Die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994, oftewel die Restitusiewet) is die oudste wetgewing van ’n hiërargie van wette wat daarop gerig was om Suid-Afrika se grondhervormingsproses te reguleer en reg te laat geskied aan mense wat uit hoofde van Suid-Afrika se geskiedenis voor 1994 op ’n rassegrondslag benadeel is.

Read it in English. 

Verskeie ander wette is gepromulgeer om die herstel van regte te bewerkstellig, asook om groter sekerheid van verblyfreg te verseker en die herverdeling van grond te bewerkstellig.

Vanjaar is die 23ste jaar van demokrasie en baie meen dat grondhervorming misluk het. Die regering is egter van mening dat meer radikale stappe gedoen moet word om grondhervorming te laat slaag en dat die koste van grondhervorming oorgedra moet word na privaat grondeienaars, wie se grond sonder vergoeding onteien moet word.

Basis van vergoeding

Ter ondersteuning van dié argument word die hoofsondebok vir hierdie radikale benadering die basis van vergoeding aan bestaande privaat grondeienaars van wie grond gekoop moes word om eise te skik. Die howe het deurlopend die standpunt gehandhaaf dat die basis van vergoeding ’n markverwante prys moet wees wat deur geswore waardeerders bepaal is.

Die grootste persentasie van die staat se jaarlikse begroting wat sedert 1994 vir die aankoop van grond vir grondhervorming en die administrasie van grondhervorming toegeken was, was 2,5%. Dit dui op ’n reuse kontras tussen die prioriteit wat grondhervorming polities geniet het en die mate waartoe die staat bereid was om hom finansieel tot dié doel te verbind.

Die Restitusiewet het voor 31 Desember 1998 sowat 75 000 grondeise opgelewer en, hoewel die wet sekere minimum vereistes bepaal om ’n eis as geldig in die Staatskoerant te publiseer, het baie min en baie lae-gehalte werk veroorsaak dat duisende eise sonder meriete gepubliseer is.

Beswaring van grond

Die publikasie van hierdie eise en meegaande beswaring van grond het nie net die administratiewe en hanteringskoste van eise opgejaag nie, maar het ook sonder twyfel die vraag na onbeswaarde grond wat nie deel van eise was nie, se waarde laat styg.

Buiten ander faktore wat wel grondwaardes kon laat styg het, het die laer aanbod van onbeswaarde grond en groter vraag tot hoër waardes bygedra, wat uiteindelik die maatstaf van bogenoemde vergelykbare transaksies sou word.

Die grond wat die staat bekom het, is in kommunale besit aan kommunale eiendomsverenigings oorgedra. Aangesien grond oorgedra is met baie min en in sommige gevalle geen ondersteuning ná vestiging nie, het 90% van hierdie projekte misluk. Selfs programme om hierdie grond te herkapitaliseer en nuwe eienaars met mentors (bestaande en afgetrede boere) in beheer te stel, het nie noemenswaardige resultate opgelewer nie.

Sekerheid van verblyfreg

Ten opsigte van sekerheid van verblyfreg het die wetgewing wel tot ’n groot mate onwettige en arbitrêre uitsettings aan bande gelê, maar teleurstellend is etlike miljoene rande bestee om litigasie in die hof teen grondeienaars met geldige gronde vir wettige uitsettings te finansier, in plaas daarvan om dieselfde geld te gebruik om met behulp van grondeienaars plaasbewoners permanent elders te hervestig.

Aan die ander kant het hierdie wetgewing ook tot gevolg gehad dat eienaars nie meer kans sien om mense wat by hulle op plase werk, verblyf te gee nie. Dié toedrag van sake het tot gevolg gehad dat duisende mense toevlug in informele nedersettings rondom landelike dorpe gaan soek het.

Geen kitsoplossing nie

Ten opsigte van die herverdeling van grond en die aankoop van grond deur die staat by vrywillige verkopers, het die beperkte vermoë van die staat om hierdie transaksies uit te voer en binne ’n redelike tyd af te handel tot gevolg gehad dat grondeienaars ter wille van oorlewing genoodsaak was om hul grond van transaksies met die staat te onttrek en ander kopers te vind.

Lees ander artikels van die outeur.

Ongeag die wyse waarop die regering in die afsienbare toekoms grondhervorming gaan aanpak, is die werklikhede van die verlede nie iets wat met blote nuwe eienaarskap van grond opgelos kan word nie. Ons sal moet wag en sien of gesonde oordeel oor grondhervorming, wat nie tot nadeel van voedselsekerheid en die ekonomie sal strek nie, gaan seëvier. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Inc

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom