HomeMagazinesKen jou storie met klamidiose in beeste

Ken jou storie met klamidiose in beeste

-

Estimated reading time: 5 minutes

  • Klamidiose word deur die Chlamydophila-bakterieë veroorsaak.
  • Die siekte toon nie altyd sigbare tekens nie.
  • Klamidiose word deur twee organismes veroorsaak, Chlamydia pecorum en Chlamydia abortus.
  • Dit is belangrik om die kliniese tekens en bloedtoetse te vergelyk om diagnoses te bevestig.
  • Dr Reynolds beveel nie kwarantyn aan nie, maar dit is wel belangrik om verantwoordelik op te tree om mense en diere te beskerm.

Klamidiose, wat deur die Chlamydophila-bakterieë veroorsaak word en dikwels ongesiens in veekuddes beland, kom wêreldwyd voor. Mense kan ook daarmee besmet word, en in veeboerderye kom dit baie meer algemeen in skape en bokke voor, terwyl beeste minder daardeur geraak word.

Veeplaas het by dr Paul Reynolds van die Warden Dierehospitaal gaan aanklop om meer oor hierdie siekte uit te vind.

Leer meer oor die beheer van geslagsiektes onder jou kudde hier.

’n Vertakking van organismes

Omdat die siekte nie altyd sigbare tekens het nie, sê dr Reynolds, identifiseer skaapprodusente, en in ’n mindere mate beesprodusente, klamidiose gewoonlik eers wanneer ensoötiese aborsies in die kudde voorkom.

Klamidiose word deur twee organismes veroorsaak, Chlamydia pecorum en Chlamydia abortus. “Beide kan produksie- en reproduksieverliese tot gevolg hê. Dit is belangrik om elke geval van aborsie deeglik te laat diagnoseer, aangesien dit mense ook kan siek maak. Produsente moet verder daarvan kennis neem dat die bakterieë, veral in beeste, maklik met dié wat trigomonose of brusellose veroorsaak, verwar kan word.”

Lees meer oor hoe om geslagsiektes in die kiem te slaan onder jou kudde hier.

Simptome van C. pecorum

Hierdie organisme veroorsaak ooginfeksies in beeste en skape, asook baarmoederontsteking, ontsteking van die testes, gewrigsontsteking en vroeë resorpsie van fetusse. “Hierdie siekte moet op elke veeprodusent se lys van siektes wees,” sê dr Reynolds. “Ooginfeksies kan dikwels soos algemene pienkooginfeksies lyk, en as inenting daarteen nie doeltreffend is nie, moet bepaal word of klamidiose dalk die oorsaak is. Vroeë dragtigheidsverliese of swak konsepsie kan ook ’n teken wees.”

Simptome van C. abortus

Net soos in skape veroorsaak C. abortus aborsies op ’n latere stadium in koeie, en daarom kan dit maklik met brusellose verwar word. Dit kan ook doodgebore of swak kalwers teweegbring.

Aborsies kom gewoonlik voor tussen sewe en agt maande van dragtigheid in beeste. Volgens dr Reynolds is kontak met die nageboorte en vrugwater van besmette diere een van die grootste oorsake van siekte-oordrag. Nuwe infeksies kan tot 30% aborsies by beeste veroorsaak, en waar die siekte gevestig is, kan dit tussen 5 en 10% jaarlikse aborsies veroorsaak.

Lees meer oor hoe die beginsels van virussiektes hier.

Diagnose

C. abortus kan deur kliniese tekens, bloedtoetse en nageboorte- of kalf-analises in die laboratorium bevestig word. “Dragtigheid is gewoonlik die vertrekpunt om C. abortus in ’n kudde te identifiseer,” sê dr Reynolds. “Dit is die enigste manier om te onderskei tussen dié siekte en ander oorsake wat ook tot vroeë dragtigheidsverliese en lae konsepsies lei.

“Op een plaas waar ons ná kunsmatige inseminasie op twee maande ‘n dragtigheidsondersoek gedoen het, en toe weer op drie-en-’n-half maande, het ons ’n dragtigheidsverlies van 8% gesien. Volgens die bloedtoetse wat gevolg het, het al die beeste positief vir C. pecorum getoets.”

Verder is dit belangrik om die kliniese tekens en bloedtoetse te vergelyk om diagnoses te bevestig. “Neem ook kennis daarvan dat, waar swak konsepsies op plase gevind word, dit belangrik is om dragtigheid op ’n vroeër stadium te ondersoek, sodat jy kan sien of dit nie verliese eerder as swak konsepsies is nie.

Klamidiose mag met parainfluensa-3, beesrinotrageïtis, salmonellose, beesvirusdiarree, koronavirus, enteritis, kolibasillose, rotavirusinfeksie en mikoplasmose verwar word. Hierdie siektes moet altyd uitgeskakel word voordat ‘n finale diagnose van klamidiose gemaak word.

Lees meer oor hoe om lamsiekte te beheer hier.

Behandeling en voorkoming

“Klamidiose is redelik sensitief vir behandeling met tetrasiklien en, terwyl jy vir ’n diagnose wag, kan die gebruik daarvan ’n uitbreking vinnig kortwiek. Sodra ’n diagnose bevestig is, behoort die hele kudde, insluitend bulle, ingeënt te word.”

Dr Reynolds beveel nie kwarantyn aan nie, maar dit is wel belangrik om verantwoordelik op te tree om mense en diere te beskerm. “Diere wat voorheen besmet was, bly permanente draers van die bakterie en moet verkieslik apart van jou skoon diere gehou word. Dit geld veral waar besmette bulle by onbesmette koeie geplaas word.”

Inenting bly die mees doeltreffende manier om klamidiose in vee te beheer. Vir C. abortus is lewendige én dooie entstowwe beskikbaar, maar teen C. pecorum is slegs ’n dooie entstof in Suid-Afrika beskikbaar. “Omdat die probleem gewoonlik in dragtige diere kop uitsteek, kan hulle met die dooie entstof behandel word.

Leer meer oor die kastrasie van beeste hier.

“Inenting hou ook ’n ekonomiese voordeel in, omdat die konsepsiepersentasie van ’n besmette kudde met minstens 5% verbeter kan word.” Hy sê dat die voorkoms van seer oë ook afneem op plase waar diere ingeënt word.

Klamidiose in beeste word, volgens dr Reynolds, gereeld ge-onderdiagnoseer. “Die siekte versprei vinnig en word ook in bulle se semen oorgedra. Daarom is dit van uiterste belang om jouself heeltemal te vergewis van diere se herkoms en om goeie biosekuriteit toe te pas.”

Hy beveel aan dat nuwe koeie apart gehou moet word totdat hulle klaar gekalf het, en om altyd ’n diagnose te kry wanneer diere aborteer. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Paul Reynolds by 082 587 7607, 071 438 9277 of wardendier@gmail.com.

Must Read

Plaas TV ry van kongres tot kongres

Estimated reading time: 2 minutes Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se...