Die voer van bulle in die droë wintermaande

Estimated reading time: 4 minutes

Beesboere, en veral stoetboere, wil verseker dat hul bulkuddes regdeur die wintermaande hul kondisie en gesondheid behou, ten einde optimale liggaamskondisie en vrugbaarheid te verseker sodra die dekseisoen in die lente en somer begin.

Bulle se voerbehoeftes sal wissel na gelang van die fisiologiese stadium waarin hulle verkeer. ’n Speenkalf sal ’n ander vlak van voeding as ’n volwasse bul benodig, en hul wintervoerbehoeftes sal baie van hierdie stadium afhang.

Jonger bulle het ’n voldoende vlak van proteïen en energie nodig, aangesien hulle steeds groei. Om ’n goeie groeitempo te handhaaf, en om liggaamskondisie en liggaamshitte regdeur die kouer maande te handhaaf, moet produsente die hoeveelheid voer wat die bulle benodig in ag neem.



Ouer, meer volwasse bulle moet gemonitor word om te verseker dat hulle nie liggaamskondisie verloor voor die dekseisoen in die lente en somer nie. Hulle moet ’n goeie vetbedekking hê, maar nie só vet dat hulle as gevolg daarvan vrugbaarheidsprobleme ontwikkel nie.

Aspekte om in ag te neem

  • Energie uit vet- en koolhidraatbronne in die vorm van oliekoeke (proteïen en vet) en grane soos mielies (koolhidrate): Dit is belangrik om te verseker dat die vlak van energie in die dieet verhoog word.
  • Proteïenbronne en aanvullings soos soja- of kanola-oliekoek: Proteïenvlakke in die winter moet voldoende wees sodat rumenmikrobes nie negatief beïnvloed word nie.
  • Minerale soos koper, mangaan en sink: Hierdie is noodsaaklike spoorminerale wat ‘n aansienlike invloed op vrugbaarheid het.
  • ‘n Tekort aan vitamiene op winterweiding: So ‘n tekort kan tot gesondheids- en reproduksieprobleme lei as dit nie voldoende aangevul word nie. ’n Gebrek aan vitamien A sal byvoorbeeld ‘n bul se spermatogenese-vermoë benadeel, wat tot laer vrugbaarheid sal lei.
  • Water moet te alle tye beskikbaar wees: Dit moet skoon en onbesmet wees, en ’n temperatuur handhaaf wat geskik is vir inname. Onvoldoende waterinname kan die hoeveelheid voer wat ‘n bul inneem, onderdruk.
  • Droëmateriaal (DM)-inname: ‘n DM van 2,7% van liggaamsgewig op 230kg en 2,5% op volwasse ouderdom is voldoende.
  • Proteïen: Moet teen ‘n vlak van 13,5 tot 15% op ’n DM-basis ingeneem word.
  • Maksimale energie-inname: Teen ‘n vlak van 10,2MJ metaboliese energie (68% totale verteerbare voedingstowwe) op ’n DM-basis.
  • Kalsium-tot-fosforverhouding: 1:1,5 tot 1:2; kalsium 0,8% en fosfaat 0,4%.

Liggaamskondisie

Gedurende die winter moet produsente daarna streef om die liggaamskondisie van hul bulkuddes te handhaaf óf verbeter. Die gebruik van die liggaamskondisietelling (BCS)-metode is een van die nuttigste maniere om dit te bepaal. Op ’n skaal van 1 tot 5, met 1 wat baie maer en 5 wat oorvet is, moet jy mik vir ’n kondisietelling van 3 tot 3,5 by jou bulle. Indien hulle toegelaat word om oorvet te word, lei dit tot laer semengehalte en -produksie, asook minder koeie wat gedek word weens ’n gebrek aan libido en gevolglik ‘n laer besettingskoers.

Lees meer oor die koop van ‘n beter bul.

Produsente sal jonger en ouer bulle waarskynlik gedurende die winter moet skei, aangesien hul voedingsbehoeftes sal verskil, wat aparte voerriglyne of diëte beteken. Oorweeg ook om bulle in verskillende liggaamskondisies te skei, soos om maer bulle van vettes te skei sodat ’n verbetering of gebrek in hul kondisie geïdentifiseer kan word.

Die gebruik van natuurlike, hoë-gehalte proteïen in MOLATEK BEESVET 33+, help om die persentasie verbyvloeiproteïen sowel as aminosuursamestelling te optimaliseer volgens die aminosuurprofiel wat benodig word vir spiergroei (Tabel 1).

Tabel 1: Beesvet 33+ volledige en kafeteriadiëte vir bulle.

Mielies kan gedeeltelik vervang word met kleingrane (50% met gars of korog, en 20% met koring) of 50% met graan-sorghum, of kan totaal vervang word met hominy chop.

Volledige dieet

  • Dag 1 tot 5: Beperk die volledige dieet tot 1,8% van die liggaamsgewig/dier/dag
    plus langhooi ad lib.
  • Dag 6 tot 10: Volledige dieet plus langhooi ad lib indien diere heeltemal aangepas is en geen tekens van asidose toon nie. Die volledige dieet, sonder die ekstra langhooi, word ná dag tien ad lib gevoer. – Deur dr Vlok Ferreira, tegniese bestuurder, MOLATEK

Vir meer inligting oor behoorlike voeding vir jou bulkudde gedurende die wintermaande of om hulle vir ’n veiling voor te berei, kontak jou Molatek tegniese adviseur of besoek www.molatek.co.za.