Estimated reading time: 7 minutes
Omgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet. Tydens ’n onlangse Agri Noord-Kaap-webinaar het Hanlie Stander van EarthWorth Environmental lig gewerp op die belangrikste wetlike vereistes, risiko’s en regte waarvan grondeienaars bewus moet wees.
Die grondwetlike fondasie
Stander sê Artikel 24 van die Grondwet, 1996 (Wet 108 van 1996) bepaal dat elke burger ’n fundamentele reg het op ’n omgewing wat teen agteruitgang beskerm word, tot voordeel van huidige sowel as toekomstige geslagte. Daarom is dit ’n kriminele oortreding om met ’n gelyste aktiwiteit op landbougrond te begin, sonder omgewingsmagtiging wat deur die bevoegde owerheid uitgereik is.
Sy beklemtoon veral dat die Noord-Kaap gekenmerk word deur uitgestrekte, uiters kwesbare en dorre biome, waarin stadig-groeiende sukkulente en die fyn bogrond dekades, en selfs eeue, neem om te herstel as dit eers versteur of beskadig is. Daarom is dit nodig om eers te bepaal of jou grond as ’n sleutelbiodiverse area (key biodiversity area of KBA) of as ’n ekologiese ondersteuningsarea (ecological support area of ESA) geklassifiseer is. Deur ’n klein stukkie veld skoon te maak vir ’n nuwe spilpunt, pad of skuur sonder om hierdie inligting na te gaan, kan ’n produsent hom- of haarself aan ’n ernstige kriminele oortreding skuldig maak.
Ekonomiese boerdery en gevaarlike goedere
Om meer ekonomies te boer, brei produsente dikwels uit deur voerkrale of verwerkingsaanlegte by die boerdery te voeg. Die gevolg is dat verskeie soorte diere in ’n geslote produksiestelsel of beperkte fasiliteite saamgehok word. Hierdie aktiwiteite vereis ’n basiese evalueringsproses (BE) indien die hoeveelheid diere ’n spesifieke kapasiteit oorskry. As gevolg van die hoë konsentrasie van afval, reuk, vlieë en die gepaardgaande maatskaplike impakte, vereis hierdie soort aktiwiteite soms ook ander spesialisstudies soos die evaluering van die impak op luggehalte en reuk, afval- en afloopwaterbestuur studies, asook sosiale en visuele impakstudies.
Stander het ook verwys na die opberging van gevaarlike goedere wat vloeibare brandstowwe soos diesel en petrol, vloeibare petroleumgas (LPG), asook vloeibare kunsmis, onkruiddoders en plaagdoders insluit. Ingevolge die Suid-Afrikaanse omgewingsreg is daar baie spesifieke drempels wat bepaal wanneer brandstof- en chemiese opberging op ’n plaas ’n basiese of volledige evalueringsproses vereis.
Mynregte en landbougrond
Mynmaatskappye teiken gereeld landbougrond in die Noord-Kaap vir die ontginning van mangaan, ystererts, alluviale diamante of sand. Die Departement van Minerale Bronne en Energie (DMRE) tree op as die bevoegde owerheid vir hierdie omgewingsgoedkeurings. Die verskillende soorte permitte of regte vir myne is:
- Prospekteerreg: Laat slegs boorwerk en monsterneming toe; kommersiële ontginning word nie toegelaat nie. Dit is vir ’n maksimum van vyf jaar geldig.
- Mynpermit: Vir kleinskaalse bedrywighede soos plaasgruisgate. ’n Mynpermit is streng beperk tot ’n voetspoor van 5ha en ’n maksimum duur van vyf jaar.
- Mynreg: Skaal onbeperkte kommersiële mynbou, soos oopgroefmyne, wat tot 30 jaar kan duur. Dit het ‘n groot impak en vereis ’n volledige impakevaluasie en ’n wetlik-bindende maatskaplike en arbeidsplan (MAP) vir plaaslike gemeenskapsopheffing.
In Suid-Afrika besit die staat alle mineraleregte. Hoewel die grondeienaar nie ’n volslae wetlike veto het nie, moet mynaansoekers grondeienaars formeel raadpleeg en hulle as geïnteresseerde en geaffekteerde partye (I&APs) registreer.
Sy sê die grondeienaar kan ook onderhandel vir:
- Finansiële vergoeding: Vir die verlies aan landbouproduksie en weiding.
- Hek- en padprotokolle: Streng reëls oor padonderhoud en die toemaak van hekke, aangesien oop hekke moontlik tot groot veeverlies kan lei.
- Veiligheid en biosekuriteit: Waarborge vir die veiligheid van jouself, jou gesin, werkers, vee en die voorkoming van siektes soos byvoorbeeld bek-en-klouseer.
- Water basislyn toetse: Vooraf ontwikkelaar-gefinansierde wetenskaplike toetse van jou boorgatwater, sodat jy wetenskaplike bewyse het indien hulle boorwerk jou of jou buurman se grondwater sou besoedel.
Hernubare-energie projekte
Baie produsente word ook deur son- en windenergie-ontwikkelaars genader vir langtermyn grondhuur wat 20 tot 25 jaar, of selfs langer kan duur. Stander sê grondeienaars kan die volgende klousules in huurooreenkomste insluit:
- Uitbedryfstelling-verpligtinge: Die ontwikkelaar moet vooraf finansiële waarborge verskaf om alle sonpanele, betonfondasies en kabels aan die einde van die projek te verwyder en die grond tot sy oorspronklike landboutoestand te herstel.
