Estimated reading time: 6 minutes
- Die integrasie van vee in wisselboustelsels is belangrik omdat dit tot die verbetering van grondvrugbaarheid, voedingstofsiklusse en volhoubare landboupraktyke bydra.
- Weidingsfases sluit stikstofbindende peulgewasse in, wat tot opbrengsvoordele in daaropvolgende gewasse lei. Dit dra tot langtermyn landbouproduktiwiteit en veerkragtigheid by.
- Volgens prof Swanepoel moet omsigtigheid aan die dag gelê word wanneer skape suiwer peulgewasse bewei.
- Nog ’n toestand om te vermy is skielike dood-sindroom, of ‘rooiderm’.
- Die risiko van hierdie toestande kan verminder word deur skape geleidelik by ’n nuwe dieet aan te pas.
Veeproduksiestelsels is dikwels van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik, en veral aangeplante winterweidings speel in hierdie opsig ’n groot rol. Prof Pieter Swanepoel, medeprofessor en hoof van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch, sê aangeplante winterweidings in die winterreënvalgebiede van die land, soos in die Wes-Kaap, word volgens twee stelsels verbou.
Dit sluit in intensiewe weidings vir melkproduksiestelsels, asook eenjarige winterweidings in wisselboustelsels met grane of oliesade vir die doeleindes van skaap- en wolproduksie. Hierdie artikel fokus op laasgenoemde tipe wisselboustelsels.
Die integrasie van vee in wisselboustelsels is belangrik omdat dit tot die verbetering van grondvrugbaarheid, voedingstofsiklusse en volhoubare landboupraktyke bydra, verduidelik prof Swanepoel. Beweiding deur vee kan help om onkruidbevolkings te bestuur deur onkruidsaadbanke uit te put, en die risiko van onkruiddoder-weerstandige onkruide te verminder. Weidingsfases sluit dikwels stikstofbindende peulgewasse in, wat tot opbrengsvoordele in daaropvolgende gewasse lei. Dit dra weer tot langtermyn landbouproduktiwiteit en veerkragtigheid by.
Lees meer oor die bestuur van weidings hier.
Die keuse van gewasse
Hy sê die besluit oor watter gewasse gebruik en geplant moet word en of ’n monokultuur of ’n mengsel van verskillende spesies aangeplant moet word, kan kompleks wees. Tradisioneel geniet monokultuurgewasse meer voorkeur as mengsels. Sommige van die voordele van monokultuurgewasse sluit in laer saadkoste, wat algehele insetkoste kan verminder. Dit vereis ook meer eenvoudige en uitvoerbare bestuurspraktyke.
“Hou egter in gedagte dat verskillende spesies verskillende voordele aan die stelsel bied, en ’n enkele spesie kan nie al die voordele lewer wat van ’n voergewas verlang word nie.” As gevolg hiervan, verduidelik hy, kan die plant van voergewas- of weidingsmengsels moontlik die grond se gesondheid meer verbeter as monokultuur, aangesien verskillende spesies mekaar in hierdie geval kan aanvul.
Gemengde weidings kan ook meer veerkragtig wees ten opsigte van omgewings- of klimatologiese druk as monokultuurgewasse. Die bestuur van ‘n weidingsmengsel het egter bepaalde uitdagings, aangesien verskillende spesies dalk verskillende grondbehoeftes en bemestingsprogramme benodig en op verskillende tye kan ontkiem of ryp word. Nietemin wend baie produsente hulle na multi-spesie weidingmengsels om die voordele vir hul stelsels te maksimaliseer, selfs al is navorsing oor gewasmengsels beperk.
Eenjarige voergewasse
Algemene, eenjarige wintervoergewasse sluit graangewasse soos rog, korog, hawer, swart hawer en gars in. Peulgewasse is klawer, eenjarige medics (Medicago spp.), lusern, wieke en voerertjies. Brassicas soos radyse, rape en boerkool (kale) kan ook geplant word. Baie van hierdie gewasse kan as monokulture geplant word (wat maklik is om te bestuur), hoewel dit ’n meer gebalanseerde dieet vir vee kan bied indien ’n paar spesies in ’n mengsel gekombineer word.
Graanvoergewasse
Die meeste graan- en oliesaadboere in die Wes-Kaap pas bewaringslandboustelsels toe, en die integrasie van vee in graanproduksiestelsels is algemeen. Rebecca Ellerbeck, ’n MSc-student in Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch wat nou saam met prof Swanepoel werk, sê aangesien kontantgewasse soos koring, gars en kanola met geenbewerkingsmetodes gevestig word, word die gebruik van geenbewerkingplanters vir die vestiging van weiveld ook verkies.
