oor Vrystaat Landbou se veediefstalondersoek hier.
Vergroot mark met uitvoere
Prof Johan Willemse het gesê die Covid 19-pandemie en oorloë wat in die buiteland woed, het boere se winsgewendheid beïnvloed. Faktore soos die weer, insetkoste, prystendense, en kapitaalkoste speel ook ’n groot rol in die landbousektor. Die binnelandse ekonomie is nie sterk genoeg om boere te betaal wat hul produk werd is nie. “Ons moet ons mark vergroot deur uitvoere te vermeerder, met die groeiende bevolking in Afrika wat ’n goeie geleentheid is.”
Hy sê die voorspelde La Niña-siklus kan moontlik ’n groter graanoes in die volgende seisoen lewer, wat graanpryse kan afstoot. As gevolg van die laer graanpryse kan die speenkalfprys styg. “Boere kan nie meer die wedloop kaalvoet hardloop nie. Nuwe tegnologie en innoverings begin ’n groot rol speel en boere sal moet aanpas om winsgewend te bly. Boere wat produktief boer, kan steeds winsgewend wees.”
Drie strydrosse van Vrystaat Landbou, Dirk Janse van Rensburg, John Kotze en Borrie Erasmus, het toekennings van dankbetuiging vir hul dienste aan VL ontvang. Johan Fourie van Dewetsdorp is as die streekverteenwoordiger van die jaar en die Steynsrus-boerevereniging as die boerevereniging van die jaar aangewys. – Danie Naudé, Universiteit van die Vrystaat (namens Plaas Media)