Estimated reading time: 4 minutes
Genetika en bestuur speel ’n belangrike rol, maar ons kan ook die koei se melkproduksie beïnvloed sodat sy ’n swaar en gesonde kalf speen.
Hoe speen jy ’n swaarder kalf as jou buurman? En ‘as jou buurman’ is deurslaggewend, aangesien prestasie binne dieselfde streek, met soortgelyke veld- en klimaatstoestande, gemeet moet word. Dr Josef van Wyngaard, waarnemende nasionale tegniese bestuurder by Voermol, het hierdie aspek van vleisbeesproduksie tydens die boeredag van Paul van Niekerk, 2025 se beesboer van die jaar, beantwoord.
“Genetika en bestuur speel ’n belangrike rol, maar ons kan ook die koei se melkproduksie beïnvloed sodat sy ’n swaar en gesonde kalf speen.”
Kurwes en kondisiepunte
Elke koei se melkproduksiekurwe lyk dieselfde. Ná kalwing styg dit om op sowat 60 dae te piek, waarna dit geleidelik begin daal. Dit is dan wanneer die kalf meer begin vreet en gewoonlik op ouderdom sewe maande gespeen word. “Wanneer die kurwe van melkproduksie met dié van die koei se droëmateriaalinname vergelyk word, stem die kurwes nie heeltemal ooreen nie. Hierdie vertraging veroorsaak ’n negatiewe energiebalans. Die enigste manier waarop die koei hierdie balans kan herstel, is deur haar eie liggaamsreserwes te gebruik.
“Ons praat van ’n kondisiepunt wat aan lewendige massa gekoppel is. Indien dié lyn (lewendige massa) oor die vorige twee kurwes geplaas word, sien jy dat die koei aanvanklik ’n halwe of volle liggaamskondisiepunt (LKT) verloor het. Dit neem lank voordat die koei haar oorspronklike gewig herwin; onder normale omstandighede sal haar kondisietelling teen speentyd steeds laer wees as voor kalwing.”
Swak kondisie tydens kalwing
Baie navorsing is al gedoen oor die korrelasie tussen ’n kondisiepunt en besetting. Indien die koei se kondisiepunt tydens kalwing nie op standaard is nie, benadeel dit haar melkproduksie. Dit is omdat die koei nie genoeg reserwes het om melk ‘van haar rug af’ te produseer nie. Gevolglik groei die kalf nie voldoende nie en speen ligter.
Dr Van Wyngaard het gesê buiten die impak van ’n onvoldoende kondisiepunt op die kalf se groei, is daar ’n ander probleem: Sy moet binne 60 tot 90 dae weer beset raak. Indien haar gewig aan die begin van die dekseisoen te laag is, is die kans op ’n vinnige herbesetting skraal. Dit kan 120 tot 150 dae neem voordat sy weer beset raak, wat die tussenkalfperiode benadeel.
“Dit is onmoontlik om ’n koei se LKT ná kalwing reg te stel, sodat sy binne 60 dae weer dragtig raak. ’n Koei het spesifieke prioriteitsvlakke as dit kom by kondisie. Wanneer sy voer inneem, prioritiseer sy haar eie onderhoud en die herstel van haar kondisie, terwyl laktasie en reproduksie laaste in die ry staan. Herbesetting word direk deur liggaamskondisie by kalwing geraak, omdat daar nie tyd is om dit reg te stel voordat sy weer beset moet raak nie.”
Die waarde van ’n LKT
Op die vyfpuntskaal wat ons in Suid-Afrika gebruik, is een kondisiepunt gelykstaande aan sowat 15% van die koei se liggaamsmassa. Een kondisiepunt vir ’n koei van 500kg is gelykstaande aan 75kg. Indien hierdie koei in ’n voerkraal geplaas word met ’n voeromsetverhouding van 8,5:1, sal sy 640kg voer benodig om 75kg op te tel. Teen R3,50/kg beteken dit sowat R2 200 se voer vir net een kondisiepunt.”
Die beste tyd om die LKT op die optimale vlak te kry sodat dit deur die winter gehandhaaf kan word, meen hy, is wanneer groen gras die beste groei. Met ’n aanvulling is dit maklik om in die somer ’n LKT van tussen 3 en 3,5 te behaal. Die doelwit tydens die winter is dan bloot om haar kondisie via ’n proteïenlekprogram te handhaaf.
’n Goeie produksielek kos sowat R330 (1kg/dag vir 50 dae) om die koei in ’n optimale kondisie voor die winter te kry. Vergelyk dit met die R2 200 ná kalwing in die vorige som, waar die LKT nie reg was nie. Buiten die beter melkproduksie, en dus hoër speenmassa, asook vinniger herbesetting, is daar ook ander voordele. So ’n koei sal minstens een ekstra kalf in haar leeftyd speen. Teen die heersende speenkalfpryse vertaal dit maklik na ’n bykomende R1 000 per jaar wat daardie koei inbring.
“Die antwoord op hoe jy ’n swaarder kalf as jou buurman speen, is nou duidelik uiteengesit. Die vraag is nou wat die finansiële waarde van hierdie swaarder kalf is. Teen 30kg swaarder as die gemiddelde (byvoorbeeld 220 tot 250kg) en teen R45/kg, wen jy R1 350 per kalf. Dit terwyl dit jou net R330 beloop het vir addisionele lek om die koei se liggaamskondisie reg te stel.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel dr Josef van Wyngaard by 082 336 0626.