Dit moet aan die begin van die reëntyd – tussen April en Mei – gedoen word, afhangend van die streek. Geenbewerkingplanters plaas saad direk in die grond deur middel van tand- of skyfoopmakers, sonder dat enige primêre grondversteuring deur ploeg of ander bewerkingsmetodes plaasvind. Hierdie vorm van bewerking dra by tot die opbou van grondkoolstof en verminderde waterverlies weens verdamping.
Sy sê graanvoergewasse produseer meer biomassa as die meeste ander gewastipes. Dit maak dit ’n goeie bron van voeding as beweiding, en verbeter ook die organiese koolstofinhoud van die grond asook die onderdrukking van onkruidgroei. Nog ’n voordeel van hierdie gewasse is dat hulle gewoonlik vinnig kan hervestig, wat beteken dit kan vroeër bewei word as baie ander gewasse.
Graanvoerwasse is hoog in koolhidrate wat dit ’n goeie energiebron vir vee maak, alhoewel dit relatief laag in proteïen is. Die ruproteïeninhoud tydens die beweidingsfase is oor die algemeen tussen 6 en 12% droëmateriaal (DM). Soos alle plante, sal die ruveselinhoud toeneem namate die plant ryp word, wat die beweiding minder verteerbaar vir vee maak. In die stadium van korrelaarvorming is daar egter ’n skerp toename in die styselinhoud. Dit veroorsaak dat die ruveselkonsentrasie afneem, wat help om die verteerbaarheidswaarde van die gewas te handhaaf.

Peulgewasse is voedsaam
Prof Swanepoel sê peulgewasse produseer minder biomassa as graan, maar bied die voordeel dat dit stikstof in die grond bind, wat die behoefte aan toegediende stikstofbemesting verminder. Peulgewasse is meer voedsaam vir vee as grasspesies. Dit bevat meer proteïen en minerale, veral kalsium, fosfor, magnesium, koper en kobalt.
Die voedingstowwe van peulplante neem tot ‘n mindere mate af namate die plant volwasse word. Beweide peulgewasse word vir korter tydperke in die rumen gehou as grasse. Hierdie vinniger voervloeitempo lei tot ’n hoër DM-inname. Klawer, lusern en medicsword algemeen as peulgewasse gevestig, maar ertjies en wieke het soortgelyke voedingswaardes.
Volgens prof Swanepoel moet omsigtigheid aan die dag gelê word wanneer skape suiwer peulgewasse bewei, veral as hulle nie gewoond is aan hoë-gehalte voer nie. Een van die potensiële gevare is opblaas, wat meestal met peulplante soos klawer geassosieer word. Opblaas ontstaan wanneer ’n skuimerige laag in die rumen vorm wat die fermentasiegasse vasvang sodat dit nie kan ontsnap nie.
Nog ’n toestand om te vermy is skielike dood-sindroom, of ‘rooiderm’. Dit word vermoedelik veroorsaak deur die vinnige deurgang van hoogs verteerbare materiaal deur die rumen. Dit lei daartoe dat te veel fermentasie in die dikderm plaasvind. Die risiko van hierdie toestande kan verminder word deur skape geleidelik by ’n nuwe dieet aan te pas. Ander spesies soos graangewasse kan ook as weiding ingesluit word, sodat skape nie meer slegs suiwer peulplante bewei nie.
Die waarde van brassicas
Prof Swanepoel sê brassicas word dikwels in weiveldfases ingewerk. Skape sal die groen boblare van die plante bewei. In die geval van rape en radyse sal skape dikwels die plant uittrek om ook die knol te vreet. Brassicas het tipies ’n lae DM-inhoud, maar is steeds ryk aan proteïen (14% DM), koolhidrate en kalsium. Die verteerbaarheid van brassicas is gewoonlik hoog.
Brassicas het oor die algemeen ’n hoër swaelinhoud as ander plante wat vir voerdoeleiendes gebruik word, veral grasse en graan. Swael dra by tot die vorming van keratien, wat ’n noodsaaklike proteïen in wol is. Deur voldoende keratienvorming te verseker, kan wolvesellengte en sterkte verhoog word, wat breekskade verminder.
Ellerbeck sê brassicas word selde op hul eie bewei, aangesien oormatige inname tot bloedarmoede en ’n jodiumtekort kan lei, maar dit sal waarskynlik nie ’n bekommernis wees wanneer brassicas in ’n mengsel met ander voer ingesluit word nie. Daar word dikwels na hulle verwys as biologiese grondbewerkers en word gereeld geplant om grondverdigting te verlig. Hul sterk penwortelstelsel kan deur gekompakteerde grondlae breek en deurlugting verhoog. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak prof Pieter Swanepoel by pieterswanepoel@sun.ac.za of Rebecca Ellerbeck by 23055901@sun.ac.za.

