Estimated reading time: 7 minutes
- Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar vir 2024.
- Die naam T&G staan juis vir Tony ’n Guy.
- Die ekstra inkomste uit die bulverkope maak ’n reuse-verskil aan kontantvloei.
- Guy eksperimenteer ook met ’n dekgewas, Wondercover.
- As jong boer is Guy se ambisie om ’n reputasie van uitnemendheid vir sy beeste op te bou sodat hy niks hoef te sê nie, en hulle self al die praatwerk doen.
Guy en Harriet English boer op die plaas, Holcombe, in die Mooirivier-omgewing van KwaZulu-Natal. Hulle bedryf die T&G Beefmasterstoet en plant droëlandmielies op ongeveer 235ha. Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar vir 2024.
Guy het op ’n plaas in die Umkomaas-vallei naby Richmond grootgeword, maar in 2008 is die plaas as deel van ’n grondeis uitgekoop. Teen die einde van 2010 het hulle Holcombe gekoop, nadat hulle die Beefmasters vir ’n paar jaar op huurgrond gehou het. Dit het net mooi saamgeval met die einde van Guy se landboustudies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, en aan die begin van 2011 het hy die boerdery op Holcombe, in vennootskap met sy ouers, Tony en Louise, kom staanmaak.
Harriet is in Zimbabwe gebore maar het op ’n plaas in KwaZulu-Natal grootgeword en haar graad in diereproduksie aan die Universiteit van Velp in Nederland behaal.
“Ek was baie gelukkig dat Holcombe reeds baie goed ontwikkel was,” sê Guy, “maar mettertyd het ons heelwat meer lande gemaak en soos wat die beeskudde uitgebrei het, moes ons ekstra grond huur. Die eerste vyf jaar of so het dit maar broekskeur gegaan. Ek was egter gelukkig dat my pa van 1985 af al met die Beefmasters geboer het, so ons het ’n goeie kudde gehad waarop ek kon voortbou. My pa is steeds betrokke by die boerdery, hoewel hulle op ’n kleinhoewe by Richmond woon.”
Oor voer en veld
Guy glo daaraan om ’n goeie voerbank te hê sodat hy die beeste gemaklik deur die winter kan kry. Hiervoor maak hy ongeveer 15ha se mieliekuilvoer deur die buitenste rye van elke land af te sny en in te kuil. Dan is daar ook nog 15ha onder ’n mengsel van eragrostis, Rhodesgras en paspalum waarvan hy bale maak.
Dit stel hom in staat om sy drakrag op grond van veldproduksie in die somer te bepaal en dus heelwat meer grootvee-eenhede aan te hou as wat hy sou kon as hy die diere deur die winter op die veld sou moes neem. Tussen die mieliereste en kuilvoer kom hy gemaklik deur die winter. Daarmee saam huur hy ook 160ha kikoejoeweiding wat hy as staandehooi gebruik.
Hy maak van twee kalfseisoene gebruik, van September tot einde November, en dan weer in Junie en Julie. Dis veral vir die lentekalfseisoen dat die kikoejoe-staandehooi baie handig te pas kom.
Lees meer oor die voer van bulle in die droë wintermaande.
‘n Droom word werklikheid
Hoewel hy reeds sedert 2012 stoetbulle begin koop het, het hulle die stoet eers in 2017 geregistreer. Die naam T&G staan juis vir Tony ’n Guy. “Ek wou altyd goeie bulle teel wat ek kan verkoop. Die vestiging van die stoet was dus eintlik ’n droom wat waar geword het. My mikpunt is hoogs vrugbare, geharde diere wat op enige plaas sal kan aanpas.
“Die ses beginsels waarmee Tom Lasater destyds die Beefmaster-ras begin het, naamlik temperament, vrugbaarheid, gewig, konformasie, melkproduksie en gehardheid, bly die grondslag waarop ek selekteer. Die afgelope vier jaar hou ek en Lester Vickers van Mponjwana Beefmasters by Bergville ’n gesamentlike jaarlikse produksieveiling.”
Die ekstra inkomste uit die bulverkope maak ’n reuse-verskil aan kontantvloei. Verlede jaar was die gemiddelde prys van sy bulle R125 000, en vanjaar, met die swak pryse, R83 000.
