Skaapboerdery: Intensifisering maak sin

Estimated reading time: 6 minutes

Die pa- en seunspan van AM Swanepoel en Seuns Boerdery op die plaas Mooihoek in die Smithfield-omgewing bestaan uit pa Adam en sy twee seuns, Thian en Theron. Die boerdery is hoofsaaklik ’n Merino-boerdery, maar daar is ook Simmentaler-beeste en ’n droëland lusernproduksievertakking. Die lusern word verpil om die basis te vorm van die verskillende rantsoene wat vir die skape gevoer word.

Die verpillingsmasjien wat hulle gekoop het, vertel Theron, is sommer baie vinnig afbetaal deur die geld wat hulle per sak gespaar het op die voer wat hulle in die verlede moes koop – soveel as R100 per sak op die duurder rantsoene en R60 per sak op die goedkoper rantsoene.

“Ons het die som gemaak op die aankoopprys van lusern, omdat die markwaarde tog die basisprys behoort te wees. Teen markwaarde betaal ons die verpillingsmasjien binne drie jaar, bereken op 600 ooie wat vyf tot ses keer per jaar deur die lamhokkies gaan. As ’n mens jou eie lusern kan produseer, maak dit alles selfs nog goedkoper.”

Koste-doeltreffende lamhokkies

Die Swanepoels het onlangs ’n lamhokkie-eenheid opgerig, wat uit 600 lamhokkies onderdak bestaan wat outomaties gevoer word. Die vloere is van houthortjies om higiëne in die eenheid te verbeter. Die totale koste van die eenheid was sowat R1,3 miljoen, oftewel R2 220 per lamhokkie. Theron wys daarop dat hulle weereens besig is om die belegging binne twee en ’n half jaar te betaal, danksy die ekstra lammers wat hulle nou per jaar speen.

“Ons het reeds meer as tien jaar gelede begin om ons tweelingooie in lamhokkies te laat lam, en dit was baie suksesvol. In daardie stadium het die lamhokkies egter buite in die opelug gestaan.

“Van daar het ons met klein kampies geëksperimenteer, waar ons die meerlingooie in kampies van sowat 1,5ha laat lam het. Dit was bevredigend, maar ons het bly vind dat ons lammers verloor omdat die lammers deurmekaar raak as ’n paar ooie in dieselfde nag lam. Ons het toe besluit om op lamhokkies te konsentreer omdat dit doeltreffender is.

“In die lamhokkies sien jy dadelik ’n fout, en jy kan die ooie met swak moedereienskappe gou identifiseer. Ons het besef ons sal ons hokkie-eenheid groter moet maak en ons het later 600 hokkies gehad wat in die buitelug gestaan het. Maar ons het gou besef ons sal die hokkies onderdak moet kry. As dit gereën het, het ons 600 hokkies gehad waarvan die kos nat was.”

Voer- en watervoorsiening

Vandag bestaan hul lamhokkie-eenheid uit 600 lamhokkies onder ’n dak van 95x25m, met ’n outomatiese voervoorsieningstelsel wat elke individuele ooi se voer presies kan afmeet. Die lamhokkies is in tien rye gerangskik, en elke lamhokkie is 1,35×1,5m groot.

Die watervoorsiening bestaan uit ’n groot tenk wat hoog genoeg bo die eenheid is vir genoeg druk, wat dan water in PVC-pype van 110mm lei, wat by elke lamhokkie ’n opening het wat groot genoeg is vir die ooi om uit te drink. Elke pyp het by die beginpunt ’n bolklep en by die eindpunt ’n 110mm-kraan. Die krane word elke derde dag oopgedraai sodat die pype skoongespoel kan word. Die afvalwater word na ’n lusernland gelei.

Die outomatiese voerstelsel is ’n kombinasie van wat in die hoender- en varkbedrywe gebruik word. Hulle het die kundigheid van Arnold Saayman by RSA Grain Storage Solutions gebruik met die installering daarvan.

Die outomatiese voerstelsel is ’n kombinasie van wat in die hoender- en varkbedrywe gebruik word.

