Friday, December 5, 2025
HomeAgri NewsAfricaWolmark-woelinge te midde van wêreldwye onsekerheid

Wolmark-woelinge te midde van wêreldwye onsekerheid

Estimated reading time: 1 minute

Wolmark-woelinge te midde van wêreldwye onsekerheid

Die internasionale wol- en tekstielorganisasie (IWTO) het onlangs in hul wolbeleidsverslag uitgebrei oor die moontlike invloed wat Amerikaanse invoertariewe op die Amerikaanse wolbedryf, asook die wêreldwye wolmark en -waardeketting mag hê.

Lande hou asem in oor tariefverhogings

President Trump het op 2 April ’n invoerbelastingheffing van 10% vir al sy handelsvennote ingestel. Enkele dae later het hy ’n heffing van 30% ingestel vir Suid-Afrikaanse goedere, wat ’n baie negatiewe uitwerking op die land se ekonomie sal hê indien dit deurgevoer sou word. Dís volgens Parks Tau, Suid-Afrika se minister van handel, nywerheid en mededinging.

Op 9 April het Trump wéér die invoertarief op 10% aangepas vir alle produkte afkomstig van Amerika se handelsvennote. Hierdie reëling sal geld tot en met die verstryking van die 90-dae pouse wat as ’n onderhandelingstydperk met die onderskeie lande dien.

Op plaaslike bodem, voer Suid-Afrika 84% van sy totale wol na China uit. Die drie ander groot invoerders is die Republiek van Tsjeggo-Slowakye, Italië, en Indië. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika (Agbiz), is van mening dat verhoogde Amerikaanse invoertariewe nie ’n direkte impak op die plaaslike wolmark se uitvoere sal hê nie.

“Dit beteken egter nie dat daar nie ’n rimpeleffek, of indirekte effek, op die Suid-Afrikaanse wolbedryf sal wees nie,” sê hy. “Die rede hiervoor is dat China se onlangse tariefheffing sake vir wolkopers, wat na China uitvoer belemmer, en daar ’n moontlikheid bestaan dat dit tot ’n handelsverskuiwing gaan lei waar sekere Amerikaanse wol na Europese markte gelei sal word. In die lig hiervan kan Suid-Afrika moontlik strawwe kompetisie in die Europese Unie (EU) verwag. Die plaaslike wolbedryf moet dus waaksaam wees en alle opsies ondersoek om, indien moontlik, ’n groter volume wol na China uit te voer.”

Positiwiteit te midde van troebel waters

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se hoofbestuurder, Dan Kriek, het vandeesweek weer bevestig dat Suid-Afrika nie wol direk na Amerika uitvoer nie. “In hierdie opsig het president Trump se tariefheffing nie ’n direkte invloed op ons mark nie,” het hy gesê. “Daar bestaan wel baie onsekerheid en bespiegelinge oor wat die uiteindelike effek van die tarief-oorlog tussen Amerika en China gaan wees, asook die tariefbedeling tussen Amerika en die EU. Dit is werklik onmoontlik om op die stadium te voorspel wat die uiteindelike impak gaan wees op wolprodukte, waarvan daar ’n verskeidenheid is, en wat die effek van uitvoere na die Amerikaanse mark op die wolprys sal wees.

“Dit is ’n wag-en-sien benadering en dit sal baie dom wees om voor die einde van die 90-dae pouse ’n voorspelling in terme daarvan te maak. Amerika bespreek en hersien nou sy tariefbedeling met baie lande, en teen die einde van die 90-dae pouse behoort ons meer duidelikheid te hê oor die rigting waarin alles sal beweeg.”

Intussen het die VSA en China tot ‘n vergelyk gekom rondom hul sogenaamde handelsoorlog. Die Withuis het gister ’n persverklaring in dié verband uitgereik.

Deon Saayman, uitvoerende hoof by Cape Wools SA (CWSA), sê dat die Suid-Afrikaanse wolpryse mooi begin herstel het tot op die veiling van 23 April. “Ons het ongelukkig met die daaropvolgende veiling wat op 30 April gehou is, gesien dat die pryse weer teruggesak het. Dit is as gevolg van die huidige onsekerheid wat daar tans in die wêreld heers,” het hy gesê. “Ons sien ’n sekere mate van onsekerheid op die wolmark, alhoewel dit ook geld vir lande soos Australië en die res van die wêreld.

“Niemand kan werklik op hierdie stadium ’n standpunt inneem oor die huidige tariefheffing-situasie nie. Die situasie maak dit verder ook moeilik om verbruikers se voorkeure en moontlike marktendense te voorspel terwyl almal wag om te sien wat die uiteinde van president Trump se 90-dae pouse gaan wees wat op 31 Julie ten einde loop. Verder, wat China betref, ondersoek dié land alternatiewe vir uitvoere en gaan die Chinese beslis nie terugsit en toelaat dat Amerika die mat onder hul voete uitruk nie.” – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak die NWKV by 041 365 5030 of nwga@nwga.co.za , CWSA by 041 484 4301 of capewool@capewools.co.za, of Isak Staats van BKB by 082 495 0628.

LandbouRadio: 5 Desember 2025

In Vrydag, 5 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Vars landbounuus. ⁠Johan Gunter hoor van Elmarie Prinsloo, uitvoerende...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable sunflower production, and the rising...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met...

RSG Landbou: 4 Desember 2025 – geborg deur Husqvarna

In vandag se RSG Landbou is daar meer oor 'n risiko-ontledingstudie vir die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf, aspekte wat in ag...

LandbouRadio: 4 Desember 2025

In Donderdag, 4 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Meyer Louw van die LWO-werkgewersorganisasie vertel wat gebeur...

Dairy industry to greet 2026 without statutory measures

Estimated reading time: 2 minutes The minister of agriculture, John Steenhuisen, has rejected the South African Milk Processing Organisation (Sampro)’s...

Keep exploring...

Landboumarkte: Desember se geelmielieprys die hoogste van 2024

Estimated reading time: 2 minutes Die rand het ’n wisselvallige maand beleef tenoor die dollar en sluit die maand af teen R18,86 teenoor die Amerikaanse...

RMAA Price Information System report for week 5 2025

Estimated reading time: 2 minutes The Red Meat Abattoirs Association (RMAA) is an independent membership-based organisation, which was established in February 1991 with its primary...