- Dubbele grondgebruik: Indien so verkies, moet die kontrak wetlik die grondeienaar se reg voorbehou om skape of ander vee onder en tussen die sonpanele te laat wei.
- Beskerming teen onvoltooide ontwikkeling: Duidelike uitgangs- en beëindigingsklousules vir wanneer ’n projek nie realiseer nie. Hierdie klousule is nodig indien ’n kontrak gesluit is en die ontwikkelaar besluit om nooit te ontwikkel nie. Wat gebeur indien ’n ander maatskappy jou nader vir moontlike ontwikkeling op jou eiendom, selfs al is dit nie vir ’n hernubare-energie projek nie?
Openbare deelnameproses
Stander het ook na die openbare deelnameproses verwys en gesê dat almal nie altyd bewus is van die prosedure nie. Dit is nie bloot ’n administratiewe afmerk-oefening nie; dit is ’n statutêre reg vir grondeienaars, bure en die plaaslike gemeenskap om kommentaar te lewer oor wat beplan word. Daar is ook streng vereistes rondom hierdie proses:
- Kennisgewingsborde: Die aansoeker moet fisiese, leesbare borde teen die voorgestelde ontwikkelings se plaasgrensheinings of op openbare paaie oprig.
- Skriftelike kennisgewings: Direkte e-posse of briewe moet via geregistreerde pos of per hand aan alle aangrensende bure, munisipale raadslede en sleutelstaatsdepartemente gestuur word. Ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013) (POPIA) moet die ontwikkelaar die nodige kontakbesonderhede veilig en wettig hanteer.
- Koerantadvertensie: ’n Amptelike kennisgewing moet in ten minste een plaaslike of streekskoerant verskyn.
- 30-dae reël: Alle geregistreerde partye het 30 opeenvolgende dae om kommentaar te lewer. Let daarop dat alle openbare vakansiedae en die nasionale feestelike sluitingstydperk tussen 15 Desember en 5 Januarie streng uitgesluit word uit alle Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998) of NEMA-tydrame.
Die vraag is egter wat jou as grondeienaar te doen staan indien ’n mynmaatskappy, sonkragontwikkelaar of selfs jou buurman ’n projek voorstel wat jou water, weiding of paaie nadelig kan beïnvloed? Stander stel voordat jy die volgende in gedagte hou:
- Registreer dadelik: Registreer as ’n geïnteresseerde en geaffekteerde party (I&AP) by die aangestelde omgewingsassesseringspraktisyn (EAP) van die projek.
- Vra vir bevestiging: Eis ’n skriftelike bevestiging van die EAP dat jy op die amptelike register geplaas is.
- Hersien dokumente: Bestudeer en lewer skriftelike kommentaar op alle konsepdokumente (Konsep-BAR, bestekopname en omgewingsimpakassessering of EIA).
- Vereis antwoorde: Maak seker dat alle bekommernisse aangespreek word. Vra die EAP vir ’n e-pos wat uiteensit hoe hierdie kwessies hanteer sal word in die finale verslag wat by die owerheid ingedien word.
- Rapporteer indien jou kommentaar geïgnoreer word: As jou kommentaar geïgnoreer of onvoldoende aangespreek word, skryf direk aan die bevoegde owerheid.
- Lees die omgewingsmagtiging: Sodra ’n besluit geneem is, moet belanghebbendes in kennis gestel word. Vra vir ’n afskrif daarvan om te sien hoe die punte hanteer is.
- Reg tot appèl: As jy nie tevrede is met die besluit nie, het jy die reg om binne die voorgeskrewe tydperk amptelik appèl aan te teken.
- Dien appèl in: ’n Afskrif van die appèl moet aan alle geregistreerde I&AP, die owerheid en die ontwikkelaar gestuur word.
Sy stel voor dat, indien ’n grondeienaar nie voldoende terugvoer ontvang nie, ’n prokureur wat in omgewingsreg spesialiseer genader moet word.
“Omgewingsnakoming is nie bloot ’n administratiewe vereiste nie, maar ’n noodsaaklike beskermingsmeganisme vir boere se grond, water, produksievermoë en lang-termyn volhoubaarheid. Of dit nou gaan oor die skoonmaak van inheemse plantegroei, die oprigting van voerkraal- of verwerkingsfasiliteite, die hantering van gevaarlike goedere, mynaansoeke of hernubare energieprojekte – grondeienaars moet presies weet watter wetlike drempels, prosesse en regte op hulle van toepassing is.
“Dit is veral belangrik om vooraf deeglike huiswerk te doen, alle kennisgewings ernstig op te neem en betyds as geïnteresseerde en geaffekteerde partye te registreer. Deur vroeg in die proses betrokke te raak, skriftelike rekords te hou en kundige regs- of omgewingsadvies in te win soos nodig, kan produsente hul belange sterker beskerm en meer ingeligte besluite oor toekomstige ontwikkeling op of naby hul grond neem,” is Stander se mening.
Vir meer inligting, skakel Hanlie Stander by 082 412 5592. – Koos du Pisanie van Plaas Media en Hanlie Stander van EarthWorth Environmental.