Rantsoene in lamhokkies

Twee graansilo’s van 14 ton elk is opgerig waaruit die lusernpille met ’n spiraal na die toevoerlyne in die skuur gevoer word. Die lyne loop sowat 2m bo die vloer van die lamhokkies, en bo elke lamhokkie is daar ’n voerder wat die presiese hoeveelheid kos afmeet. Die kos word twee keer per dag deur ’n pyp tot in die voerbak in die lamhokkie gevoer, waar die ooi dit kan vreet. Voer word op die basis van 4% van ’n dier se liggaamsgewig gegee, wat op sowat 2,2kg per dag neerkom.

Afgesien van die lusern, bestaan die lamhokkierantsoen uit mielies, vismeel, mieliereste, soja-oliekoek en Mutton Gainer van die maatskappy Feedtek in Cradock.

Die ooie kom op dag 146 van dragtigheid die lamhokkies binne, nadat hulle betyds op die lamhokkierantsoen voorberei is. Hulle lam dan binne tien tot twaalf dae klaar. Nadat ’n tweelingooi gelam het, staan sy so sewe dae in die lamhokkie. Daarna word sy en haar lammers saam met vier ander tweelingooie in ’n klein kampie geplaas, waarna hulle lande toe gaan.

Klein “blêrkampies”

“Ons noem die klein kampies die blêrkampies, want dit is hier waar die ooie en lammers die eerste keer werklik vir mekaar blêr om mekaar te vind. Dis belangrik dat hulle mekaar se blêr kan herken. Met eenlinge sit ons so agt ooie en hul lammers bymekaar.”

Die lammers kry van dag 14 af kruipvoer en word op 105 dae gespeen. Die ooitjies gaan dan veld toe.

“Ons gaan nou met ’n jaarlikse veiling begin, waar ons aanteeldiere en vetlammers gaan verkoop. Ons gaan die hamels ná speen vir die veiling voorberei vir mense wat hamels wil koop vir ’n hamelboerdery. Dit is ons suiwer Merino-lammers. Ons kruis ook ons tweede-kudde ooie met Dormer-ramme. Hierdie lammers gaan voerkraal toe, waar ons hulle afrond.”

Die Swanepoels in die lamskuur. Van links is Thian, Adam en Theron.

Skeertyd is ’n uitdaging

Theron sê dit is nogal ’n uitdaging om skeertyd by die stelsel in te pas. Daarom skeer hulle in enige stadium van ses maande tot tien maande.

Die ooie word in groepe van 600 gesinkroniseer en dan laparoskopies geïnsemineer met semen van hul eie ramme. Die ooie word op dag 65 geskandeer, en op dieselfde dag word die dragtige ooie op Meadow se Lambing Lick geplaas, waarvan hulle aanvanklik 120g ontvang. Dit word stelselmatig aangepas, totdat hulle ses weke voor lam van 300g Lambing Lick oorgaan op die lamhokkierantsoen. Hulle begin op 200g per dag, totdat hulle teen die tyd dat hulle in die lamhokkies ingaan hul volle 2,2kg per dag kry.

Hoë besetting

Hulle kry met laparoskopie gemiddeld ’n besetting van 90% en meer, met ’n meerlingpersentasie van tussen 47% en 55%, afhangende van hoeveel jonger ooie in die groep is. Die speenpersentasie in so ’n groep is gemiddeld 132%.

“Ons mikpunt is om hierdie eenheid te optimaliseer deur 600 ooie ses keer per jaar deur die stelsel te sit. Ons ooikudde word dus in ses groepe gedeel, maar elke ooi lam net een keer per jaar. Daar is ook ’n ander ooikudde wat nog op die veld lam, waaraan ons later aandag sal gee as hierdie stelsel mooi glad loop.”

Die Swanepoels hou jaarliks ’n produksieveiling, waarop hulle genetika beskikbaar stel wat reeds vir 120 jaar vasgeteel is. Die volgende produksieveiling gaan op 19 Februarie 2019 plaasvind. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Theron Swanepoel by 072 117 7766 en Adam Swanepoel by 082 334 4772.

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...