HomeMagazinesOpenbare vakansiedae en vergoeding: Wat werkgewers in 2026 moet weet

Openbare vakansiedae en vergoeding: Wat werkgewers in 2026 moet weet

Estimated reading time: 4 minutes

This article is also available in English in Stockfarm.

Openbare vakansiedae kan ’n beduidende invloed op werkgewers hê, veral wanneer ‘n besigheid se bedrywighede ononderbroke moet voortgaan. Openbare vakansiedae in Suid-Afrika word deur die Wet op Openbare Vakansiedae, 1994 (Wet 36 van 1994) (WOV) gereguleer, terwyl vergoeding vir werk wat op hierdie dae verrig word onderhewig is aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) (WBDV) en die landboubedryf se Sektorale Vasstelling 13 (SV13).

Werk op ’n openbare vakansiedag

Werkgewers mag nie van ’n plaaswerker (werknemer) vereis om op ’n openbare vakansiedag te werk nie, tensy ’n duidelike en verkieslik skriftelike ooreenkoms in hierdie verband bestaan. Hierdie ooreenkoms behoort óf in die werknemer se kontrak ingesluit te wees óf vooraf tussen partye ooreengekom word.

SV13 en die WBDV plaas nie ‘n outomatiese verpligting op werknemers om op ’n openbare vakansiedag te werk nie. Dit beteken dat ’n werknemer sonder so ’n ooreenkoms volgens wet mag weier om op so ‘n dag te werk.

Lees meer oor geldige dienskontrakte hier.

Openbare vakansiedae

Suid-Afrika het 12 amptelike openbare vakansiedae. Die WOV bepaal ook dat ’n vakansiedag wat op ’n Sondag val, die daaropvolgende Maandag geobserveer word, wat dus beteken dat daardie Maandag dan as ’n openbare vakansiedag beskou word.

Die amptelike openbare vakansiedae vir 2026 is:

  • 1 Januarie (Donderdag), Nuwejaarsdag.
  • 21 Maart (Saterdag), Menseregtedag.
  • 3 April (Vrydag), Goeie Vrydag.
  • 6 April (Maandag), Gesinsdag (Paasmaandag).
  • 27 April (Maandag), Vryheidsdag.
  • 1 Mei (Vrydag), Werkersdag.
  • 16 Junie (Dinsdag), Jeugdag.
  • 9 Augustus (Sondag), Nasionale Vrouedag.
  • 10 Augustus (Maandag), Nasionale Vrouedag (vakansiedag).
  • 24 September (Donderdag), Erfenisdag.
  • 16 Desember (Woensdag), Versoeningsdag.
  • 25 Desember (Vrydag), Kersdag.
  • 26 Desember (Saterdag), Welwillendheidsdag.

Hou in gedagte dat die regering nog nie die datum vir die 2026 plaaslike regeringverkiesings aangekondig het nie. Wanneer dit gebeur, mag die president ’n addisionele openbare vakansiedag ingevolge die WOV verklaar.

Werksvergoeding

Die bepaling van vergoeding vir werk wat op openbare vakansiedae verrig word, kan soms verwarrend wees. Twee scenario’s is van toepassing op werknemers wat onder die inkomstedrempel (soos bepaal in die WBDV) val:

Scenario 1: Die openbare vakansiedag val op ’n dag waarop die werknemer normaalweg sou werk.

  • Nie gewerk nie: Die werknemer moet sy/haar normale dagloon ontvang.
  • Gewerk: Die werknemer moet óf dubbel sy/haar dagloon betaal word óf, indien hoër, sy/haar normale dagloon plus enige verdienste vir die ure wat op daardie dag gewerk is.

Scenario 2: Die openbare vakansiedag val op ’n dag waarop die werknemer normaalweg nie sou werk nie.

  • Nie gewerk nie: Geen betaling is verskuldig nie.
  • Gewerk: Wanneer die werknemer op ’n openbare vakansiedag werk, ontvang hy/sy die dagloon én uurloon vir elke uur wat gewerk is.

Neem kennis dat’n werknemer steeds vir minstens vier ure betaal moet word, selfs al het hy/sy op enige dag minder as vier ure gewerk.

Indien ’n werknemer se verdienste bo die inkomstedrempel is, moet die werkgewer ’n regsadviseur raadpleeg oor vergoeding vir werk wat op ‘n openbare vakansiedag verrig is.

Bykomende faktore

Wat regverdige kennisgewing en die uitruil van openbare vakansiedae betref, geld die volgende:

  • Werkgewers moet redelike kennis gee indien ’n werknemer op ’n openbare vakansiedag moet werk.
  • ’n Openbare vakansiedag mag slegs op grond van ’n skriftelike ooreenkoms tussen die werkgewer en werknemer, met ’n ander dag geruil word.
  • Wanneer ’n openbare vakansiedag geruil word, is die werknemer geregtig op sy/haar normale dagloon vir beide die oorspronklike vakansiedag en die geruilde dag.

– Meyer Louw, senior regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Die LWO Werkgewersorganisasie help werkgewers om aan arbeidswetgewing te voldoen, en dit tot hul voordeel te gebruik om hul besighede te beskerm. As ’n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, het die LWO die reg om lede by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie te verteenwoordig. Neem kennis dat hierdie artikel nie regsadvies is nie – raadpleeg een van ons regsadviseurs oor enige spesifieke regsprobleem of saak. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na info@lwo.co.za of besoek www.lwo.co.za

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import gap 

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings...

LandbouRadio: 28 Augustus 2026

In Vrydag, 28 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Ons skop die program af met 'n kraakvars...

Sosiale media en die reg: Wees baie versigtig

Estimated reading time: 4 minutesOmdat die akkuraatheid of waarheid van inligting selde gekontroleer of getoets word, hou die onoordeelkundige...

RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutesDie Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minuteJohan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met...

Keep exploring...

Landboumarkte: Augustus 2025 skaapvleispryse styg skerp

Estimated reading time: 3 minutesGedurende Augustus het die rand teenoor die Amerikaanse dollar met ongeveer 30 sent versterk teenoor einde-Julie se vlakke, en sluit...

Landboumarkte: September 2025 Varkvleispryse behou sy stygende tendens

Estimated reading time: 3 minutesGedurende September het die rand vir ’n opeenvolgende maand teenoor die Amerikaanse dollar versterk en die maand op R17,25 vir...