Estimated reading time: 4 minutes

Beestuberkulose, ‘n belangrike soönose, is ‘n siekte wat dikwels onderskat word en waarvan die gevolge verreikende afmetings kan aanneem. Volgens dr Wynand Goosen, ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch, word beestuberkulose deur die patogeen Mycobacterium bovis (M. bovis) veroorsaak en kan dit deur lewendehawe, wildspesies sowel as mense oorgedra word. Daarteenoor word die meeste menslike tuberkulose deur Mycobacterium tuberculosis veroorsaak.    

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) kom tuberkulose voor onder ongeveer 615 uit elke 100 000 mense of dan bykans 370 000 mense in Suid-Afrika. Tuberkulose is ook die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, gevolg deur diabetes, hartsiektes en HIV-verwante sterftes. Sowat 30% van alle gevalle van tuberkulose onder mense is die gevolg van M. bovis-infeksies. Die meeste gevalle van beestuberkulose kom voor waar ongepasteuriseerde melk gedrink word.

Die omvang van die probleem

Hy sê hierdie probleem is ernstiger as wat baie van ons wil toegee en die probleem kan slegs opgelos word indien genoeg aandag aan siektebeheer gegee word. “Beestuberkulose het ’n groot impak op dieregesondheid. Dit lei tot vrektes onder diere en verlaag hul produktiwiteit.

“Dit het ook ’n impak op voedselsekuriteit: dit beïnvloed diereprodukte negatief, beperkings word op handel geplaas, en plase word onder kwarantyn geplaas en kan gevolglik nie produkte lewer nie. Dit het ook ’n omgewingsimpak, aangesien dit ’n wanbalans in die ekostelsel deur die oordrag van die siekte van een spesie na ’n ander veroorsaak, terwyl dit ook sosio-ekonomiese implikasies het, omdat dit inkomste verlaag en ’n negatiewe invloed op ekotoerisme het,” verduidelik hy.

“Een manier om siekte-oordrag van diere na mense te bekamp, is om ’n allesomvattende strategie uit te werk en te implementeer, wat mediese en sosiale wetenskappe insluit. Om net aan lewendehawe aandag te skenk sal nie die probleem oplos nie. Alle gashere wat die organisme dra, insluitend wildspesies, sal ook betrek moet word.”

Lees meer oor Onderstepoort se wenke rakende beestuberkulose hier.

Siektetekens en aanmelding

Beestuberkulose kan verskillende vorme aanneem. Soms is dit tydelik en ander kere kronies. Onder beeste kan ’n klein gedeelte van ’n kudde binne enkele maande ernstig besmet word, terwyl dit by ander diere jare neem voordat kliniese tekens wys. In die meeste gevalle word die bees se limfkliere, longe, uier en ander inwendige organe aangetas.

“Die bakterie kan vir lang tye dormant in die gasheer bly, sonder om die siekte na vore te bring. In ander gevalle kan die diere skielik begin gewig verloor, hul haarkleed kan verdof, vergrote, prominente limfkliere en ’n swak eetlus mag van die ander kliniese simptome wees. Diere kan ook asemhalingsprobleme ondervind. By ’n longaandoening kan die diere ook ’n onderdrukte, vogtige hoes hê,” sê dr Goosen.

Beestuberkulose is al sedert 1911 ’n aanmeldbare siekte en sekere gebiede in die land word wetlik verplig om beeste vir tuberkulose te toets. Ander maatreëls, soos kwarantyn en die slag van besmette diere, kan ook verpligtend gemaak word.

Hy voeg egter by dat deelname aan die tuberkulose-uitwissingsprogram vrywillig is, behalwe in kuddes waar diere reeds besmet is. Volgens hom is produsente nie altyd gewillig om betrokke te raak nie, omdat hulle baie geld verloor indien hul diere geslag moet word.

Lees meer oor hoe om te waak teen gousiekte in herkouers hier.

Voorkoming van beestuberkulose

Dr Goosen sê in gevalle waar beestuberkulose voorkom, is daar nie veel van ’n kans om die diere te red nie. Die beste aanslag is om voorkomend op te tree, deur basiese biosekuriteitspraktyke toe te pas.

Een daarvan is om diere in groepe bymekaar te hou en jou eie vervangingsdiere te teel. Elke nuwe aankoop in die kudde kan ’n risiko inhou, en daarom is dit nodig om diere wat aangekoop word eers vir ’n geruime tyd in isolasie te hou, te toets en seker te maak dat hulle vry van tuberkulose is, voordat hulle by die res van die kudde gevoeg word. Dit is ook noodsaaklik om te keer dat die kudde met diere van naburige plase in aanraking kom. Gevalle waar diere aan mekaar ruik is genoeg kontak om besmetting te veroorsaak.

“Die mees algemene manier om die siekte van een dier na ’n ander oor te dra, is deur direkte kontak, maar gevalle van indirekte oordrag is ook al aangemeld, byvoorbeeld waar dit van wild na vee oorgedra is of waar die diere met ’n besmette karkas in die veld in aanraking kom. Deur dooie karkasse uit die veld te verwyder, kan dit egter verhoed word.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Wynand Goosen by wjgoosen@sun.ac.za.