tuberkulose
’n Siftingstoets by ’n bees vir tuberkulose met die tuberkulienveltoets. (Foto: Dr Jan H du Preez)

Estimated reading time: 5 minutes

Besmette beesmelk en melkprodukte met Mycobacterium bovis-bakterieë wat nie gepasteuriseer is nie, is die hoofbron van besmetting wat beestuberkulose by die mens veroorsaak. Buffelmelk wat met die bakterieë besmet is, kan ’n bron van besmetting by die mens wees.

Beestuberkulose is ’n direkte antroposoönose, oftewel ’n siekte of besmetting wat primêr by diere voorkom en natuurlik na die mens oorgedra word. Dit word deur die bakterie M. bovis veroorsaak, wat hoofsaaklik in beeste maar ook in wild (veral buffels) en vleisetende diere voorkom. Die siekte het na wild (bv. buffels, elande en bosbokke), vleisetende diere (leeus, hiënas, luiperds en jagluiperds) en ander diere soos bobbejane, vlakvarke, koedoes en rooibokke oorgespoel.

’n Koedoe wat met beestuberkulose besmet is en gevolglik vergrote limfkliere in sy nek het. (Foto: Dr R Bengis)

Die besmetting kan na ander vee- en wildsoorte oorgedra word wat in noue aanraking met aangetaste beeste leef en na roofdiere wat besmette prooi vreet. Hierdie bakterieë veroorsaak ’n relatief klein persentasie (minder as 2%) tuberkulose-gevalle by die mens.

Menslike tuberkulose

Die meeste gevalle van tuberkulose (meer as 90%) by mense word deur Mycobaterium tuberculosis, oftewel menslike tuberkulose, veroorsaak. M. bovis-tuberkulose by mense het oor die jare drasties verminder weens doeltreffende siektebeheer by beeste en die pasteurisasie van beesmelk.

Tuberkulose wat by die mens voorkom, kan ook diere besmet. Wêreldwyd word jaarliks miljoene nuwe M. tuberculosis-besmettings aangemeld. Hierdie siekte is een van die belangrikste besmetlike siektes wat mense wêreldwyd laat sterf.

Na raming is meer as 1,6 miljoen mense wêreldwyd in 2016 aan tuberkulose dood, waarvan 374 000 sterftes mense was wat MIV-positief was. Van die 374 000 sterftes was 180 000 van Suid-Afrika. In dieselfde jaar was daar 380 000 nuwe MIV-besmettings in Suid-Afrika.

Wedersydse oordrag

Tuberkulose by mense kan voorkom en beheer word. Die siekte is ’n toonaangewende siekte onder MIV-positiewe mense. Omdat tuberkulose wederkerig tussen die dier en mens oorgedra kan word, staan dit bekend as ’n amfisoönose. In 2016 was daar na raming 10,4 miljoen nuwe tuberkulose-besmettings wêreldwyd, waarvan ongeveer een miljoen kinders was.

https://www.agriorbit.com/beesbrusellose-n-deurlopende-bedreiging-vir-kuddes/

Ander name waaronder tuberkulose by mense bekendstaan, is “phthisis” (Grieks), “consumption” (Latyn), scrofula, Pott’s-siekte en White Plague.

Nie almal wat met M. bovis en M. tuberculosis besmet raak, word siek nie. Mense wat besmet raak en nie siek is nie, het ’n latente (verborge of onsigbare) tuberkulose-besmetting. Dié mense voel nie siek nie, het geen siektetekens nie en kan nie die tuberkulose na ander mense versprei nie.

Sommige mense met latente tuberkulose kan egter wel siek word. Ongeveer een derde of 2,47 miljard van die wêreld se bevolking van 7,5 miljard mense het sluimerende tuberkulose, van wie die oorgrote meerderheid met M. tuberculosis besmet is.

Oordrag deur melkprodukte

Die meeste mense word met M. bovis besmet deur besmette ongepasteuriseerde melk of verwerkte melkprodukte te eet of te drink. Die bakterieë kan die mens ook besmet deur direkte kontak met tuberkulose-letsels tydens nadoodse ondersoeke op beeste of ander diere deurdat hulle die liggaam deur snytjies of wonde binnedring.

Die inaseming van bakterieë in besmette lug wat deur diere uitgeasem is, kan mense besmet. Direkte besmetting van diere na die mens deur die inaseming van besmette lug (druppelbesmetting) is egter seldsaam. M. bovis-bakterieë kan deur inaseming van mens na mens oorgedra word as besmette mense nies of hoes. 

Risiko’s vir besmetting

Mense wat weens hul beroep aan die siekte blootgestel word, is dierehanteerders, abattoir- en slaghuiswerkers, veeartse en mense wat by melkplase, wildplase, voerkrale en vleisbeesplase werk. Mense wat roumelk en ongepasteuriseerde verwerkte melkprodukte inneem, val in die hoë-risiko groep wat M. bovis-besmetting kan opdoen.

Mense wat met MIV besmet is, het ’n 20 tot 30 keer groter kans om tuberkulose op te doen as mense wat nie MIV het nie. Mense wat ’n hoë risiko vir M. bovis-tuberkulose het, behoort gereeld siftingstoetse vir tuberkulose te ondergaan. Longradiografie word gebruik om tuberkulose by mense te diagnoseer. Siftingstoetse vir diere sluit tuberkulienveltoetse en bloedtoetse in.

Simptome en behandeling

Nie alle M. bovis-besmettings by mense veroorsaak tuberkulose nie en gewoonlik het diegene wat besmet is geen siektetekens nie. Mense met tuberkulose weens M. bovis of M. tuberculosis het koors, hoes, nagsweet en gewigsverlies. Ander siektetekens kan voorkom, afhangende van watter organe en liggaamsdele aangetas is. Iemand met aangetaste longe hoes gewoonlik en as die dermkanaal aangetas is, kan die mens diarree of buikpyn hê.

Die veeboer se noodhulpkas.

Tuberkulose wat deur M. bovis by die mens veroorsaak word, word gewoonlik dieselfde behandel as M. tuberculosis-gevalle. Tuberkulose by mense word gewoonlik met kombinasies van verskillende antibiotikums behandel. Sonder tuberkulose-behandeling kan die siekte dodelik wees.

Om besmetting te voorkom, gebruik net gepasteuriseerde melk of melk wat ander doeltreffende hittebehandeling ondergaan het, ook vir die vervaardiging van melkprodukte. Vermy ook kontak met beeste, wild en ander diere wat tuberkulose het.

Tuberkulose is ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) ’n staatsbeheerde dieresiekte in Suid-Afrika.

Dr Jan H du Preez is die besturende direkteur van UCK Investments. Vir meer inligting, skakel hom by 083 656 3638 of stuur ’n epos aan drjanh.dupreez@gmail.com. Besoek alternatiewelik die webtuiste www.zoonoses.co.za of stuur ’n epos aan info@zoonoses.co.za.