Guy selekteer elke jaar tien of 12 van sy beste jong bulletjies vir eie gebruik en konsentreer veral op die prestasie van die moeders. Uit hierdie groep sal hy dan tipies twee hou om kuddevaars te word. Die ander word op die produksieveiling verkoop.
“Ek laat my bulle vir die dubbelbespieringsgene toets sodat ek nie onwetend die eienskappe in my kudde vestig nie. Dit raak vir kopers al hoe belangriker om te weet dat die bul wat hulle koop hiervoor getoets is.”
Guy se mikpunt is om sy eie, unieke koeifamilies in sy stoet te vestig. Dit doen hy deur gereeld sy beste koeie kunsmatig te insemineer met veral ingevoerde semen van onder andere die Lasater-genetika.
Toe Beefmaster Alliance destyds uitverkoop het, het Guy en Tony ’n hele fles met onder meer Lasater 5502, een van die beroemdste bulle in die ras, se embrio’s gekoop. Hulle gebruik daardie embrio’s oordeelkundig. Hulle het ook semen van die bulle, Frenzel 712 en Frenzel 3112, van Gary Frenzel van Frenzel Beefmasters in Texas ingevoer, waarmee hy al sy verse twee jaar gelede geïnsemineer het. Hy glo daar kan baie goeie bulletjies uit daardie teling kom.
“’n Ander bul wat my opgewonde maak, is ’n bulletjie wat ’n Casey 656-dogter as moeder het en ’n WO-bul as vaar. Ek het hom in 2024 op my verse gebruik en die plan is dat hy ’n kuddevaar word wat ’n unieke lyn kan vestig.”
Lesse uit die mieliebedryf
Toe hy plaas toe gekom het, het Guy feitlik geen ondervinding van mielieverbouing gehad nie, en die eerste paar jaar het hy die lande uitverhuur. Hy het egter fyn dopgehou wat sy huurders doen om soveel as moontlik by hulle te leer. Vir ongeveer vyf jaar het hy en sy oom, Clive Cole, wat ook sy buurman is, in vennootskap geplant, voordat hy heeltemal op sy eie begin plant het.
“Ons was baie gelukkig dat daardie eerste twee oeste wat ek alleen geplant het, baie goed was. Dit het my in staat gestel om my eie implemente te koop. Ons is ook baie gelukkig dat hier direk langs ons ’n groot braaikuikenplaas is. Ek strooi die hoendermis op die lande en bou sodoende die organiese materiaal op die lande vinnig op. Dit bespaar heelwat aan kunsmis. Die gevolg is dat ons gemiddelde opbrengs ’n goeie 2,5t/ha beter is as die omgewing se gemiddeld.”
Guy eksperimenteer ook met ’n dekgewas, Wondercover. Die idee is om nie alleen die mielielande so lank as moontlik met lewende plante bedek te hou nie, maar om ook winterweiding op die oesreste te verbeter.
Doen die regte ding
Een van die eienskappe van Guy wat sy oneindig bewonder, sê Harriet, is sy vermoë om deur moeilike tye positief te bly, sy kop te lig en doodgewoon voort te gaan om te doen wat hy glo die regte ding is.
“Om ’n boerdery van niks af te begin, sit nie in enigeen se broek nie, maar hy het dit gedoen. Daar was terugslae soos droogte, en toe hael twee jaar na mekaar, en toe snywurm, maar hy het bly planne maak en oplossings vind vir elke terugslag. Hy het geleer hoe om dieselfde situasie in die toekoms beter te hanteer.”
Guy is ook nie skaam om raad te vra nie, sê sy. “Ons is gelukkig dat sy pa en sy oom Clive baie ondervinding het, en hulle is gewoonlik die eerste mense wat hy vra. Clive boer al sy hele lewe in hierdie omgewing, so hy is dikwels die eerste plek waar Guy vir raad aanklop.”
Guy beaam dit, maar sê dit is gevaarlik om na te veel mense se raad te luister. Dis beter om ’n eerste linie van adviseurs te hê wat elkeen kundig op sy eie gebied is.
As jong boer is Guy se ambisie om ’n reputasie van uitnemendheid vir sy beeste op te bou sodat hy niks hoef te sê nie, en hulle self al die praatwerk doen. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Guy English by 082 559 0794.


